Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomie: ‘As regering nie nóú optree...’

Die regering moet nóú optree.

Om enigiets anders te doen, is ’n wanpraktyk en dreig om Suid-Afrika vir ’n baie lang tyd tot ’n daling in reële inkomste per capita en ’n styging in werkloosheid te verdoem. Gevestigde belange sal gekonfronteer moet word.

Pres. Cyril Ramaphosa toe hy verlede jaar die regering se internasionale beleggingskonferensie in Sandton toegespreek het. Foto: Felix Dlangamandla

Dít is die skerp boodskap van die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemerskap (CDE), ’n ekonomiese en ontwikkelingsdinkskrum gesetel in Johannesburg en gelei deur Ann Bernstein.

Die CDE het sy stem gevoeg by talle kommentators wat daarop wys dat die afgelope mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) ’n wekroep was wat onomwonde wys Suid-Afrika is op ’n onvolhoubare trajek.

Daarin het Tito Mboweni, minister van finansies, gesê ekonomiese groei van 0,5% word vir vanjaar verwag teenoor Februarie se skatting van 1,5%, en dat belastinginvordering vir vanjaar 4% laer sal wees as wat in Februarie verwag is.

Almal weet reeds die land het hervormings nodig wat groei kan versnel, sê die CDE in sy verslag oor die MTBR. Wat egter ontbreek, is die wil om die nodige besluite te neem. Geen regering kan uitgerekte tydperke van stygende werkloosheid en dalende inkomste per capita oorleef nie, so dit is in almal se belang dat die regering beslissend optree.

Mboweni het in die MTBR laat blyk hy sal in Februarie 2020 ’n begroting voorlê om R150 miljard se staatsbesteding te sny. Volgens die CDE is dit duidelik dat hy nog nie die kabinet se volle steun hiervoor het nie.

Volgens die CDE was die skokkendste inligting in die MTBR die omvang waarin vorige ramings die erns van die krisis onderspeel het. Ontleders en die finansiële markte was werklik verras deur die mate waarin die nasionale tesourie self nou raam hoe die staatsfinansies versleg het.

Net agt maande gelede het die tesourie verwag skuld-tot-BBP sal teen 2023 by 60% wees en dan afneem. Die nuwe berekeninge wys nou dit sal teen 2023 al by 71% trek en dan net verder klim tot 81% in 2027. Dít terwyl skuld-tot-BBP in 2008 op 30% was. Die ineenstorting van die land se fundamentele makro-ekonomiese faktore is dus werklik verbasend, sê die CDE.

Die CDE verwys na sy verslag oor fiskale beleid in Augustus wat wys dat as die ekonomie selfs net met een persentasiepunt per jaar vinniger groei as tans, dit groot implikasies vir fiskale volhoubaarheid het. As ekonomiese groei ná die resessie van 2008 jaarliks een persentasiepunt meer was as wat dit werklik was, sou skuld-tot-BBP verlede jaar 44% en aan die daal gewees het, pleks van 63% en aan die styg.

Van die hervormings wat die CDE voorstaan om groei aan te wakker is die volgende voorstelle:

  • Herskryf die mynbouhandves.
  • Kry meer liberale visumreëls vir toerisme in plek.
  • Verkoop die internetspektrum.
  • Maak dit makliker vir geskoolde immigrante om die land in te kom.
  • Sny die onnodige koste om aan bestaande transformasiegefokusde wetgewing te voldoen.
  • Verbeter regulering om sakeondernemings te registreer, belasting te betaal en terug te eis en om bouplanne goedgekeur te kry.
  • Verseker institusionele hervorming, herstrukturering en markliberalisering in sektore wat tans deur swak bestuurde staatsondernemings oorheers word wat meer waarde vernietig as wat hulle waarde skep.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.