Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomie: Die ergste kom nog

Dis kommerwekkend dat die regering se besteding steeds die vinnigste styg.

ouers
Armoede gaan toeneem soos Suid-Afrika die risko loop van ’n langdurige resessie of trae ekonomiese herstel. Foto: Pixabay

In die lig van die staat se reeds opgeblase salarisrekening is dit nóg erger dat dié besteding aangedryf word deur ’n toename in indiensneming, sê Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel.

Hy sê die syfers oor die bruto binnelandse produk (BBP) wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag uitgereik het, is duidelik uit pas uit met die “werklikheid van ons situasie”. “Tito Mboweni, minister van finansies, was inderdaad korrek toe hy verlede week in sy aanvullende begroting gesê het ons reusetaak is om die ‘mond van die seekoei toe te maak’.”

Ackerman sê as die ekonomiese hervormings wat Suid-Afrika “so desperaat nodig het”, nie vinnig realiseer nie, sal die resessie in ’n depressie verander, met ’n lang pad na herstel. “Dit sal nie net tot geweldige fiskale uitdagings vir die land lei nie, maar ook ’n verswakking van baie van ons sosio-ekonomiese uitdagings.”

SSA het bekend gemaak dat ekonomiese groei in die eerste kwartaal van 2020 -2% was, vergeleke met die vierde kwartaal van 2019. Dit beteken die resessie wat in die tweede helfte van 2019 begin het, duur nou al drie kwartale.

LEES OOK: Resessie sleep voort - selfs vóór Covid-19-skok

Daar is nie ’n eenvormige definisie van ’n depressie nie – sommige ekonome beskou dit as negatiewe groei van meer as 10% of as negatiewe groei van meer as twee jaar, terwyl ander dit net as ’n langdurige tydperk van negatiewe of baie lae groei beskou.

Die -2% was beter as die konsensus van -3,8% onder ekonome wat Reuters gepeil het, maar almal is dit eens: Die ergste kom nog.

Die syfers sluit net vyf dae van Suid-Afrika se staat van inperking weens die Covid-19-pandemie in. Die ekonomie het in April bykans stilgestaan, met die uitsondering van die landbou, kosproduksie en die handel in noodsaaklike produkte en dienste.

k

Vir die res van die tweede kwartaal is die ekonomie geleidelik heropen, maar groot dele is steeds agter slot en grendel – soos toerisme.

Die syfers vir die eerste kwartaal weerspieël wel reeds die inperkings wat in die eerste kwartaal ingestel is in van Suid-Afrika se grootste handelsvennote, onder meer China en Brittanje.

Mynbou het met die meeste ingekrimp, naamlik 21,5%. Dis veral weens ’n daling in die produksie van yster- en mangaanerts, van Suid-Afrika se grootste uitvoerprodukte na China. Fabrieke in China het in die eerste kwartaal tot stilstand geknars weens die Covid-19-pandemie.

Sterk jaar vir landbou voorspel

Een van die weinig positiewe elemente van die BBP-syfers is die groei in die landbou, die eerste groei in vier kwartale en teen ’n baie sterk 27,8%. Die landbou het in 2019 baie swaar getrek met groei van -6,9%, onder meer weens droogtes en bek-en-klouseer, maar verwag vanjaar die tweede grootste mielieoes tot nog toe van nagenoeg 15,5 miljoen ton.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, verwag dat landbou vanjaar met gemiddeld 10% sal groei, aangedryf deur gunstige weer wat alle onderafdelings van die landbou sal help. Met die uitsondering van wynproduksie en uitvoer op vlak 5 van die inperking, kon die landbou voortgaan met sake doen in die hele tweede kwartaal.

Hy wys egter daarop dat daar ’n teenstrydigheid is tussen sakevertroue in die landbou en die verwagte groei van die bedryf. Die indeks wat Agbiz saamstel, wys op die swakste sakevertroue sedert 2007-’08 se finansiële krisis. “Die sentiment is dalk laag weens die pandemie, maar die landbou-ekonomie self kan goed vaar danksy die verwagte groot uitset in alle belangrike subsektore van die landbou.”

2020-groei
Ekonome voorspel ekonomiese groei van tussen -7% en -10% vir die voljaar. Die tesourie voorspel -7,2% en die Internasionale Monetêre Fonds -8%.
Besteding op BBP

Besteding op die bruto binnelandse produk (BBP) – ’n aanvullende manier om ekonomiese groei te meet – het in die eerste kwartaal met 2,3% gedaal.

Huishoudelike besteding het wel met 0,7% gegroei, veral danksy hoër besteding aan kos. Huishoudings het minder aan vervoer bestee (danksy goedkoper brandstof) en ook aan klere en skoene.

Ackerman sê huishoudings se besteding verteenwoordig 62,2% van die besteding op die BBP en die tweede grootste bydrae – die een net ná kos – is aan alkohol en sigarette. “Dit onderstreep die belangrikheid van die verbod op die verkope van dié items op vlak 4 en 5 van die inperking, en ook op vlak 3 vir tabakprodukte.”

k

Restaurante, klere en vervoer het reeds in die eerste kwartaal besteding onderdruk, en gaan in die tweede kwartaal selfs swakker syfers oplewer weens die inperking.

Die staat se besteding het met 1,1% gestyg. Dis dié besteding wat vir Ackerman teleurstellend is.

Vastekapitaalvorming het met 20,5% geval. Dis hoofsaaklik omdat ondernemings minder bestee het aan masjinerie en ander toerusting, en aan voertuie en ander bates.

Dis die grootste daling sedert 2008 en Ackerman waarsku dis ’n teken van wat kom. “Ons weet infrastruktuurbesteding het in die tweede kwartaal byna tot stilstand gekom, so ons gaan ’n verdere inkrimping beleef – dalk die grootste daling tot nog toe.”

Volgens die Nedbank-ekonome Nicky Weimar, Johannes Khosa en Candice Reddy lyk die vooruitsig vir die ekonomie mistroostig. Die rekordlae rentekoers kan huishoudings ekstra geld in hul sak gee, maar dit word teengewerk deur ’n verlies aan inkomste – tydelik of deur werkverlies – en ’n algemene gevoel van onsekerheid oor Covid-19 wat mense uit winkels laat wegbly.

“Swak vraag in die algemeen, onbetroubare kragvoorsiening, hoë bedryfskoste, voortdurende beleidsonsekerheid en druk op inkomste weens die Covid-19-beperkings sal sommige maatskappye noop om uitbreidingsplanne uit te stel, wat groei in die private sektor sal ondermyn.”

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.