Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome: Waar is die detail, Cyril?
Die ontwikkeling van infrastruktuur staan sentraal in die staat se nuwe herstelplan vir die ekonomie. Foto: Pixabay

Waar is die detail oor presies hoe die herstelplan vir die ekonomie gefinansier, geïmplementeer en gemonitor gaan word?

Dit is die vraag wat ekonome vra nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag dié plan in die parlement ter tafel gelê het.

Die groot fokus van die plan is om die ekonomie weer op dreef te kry deur werkskepping, ’n groot fokus op infrastruktuurontwikkeling, te verseker dat die kragprobleme waarmee die land sukkel, opgelos word, en die plaaslike vervaardigingsektor ’n hupstoot te gee.

Emile du Plessis, ekonoom by Finometrica, sê hoewel hy optimisties is omdat die regering uiteindelik praat oor die ekonomie, ontbreek spesifieke fokus in die plan wat voorgelê is.

“Die president was taamlik vaag oor sommige kwessies,” sê hy aan Netwerk24.

“Hy praat van infrastruktuur, maar die projekte wat hy genoem het, is projekte wat reeds aangekondig is. Watter nuwe projekte is daar? Waar gaan die geld vandaan kom? Hoe gaan daar toesig gehou word oor hoe die projekte uitgevoer word, en waar is die spertye?”

Du Plessis sê dit is ook goed en wel om te sê daar moet ’n plan gemaak word met Eskom se skuld, maar daar is nie besonderhede gegee oor wat die plan gaan behels nie.

Hy vermoed dat daar eers duidelikheid oor van die kwessies, veral wat betref finansiering, sal wees oor twee weke wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, sy mediumtermynbegrotingsraamwerk ter tafel gaan lê.

Prof. Raymond Parsons, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê in ’n verklaring hy vermoed ook dit is waar ’n mens sal hoor hoe die staat beplan om alles te finansier.

Casey Delport, beleggingsontleder by Anchor Capital, sê soos dit nou lyk, blyk die plan “meer ’n verhewe wenslys te wees as ’n tasbare beleidsplan wat rondom die ekonomiese werklikheid van Suid-Afrika ontwikkel is”.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom by PSG Wealth, sê wat hom wel beïndruk het, is dat die regering uiteindelik ’n teiken gestel het wat betref ekonomiese groei.

“Die 3% per jaar waarvoor die staat nou mik, is aan die lae kant, maar dit is ’n syfer waarteen die ekonomiese herstel gemeet kan word,” sê hy in reaksie op die plan.

“Dit is ’n fantastiese beginpunt om ’n syfer te hê waaraan vordering gemeet word.”

’n Groot klomp probleme kan opgelos word bloot deur ekonomiese groei moontlik te maak. Die private sektor moet toegelaat word om te groei. Dit is nie die staat se werk om werk te skep nie.
Dawie Klopper

Wat egter glad nie vir hom sin maak nie, is die staat se voorstel om die probleem van werkloosheid op te los deur self meer mense in diens te stel.

“’n Groot klomp probleme kan opgelos word bloot deur ekonomiese groei moontlik te maak. Die private sektor moet toegelaat word om te groei. Dit is nie die staat se werk om werk te skep nie,” sê hy.

Ulrich Joubert, ’n onafhanklike ekonoom, stem saam.

“As jy 800 000 werksgeleenthede wil skep, dan moet jy die omgewing skep waar maatskappye eerder mense as masjiene in diens wil neem.

“Kry die staat uit die ekonomie, dan sal dit klaar baie beter gaan,” is sy raad.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê in ’n verklaring hulle steun glad nie die president se plan nie, en beskryf dit as “hol”.

“Waar is die hervorming van die arbeidsmark, afskaffing van wette, herroeping van skadelike mislukkings soos swart ekonomiese bemagtiging, verlaging in belasting, vermindering van indiensneming in die staatsdiens en die uitbreiding van indiensneming in die private sektor, sluiting van staatsondernemings, ensovoorts?”

Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, meen ook die herstelplan is “baie duidelik nie ingestel op die skep van volhoubare ekonomiese groei nie, maar hoofsaaklik op groter staatsbesteding, begrotingstekorte en staatskuld, terwyl die rol wat die staat in die ekonomie speel, steeds verder sal vergroot”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.