Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome voorspel swaar tye in 2019

Die Suid-Afrikaanse ekonomie word deur ’n jaar van enorme uitdagings in die gesig gestaar.

Benewens die uitdagings met Eskom is daar onsekerheid in afwagting van die algemene verkiesing in Mei oor wat die toekoms vir die land se ekonomie inhou.

Dit is volgens die 37 ekonome wat aan vanjaar se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem.

Ekonoom van die Jaar-wedstryd

Die 37 ekonome wat in 2019 aan Netwerk24, BeeldDie BurgerRapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, moet elke maand voorspellings vir 14 ekonomiese veranderlikes doen.

Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur en verbruikers en sakeondernemings kan dit in hul beplanning gebruik.

Abri du Plessis, ekonoom by Gryphon, sê plaaslik is die verkiesing ’n remskoen op verbruikers- en beleggersvertroue.

“Die finansiële gesondheid van veral staatsondernemings – spesifiek Eskom – en hoe hy gefinansier gaan word, gaan bepalend vir Suid-Afrika se kredietgradering en beleggersvertroue wees.

“Wat hierby aansluit, en sekerlik die belangrikste invloed op beleggersvertroue het, is of voorgeskrewe batevereistes ingestel gaan word al dan nie, en in watter vorm,” sê hy.

Die inskrywings vir die wedstryd het reeds op 8 Februarie gesluit. Dit is dus voordat die omvang van die probleme by Eskom bekend geword het.

Koenie Malherbe, ekonoom by Marble Rock Asset Management, sê dit is ’n raaisel hoe Eskom se groot skuldvlakke op ’n meer volhoubare trajek geplaas kan word. “Moeilike besluite sal geneem moet word wat nie by die publiek en/of werknemers gewild sal wees nie.”

Prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en bestuurswetenskap sê weens die inwerkingtreding van die minimumloonwetgewing op 1 Januarie loop Suid-Afrika ook die gevaar van grootskaalse afleggings.

“Die instelling van ’n minimum loon is ’n groot maatskaplike eksperiment en 2019 sal die ekonomiese gevolge van die besluit duidelik toon. Een onbedoelde gevolg kan ongelukkig ’n toename in werkloosheid wees.”

Hy verwag nog ’n groot veranderlike wat die land se ekonomie in 2019 kan beïnvloed, is of die onafhanklikheid en mandaat van die Reserwebank staande gaan bly.

“Hierdie debat word ongelukkig vertroebel deur die feit dat die termyn van Lesetja Kganyago as president van die bank vanjaar verstryk. Volgens wet kan Kganyago heraangestel word en sal steeds uitstekend in hierdie rol wees,” sê Rossouw.

ekonoom van die jaar
Die jongste voorspellings van die 37 ekonome wat vanjaar aan die Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem.

Voorspellings

Ekonome het in Februarie voorspel die ekonomie gaan vanjaar teen 1,32% groei. Dit is hoër as die verwagte 0,8% vir 2018. Daar was ’n standaardafwyking van net 0,35% van dié konsensusvoorspelling.

Een veranderlike waaroor ekonome egter geweldig verskil, is hul verwagting vir die tekort op die lopende rekening in 2019.

André Botha van TreasuryOne het die mees konserwatiewe skatting van R112 miljard, terwyl Christo Luüs van Ecoquant weer meen dit gaan R260 miljard wees. Die konsensusvoorspelling is ’n tekort van R163,15 miljard met ’n standaardafwyking van 66,9%.

Ander konsensusvoorspellings nou, vóór Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede op 20 Februarie, is:

  • Rand/dollar: R13,78
  • Rand/euro: R15,88
  • Goudprys: $1 302,53 per fynons
  • Olieprys: $65,35 per vat
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonoom Van Die Jaar  |  Ekonome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.