Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomie: Is hier ’n stuurman aan boord?

Die wêreldekonomie asook finansiële en kommoditeitsmarkte is vasgevang in ’n maalkolk van onsekerheid.

Die handelsoorlog het ’n ernstige impak op die wêreldekonomie, wat in Suid-Afrika deur plaaslike beleidsfoute vererger word, skryf Ulrich Joubert. Foto: Shutterstock

Dit raak ook die plaaslike ekonomie en finansiële markte en lei tot die vraag of daar enigiemand of enige instansie is wat stabiliteit in hierdie onstuimige omgewing kan bied.

Aan die kern van die internasionale onstuimigheid en grootskaalse onsekerheid is die handelsoorlog tussen die VSA en China. Dit beperk wêreldhandel en lei uiteindelik tot ’n afname in wêreldekonomiese groei.

Die bestraffende tariewe wat die VSA op sekere invoergoedere van China hef, sou van 1 September af op alle Chinese invoergoedere van toepassing gewees het. Intussen is aangekondig dat hierdie heffing op sommige invoergoedere tot 15 Desember uitgestel is.

Hoër tariewe maak ingevoerde Chinese produkte duurder vir Amerikaanse verbruikers en maatskappye. Tans word die Chinese ekonomie erger as die Amerikaanse ekonomie getref deur die tariefverhogings omdat China baie meer goedere na die VSA uitvoer as wat die VSA na China uitvoer.

Dit benadeel Chinese ekonomiese groei en kommoditeitspryse. Sommige vervaardigers beplan om hul bedrywighede na ander Asiatiese lande soos Viëtnam of Bangladesj te verskuif.

Internasionale onsekerheid word verder aangevuur deur die voorgenome onttrekking van Brittanje uit die Europese Unie (EU) teen 31 Oktober 2019. Dit lyk asof hierdie onttrekking waarskynlik sonder ’n ooreenkoms gaan gebeur. Dít kan tot ’n resessie in Brittanje lei.

Die uitvoergerigte Europese ekonomieë, soos Duitsland, word nadelig geraak deur die verswakking van die Chinese ekonomie asook die Brexit-onsekerhede.

Ulrich Joubert. Foto: Salomé Fischer

Rentekoers-spiraal

Die verwagte verlangsaming in die groei van die wêreldekonomie lei daartoe dat sentrale banke rentekoerse verlaag. Dit word gedoen in die hoop dat dit hul geldeenhede sal laat verswak, wat hul mededingingsvermoë in die internasionale handelsmarkte verbeter.

Indien baie lande hierdie beleid volg, bly rentekoersverskille egter dieselfde en die onderskeie geldeenhede verhandel dus op dieselfde vlak as voorheen. Die grootste bekommernis is dat rentekoerse in die meeste nywerheidslande reeds só laag is, dat wanneer ’n resessie hulle tref ’n verdere verlaging nie enige impak sal hê nie.

Die onsekerheid wat uit die handelsoorlog tussen die VSA en China spruit, as ook uit die politieke onrus in Hongkong, veroorsaak dat beleggers en spekulante die veiligheid van die staatseffekte van nywerheidslande en van goud opsoek.

Baie Europese lande, en ook Japan, het tans negatiewe rentekoerse op hul staatseffekte met ’n looptyd van tot tien jaar. Kapitaal vlug uit aandelebeurse en uit algemene kommoditeite weens die verwagting dat maatskappywinste en dividende asook die vraag na kommoditeite sal verswak. Die soeke na veiligheid laat geld veral vloei na die VSA, Switserland en Japan wat die dollar, die frank en die jen laat versterk.

Suid-Afrika het sy eie probleme

Suid-Afrika met sy oop ekonomie en goed funksionerende finansiële stelsel, word intens blootgestel aan die internasionale onsekerhede. Ongelukkig vererger die krisis in Argentinië en plaaslike faktore hierdie onsekerhede ter plaatse.

Dié plaaslike faktore sluit in:

  • Die intense magspel in die ANC. Geen noodsaaklike besluite word dus geneem om die beleidsfoute van die afgelope 25 jaar, wat die groeipotensiaal van die ekonomie ondermyn, reg te stel nie.
  • Die voortgesette aandrang op onteiening sonder vergoeding, wat beleggers afskrik van enige langtermyn- vaste beleggings.
  • Die voortgesette aandrang op Nasionale Gesondheidsversekering. Daar is kommer oor die bekostigbaarheid daarvan, dat dit tot die grootskaalse emigrasie van mediese kundiges sal lei, dat staatsinmenging die gehalte van gesondheidsdienste sal verlaag, en dat dit tot korrupsie en die wanbesteding van geld sal lei.
  • Die aandrang op die nasionalisering van die Reserwebank en die moontlikheid van staatsinmenging in monetêre beleid.
  • Die onvermoë om die probleme in staatsondernemings op te los.
  • Die feit dat die meeste munisipaliteite in die land bankrot is en dat die oplossing hiervoor eerder in hoër tariewe en belasting gesoek word as in die doeltreffende aanwending van geld en kostebesnoeiing.
  • Die buitensporige begrotingstekort sonder enige aanduiding dat die regering ernstig is om uitgawes – onder meer salarisuitgawes – te besnoei.
  • Die moontlikheid dat ook Moody’s Investors Service die land se kredietgradering binnekort tot rommelstatus kan afgradeer, wat internasionale beleggings in plaaslike finansiële markte kan beperk.
  • Die feit dat misdaad hoogty vier en korruptes nie voor die hof gedaag word nie.
  • Arbeidsbeleid wat negatief vir indiensneming is en lei tot ’n onaanvaarbare werkloosheidskoers.
  • Die gebrekkige onderwys- en opleidingstelsel.

Gelukkig beskik Suid-Afrika steeds oor ’n goed funksionerende finansiële stelsel en is plaaslike rentekoerse op vlakke wat dit aantreklik maak vir internasionale beleggers en spekulante om in plaaslike geld- en kapitaalmarkte te belê.

Is daar lig aan die einde van die tonnel? Slegs wanneer daar ’n stuurman aan boord is wat bereid is om die moeilike maar noodsaaklike beleidsbesluite te neem. Hopelik sien ons dit binnekort, want die ekonomie brand terwyl op partyeenheid gefokus word!

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.