Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Ekonomieë kan groei, ook in SA’

Sterk ekonomiese groei in Amerika ondersteun hoër kommoditeitspryse en dít kan stukrag gee aan die pas van ekonomiese herstel in ontluikende markte soos Suid-Afrika wat swaar steun op die uitvoer van kommoditeite, sê Gita Gopinath, hoofekonoom van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Gita Gopinath, hoofekonoom van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Foto: Getty Images

Stygende inflasie in Amerika het gevolge vir ontluikende markte, maar die redes vir dié styging bepaal of dit positief of negatief is vir opkomende ekonomieë, het sy Dinsdag op ’n aanlyn bespreking van die Peterson Institute for International Economics (PIIE) ná die IMF se lente-vergadering, gesê.

As inflasie en rentekoerse in Amerika styg danksy goeie nuus soos hoër indiensneming, wakker dit gewoonlik risiko-aptyt onder beleggers aan met gevolglik meer geld wat dan na opkomende markte vloei. Tot dusver is daar meer van die goeie redes ter sprake wat voordelig is vir die finansiële toestande in ontluikende ekonomieë, sê Gopinath.

Die IMF voorspel die wêreldekonomie kan vanjaar met 6% groei, en in Suid-Afrika met 3,1%, teenoor Oktober 2020 se ramings van onderskeidelik 5,2% en 3%.

Volgens die IMF is die beter wêreldvooruitsig gegrond op bykomende fiskale steun in van die grootste ekonomieë, die pas waarteen Covid-19-inentings vorder en hoe ekonomiese aktiwiteit stelselmatig aanpas by inperkings en mense se beperkte beweging.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê uitvoer van minerale is belangrik in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Wêreldgroei van 6% sal ’n hoër vraag na kommoditeite beteken en kan die plaaslike ekonomie ’n hupstoot gee.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het vandeesweek gesê mynbouproduksie was in Februarie 0,8% hoër op ’n jaargrondslag. Volgens Hodes is dié styging grootliks te danke aan ystererts-produksie, wat 65,7% hoër was as ’n jaar gelede, en fabrieke wêreldwyd wat meer vervaardig, het tot ’n hoër vraag na ystererts gelei.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê die beter mynbouproduksie is bemoedigend en verwagte goeie Maart-syfers beteken mynbou kan ’n positiewe bydrae tot BBP-groei lewer in die eerste kwartaal van 2021.

Nedbank sê mineraalverkope wat in Februarie 26% hoër was as in Februarie 2020, wys Suid-Afrika het munt geslaan uit hoër wêreldvraag, hoër kommoditeitspryse en groter doeltreffendheid by ons grootste hawens. Die grootste bydrae tot die styging in mineraalverkope was die platinumgroepmetale (PGM’s) wat 71,5% hoër was, en ystererts en mangaanerts wat 47% en 39,7% hoër was.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa. Foto: ELIZABETH SEJAKE

Hoewel internasionale faktore positief kan wees vir die mynbedryf, is daar plaaslik uitdagings soos beleidsonsekerheid en die risiko van hernieude vlae van Covid-19-gevalle wat ekonomiese bedrywighede kan beperk en herstel vertraag, sê Nedbank.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA (BLSA), het onlangs in haar weeklikse nuusbrief gesê die mynbedryf het ’n groot bydrae gelewer daarin dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in die 2020-’21-belastingjaar nagenoeg R138 miljard meer belasting ingesamel het as wat in die mediumtermynbegroting in Oktober voorsien is.

Voorlopige belasting deur mynmaatskappye was 57% hoër as die vorige jaar, en die betaling van tantieme was ook beter weens die swakker wisselkoers en hoë pryse vir ystererts, PMG’s en goud.

SSA sê ondanks ’n daling van 15,5% in PGM-produksie in 2020, was PGM-verkope 40% hoër danksy hoër pryse.

Volgens Mavuso kon die belastinginkomste uit die mynbousektor nóg hoër gewees het as beleid beter toegepas is. “Stel jou voor die 5 000 aansoeke om mynregte wat op goedkeuring van die departement van minerale hulpbronne en energie wag, is betyds verwerk. En stel jou voor hangende hersiening van mynbouwetgewing en die mynbouhandves was gefinaliseer.”

Die IMF waarsku daar is onsekerheid oor die pas van ekonomiese herstel in die wêreld.

Peter Orszag, ’n direksielid van die PIIE, het in die bespreking gesê die verskil in die pas van ekonomiese herstel het onder meer te doen met hoe inentingsprogramme in verskillende lande vorder om kudde-immuniteit te bereik.

Nagenoeg 86% van mense in die hoë inkomste- en boonste middelinkomste lande is reeds teen Covid-19 ingeënt.

In Suid-Afrika is ekonome bekommerd die gesloer met inentings kan tot hernude Covid-19-vlae lei met gevolglike strenger inperkingsmaatreëls wat ekonomiese herstel in die wiele kan ry.

Suid-Afrika het nog net sowat 0,5% van die bevolking ingeënt.

Meer oor:  Imf  |  Ontluikende Markte  |  Kommoditeite  |  Bbp  |  Covid-19  |  Ekonomie  |  Hulpbronne  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.