Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Ekonomie kan nie staking in vervoerbedryf bekostig’

Die Padvragvereniging (RFA) het Dinsdag gesê ’n nasionale staking in die logistieke en vervoerbedryf is nie die oplossing vir die beweerde uitbuiting van vragmotorbestuurders deur vervoermaatskappye nie.

“Die ontevredenheid onder, wat ek beskou as kleinerige splintergroepe, handel nie net oor die aanstelling van buitelanders in die plek van Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders nie, maar ook oor lone, afleggings en onbillike werksomstandighede,” sê Gavin Kelly, voorsitter van die RFA.

Twee vragmotors wat Dinsdag die M2-hoofweg naby Benrose in Johannesburg versper het. Foto: SA Trucker-Twitterblad

“Al dié kwessies moet met die relevante rolspelers uitgesorteer word. Die ekonomie, wat reeds sukkel, kan nie enige verdere ontwrigting bekostig nie.”

Kelly beklemtoon dat hy nie weet wie agter die oproepe vir ’n nasionale staking sit nie, maar hy het vragmotorbestuurders gemaan om versigtig te wees.

SA Trucker het Dinsdag op sy Twitter-blad geskryf dat ’n petrolbom Maandag na ’n vragmotor in Wadeville in Gauteng gegooi is, terwyl twee vragmotors in Vosloorus aan die brand gesteek is. Nog ’n vragmotor is glo onder die klippe gesteek.

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het die voorvalle in Vosloorus bevestig, maar kon nie onmiddellik verdere inligting daaroor gee nie.

“Dit is nie duidelik of hierdie voorvalle verband hou met enige protesaksie nie,” sê hy.

“Twee vragmotors wat Dinsdagoggend vroeg die M2-hoofweg naby Benrose versper het, is verwyder,” sê Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie.

Volgens hom is geen vragmotorverwante geweld Dinsdag in Gauteng aangemeld nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag ’n interdik toegestaan teen ’n beplande staking deur die All Truck Drivers Foundation (ATDF).

“Die ATDF is nie gekant teen enige protesaksie deur ontevrede vragmotorbestuurders wat dit self onder mekaar organiseer nie. Ons het begrip vir hul frustrasies,” sê Sifiso Nyathi, sekretaris-generaal van die ATDF.

“Ons is daarvan weerhou om ’n protesaksie te begin, maar dit gaan ons nie keer om voort te gaan met ’n veldtog teen die indiensneming van buitelanders bo Suid-Afrikaners, waarvan sommiges werkloos by die huis sit nie. Sommige van die buitelanders beskik nie eens oor die relevante dokumentasie om vragmotors te bestuur nie,” voer Nyathi aan.

Anele Kiet, adjunk-sekretaris-generaal van die vervoervakbond Satawu, het Dinsdag gesê dat hy nie bewus is van enige ontevredenheid onder sy lede in die logistieke en vervoerbedryf nie.

“Enige griewe moet op ’n georganiseerde wyse onder die aandag van die Padvragbedingingsraad gebring word sodat dit gehanteer en opgelos kan word,” sê hy.

Ayanda-Allie Paine, woordvoerder van die minister van vervoer, het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Vervoerbedryf  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.