Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomie se herstel is ‘voor die deur’
’n Werker in die Biovac-entstofpakhuis in Johannesburg. Ekonome sê die tempo waarteen Suid-Afrikaners ingeënt word, het ’n impak op die land se ekonomiese groei. Foto: Siphiwe Sibeko, Reuters

Suid-Afrika se ekonomie kan vanjaar met enigiets tussen 2,8% en 5% groei as ’n paar dinge vir ons reg verloop, maar ekonome meen steeds dit kan drie jaar neem voordat produksie tot voor-Covid-19-vlakke herstel.

Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG), is optimisties oor groei van minstens 5% vanjaar, gegrond op ’n rits faktore wat in ons guns tel, waaronder:

  • Sterk herstel in die wêreldekonomie;
  • Sterk plaaslike herstel ná 2020 se verwagte inkrimping van sowat 7%;
  • Gunstige marktoestande in ontluikende markte;
  • Sterk kommoditeitspryse;
  • Amerikaanse rentekoerse wat na verwagting nog lank laag gaan bly;
  • ’n Sterk en stabiele rand;
  • Lae inflasie; en
  • Die 2021-begroting as fiskale keerpunt wat sakevertroue sal versterk.

“Suid-Afrika se herstel is voor die deur en ’n V-vormige ekonomiese herstel is aan die uitspeel,” het Els Dinsdag in OMIG se kwartaallikse ekonomiese aanbieding gesê.

Hy meen 2021 kan die jaar wees waarin Suid-Afrika ’n ommekeer begin maak met beter groeivooruitsigte van meer as 2% per jaar op mediumtermyn. Dít sal ook die land se fiskale risiko verminder.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) verwag die plaaslike ekonomie sal in 2021 met 2,8% groei, die tesourie maak hom gereed vir 3,3% en die Suid-Afrikaanse Reserwebank voorsien 3,5%.

Hoewel daar steeds ’n risiko is dat die planne nie geïmplementeer sal word nie, lyk dit of die tesourie weer sterk staan.
Annabel Bishop van Investec

Jeff Schultz, senior ekonoom van BNP Paribas Suid-Afrika, is ook positief dat sterk kommoditeitspryse vir die res van die jaar die ekonomie sal ondersteun. Die bank het sy groeiverwagting tot 3% verhoog.

Volgens Siboniso Nxumalo, senior portefeuljebestuurder by OMIG, help hoë kommoditeitspryse plaaslike maatskappye se wins, dis goed vir lone en bonusse in die mynbedryf en vir die staat se belastinginkomste, dividendinkomste en beleggingsbesteding.

Schultz waarsku egter ’n kragtekort kan groei belemmer. Eskom se jongste syfers wys hulle kan kwalik enige bykomende, groot onbeplande onderbrekings bekostig en fase 2- tot 4-beurtkrag sal nog vir die res van die jaar met ons wees.

2020 het verbruikers se geldsake seergemaak. Dit, saam met treurige vooruitsigte vir indiensneming, lae of geen verhogings in die private sektor en moontlik laer verhogings in die staatsdiens beteken waarskynlik verbruikers se diskresionêre besteding sal in 2021 beperk wees, sê Schultz.

BNP Paribas meen wel die ekonomiese inkrimping verlede jaar sal effens minder wees op 6,8% vergeleke met die tesourie se verwagting van -7,2%.

Volgens JP Geldenhuys, ’n dosent in die departement ekonomie en finansies aan die Universiteit van die Vrystaat, is die tesourie se groeiverwagtinge van 3,3% te optimisties gesien in die lig van die IMF se voorspelling.

As ons vir die res van die jaar met kragvoorsiening sukkel, twyfel hy baie sterk dat aansienlike ekonomiese groei vanjaar sal realiseer, sê Geldenhuys.

Els erken daar is ’n kans dat fiskale konsolidasie effens afwyk van die teikens wat die tesourie gestel het, sou die staat se salarisrekening nie na wense besnoei kan word nie.

Hy meen egter die regering moet sterk staan oor die bevriesing van salarisse, anders sal hy werkers moet begin afdank.

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, sê Suid-Afrikaners kan hulle gereed maak vir ’n jaar van wisselende ekonomiese aktiwiteit soos Covid-19-inperkings verslap en dan weer strenger word met volgende infeksievlae.

As die inentingsprogram vinnig vorder, kan die ekonomie vanjaar met meer as 2,9% groei, maar as dit sloer en ons moet weer streng inperkings instel, staar die risiko van ’n resessie ons in die gesig, waarsku sy.

Bishop vrees die inentings sal te stadig plaasvind en ekonomiese groei belemmer.

Els meen die 2021-begroting kan ’n keerpunt vir dalende sakevertroue wees.

“Hoewel daar steeds ’n risiko is dat die planne nie geïmplementeer sal word nie, lyk dit of die tesourie weer sterk staan. As hulle die planne kan deurvoer, sal dit baie beteken vir vertroue.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.