Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomie sloer nou éérs

Banke kan in die volgende paar maande met al hoe meer slegte skuld opgeskeep sit, in die versekeringsektor kan al meer polisse verval weens niebetaling en hoër eise sal kom vir onder meer sakeonderbreking, inkomstebeskerming en sterftes.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Voorts word ál groter onttrekkings uit beleggingsfondse verwag soos mense swaar kry in die Covid-19-krisis, sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).

Dít is die druk wat die epidemie op die finansiële stelsel plaas, met groter risiko’s vir finansiële stabiliteit en druk op die winsgewendheid van banke en instellings soos versekeringsmaatskappye, lui die SARB se verslag oor finansiële stabiliteit wat die afgelope week gepubliseer is.

Volgens die SARB het banke verliese aangeteken met finansiële bates wat waarde inboet. Lenings wat 90 dae of langer agterstallig is, gaan toeneem soos verbruikers en ondernemings sukkel in ’n ekonomie wat voor die nasionale inperking voete gesleep het.

Luidens die verslag het die JSE se indeks van alle aandele in die eerste vier maande van 2020 12% van sy waarde ingeboet en die finansiële indeks 32%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Woensdag in ’n aanbieding oor die verslag gesê hoewel daar hoër risiko’s vir finansiële stabiliteit is, is die plaaslike finansiële stelsel veerkragtig, met aansienlike buffers om die skokke te absorbeer.

Alex Smith, hoofekonoom van die SARB se afdeling vir finansiële stabiliteit, het gesê die afgelope tien jaar is groot regulatoriese hervormings ná die wêreldwye finansiële krisis ingestel om banke veerkragtig te maak. Gevolglik het finansiële instellings aansienlike kapitaal- en likiditeitsbuffers opgebou om korttermynskokke of finansieringstres te kan absorbeer.

Kuben Naidoo, hoof van die Omsigtigheidsowerheid wat toesig hou oor banke en finansiële instellings se finansiële gesondheid, het gesê hoewel die Suid-Afrikaanse banke veerkragtiger is as hul internasionale eweknieë, sal die meeste waarskynlik in die volgende jaar of twee verliese aanteken.

Ons finansiële stelsel is besonder goed gekapitaliseer en die buffers is groot genoeg. Maar laat ek ook sê: Suid-Afrikaanse banke is nie immuun teen verliese nie en nie immuun daarteen om onder te gaan nie.
Kuben Naidoo van die Reserwebank

“Ons finansiële stelsel is besonder goed gekapitaliseer en die buffers is groot genoeg. Maar laat ek ook sê: Suid-Afrikaanse banke is nie immuun teen verliese nie en nie immuun daarteen om onder te gaan nie.”

Kganyago het gesê die langertermynrisiko’s vir finansiële stabiliteit hang in ’n groot mate af van die duur en omvang van die ekonomiese en gesondheidsimpak van die virus.

Daarom monitor die SARB die situasie vir enige tekens van finansiële stres by instellings of wanfunksionering van die mark.

Smith het gesê dit kan Suid-Afrika vyf jaar neem om ekonomiese produksie in te haal wat weens die koronapandemie verlore gegaan het. Die land was reeds voor die plaaslike uitbreking van Covid-19 in ’n resessie en volgens die SARB kan die bruto binnelandse produk (BBP) vanjaar met 7% inkrimp. Dit sal die eerste voljaarinkrimping sedert 2009 wees en hou ’n groot skok vir die ekonomie in. Die swakste BBP-vertoning in Suid-Afrika ná die Tweede Wêreldoorlog was in 1992 met ’n inkrimping van 2,1%.

Die ekonomiese skok beteken huishoudings en sakeondernemings se finansies sal onder druk wees, en bategroei en winsgewendheid in die finansiële sektor word bedreig, het hy gesê.

Luidens die verslag raam die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) Suid-Afrika se begrotingstekort sal vanjaar 13,3% van BBP beloop en 12,7% in 2021. Gegewe die reusetekorte, kan bruto staatskuld teen volgende jaar tot meer as 85% van BBP styg. Smith het gesê as dit gebeur, beteken dit staat­skuld as persentasie van BBP het binne 12 jaar verdriedubbel.

Dít raak ook die banksektor omdat banke al hoe meer blootstelling aan staatskuld het. Blootstelling aan staatskuld maak nou meer as 15% van die totale banksektor se bates uit (staatsbeheerde ondernemings, plaaslike, provinsiale en nasionale regering ingesluit), het Smith gesê. Dié persentasie het oor die laaste 12 jaar byna verdubbel.

Die land se staatskuld is reeds onder beleggingsgraad en banke kan nie ’n hoër kredietgradering as die regering hê nie. Volgens Smith is dit omdat Suid-Afrikaanse banke soveel blootstelling aan staatskuld het en die regering die waarborg is ingeval banke sou ondergaan.

Banke se swakker kredietgradering beteken dus hoër finansieringskoste en gevolglik is dit ook duurder vir die Suid-Afrikaanse eindverbruikers om skuld aan te gaan.

– Reuters en Bloomberg bygewerk

Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Banke  |  Vlak 3  |  Bankbedryf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Reserwebank  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.