Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomiese groei bly rede tot kommer
ekonomiese groei, ekonomie

Dit sal Suid-Afrika tot sewe jaar neem om dieselfde lae vlakke van ekonomiese groei te bereik as voor Covid-19 en die inperking, waarsku ekonome.

Die droewige stand van die ekonomie het die afgelope week geblyk. Foto: Shutterstock

Ekonome verwag ’n jaarlikse groeikoers van minder as 2,5% vir minstens die volgende paar jaar. Dit, sê hulle, is ’n baie groter bekommernis as die skokkende ekonomiese inkrimping van 51% wat die afgelope week bekend gemaak is.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) en kenners het die afgelope week gesê die 51%-inkrimping van die land se BBP gee ’n skeefgetrekte ekonomiese prentjie.

Dit beteken nié die ekonomie het “gehalveer” nie, het Joe de Beer, adjunk-direkteur-generaal van ekonomiese statistieke by SSA, op RSG gesê.

Die werklike insinking van die eerste kwartaal van 2020 na die tweede kwartaal was -16,4%.

Wanneer die tweede kwartaal van 2019 met 2020 vergelyk word, het die ekonomie met 17,1% ingekrimp.

SSA het nog altyd BBP uitgedruk as ’n jaarkoers, oftewel ’n geannualiseerde syfer. Dit beteken basies die aanname word gemaak as die inkrimping van die tweede kwartaal van 2020 sou aanhou vir die res van die kalenderjaar die ekonomie met 51% sou inkrimp, sê De Beer.

Nerina Visser, beleggingstrateeg en ’n markontleder, sê wanneer ’n syfer geannualiseer word, aanvaar jy die verandering in BBP-groei gaan teen daardie selfde tempo voortduur. “Dit skep by mense die idee dat hierdie drie maande die realiteit gaan wees vir die volgende 12 maande.”

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, sê die Covid-19-inperkings het Suid-Afrika in die langste resessie in 28 jaar gedompel, met vier agtereenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping.

Ekonome voorspel ’n inkrimping vir die volle jaar van tussen 6,5% en 10%. Voorspellings vir ekonomiese groei vanaf ’n lae basis in 2021 is egter tot so hoog as 5,2%.

Christie Viljoen, ’n ekonoom by PwC, sê Suid-Afrika sal nie kan staatmaak op ’n V-vormige ekonomiese herstel soos byvoorbeeld China nie.

“Ons gaan nie vinnig terugspring nie. Ons herstel sal eerder U-, W- of selfs L-vormig wees.”

ekonomie

Volgens Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG), het die plaaslike ekonomie die afgelope sowat vyf jaar teen gemiddeld 0,8% per jaar gegroei. As dié lae groei in die vyf jaar ná 2022 volgehou word, skets dit ’n donker prentjie vir staatskuld en die ekonomie kan sekere vermoë permanent verloor.

Kenners sê hoewel sake reeds beter lyk namate die ekonomie heropen, lê die land se heil in volgehoue goeie groei op lang termyn.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê 1,5% groei teen 2021 en daarna is eenvoudig nie genoeg om Suid-Afrika op ’n beter trajek te plaas nie omdat dié syfer gelykstaande is aan die bevolkingsgroei. “Ons gaan eers ’n verskil begin sien wanneer die ekonomie teen 2,5% of meer per jaar groei.”

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê hernieude beurtkrag plaas egter ’n vraagteken oor die vooruitsigte vir ekonomiese herstel.

Viljoen sê ook die onlangse vlaag van beurtkrag kanselleer die positiewe impak van die regering se stimuluspakket in die vorm van rentekoersverlagings en Ters-uitbetalings uit.

Parsons sê die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober moet die nodige leiding verskaf vir die implementering van die lank beloofde hervormings vir volgehoue groei.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag ná die bekendmaking van die BBP-syfers gesê die tyd vir dringende ekonomiese hervorming het aangebreek.

Volgens Ackerman klink Ramaphosa ernstig oor die daadwerklike implementering van dringende stappe om die ekonomie te laat herleef. As die nodige beleidsverandering vaart kry, kan Suid-Afrika selfs groei van 3% per jaar haal.

Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, meen Covid-19 en die inperking is dalk bedekte seëninge op die duur. “Ek het voorheen gesê dit het nog nie sleg genoeg gegaan met die land nie. Miskien was hierdie syfer die skok wat ons nodig gehad het om die regering te laat oorgaan tot aksie.”

Volgens Louw kán Suid-Afrika stewige ekonomiese groei in die volgende drie tot vier jaar hê mits die regering ophou inmeng, burokratiese rompslomp verminder en ophou om die ekonomie te reguleer.

Jeff Schultz, ekonoom by BNP Paribas, is skepties oor of die regering die erns van die situasie besef. “Ons praat al jare oor ekonomiese hervormings. Al die planne is herhalings van voriges.”

Die afgelope week se skoksyfers laat kenners egter glo daar is genoeg ruimte vir die Reserwebank om rentekoerse met nog 25 basispunte te verlaag.

Els grond dit daarop dat die BBP-inkrimping erger was as die SARB se verwagte -40%, dat die bank se inflasieverwagting vir die derde en vierde kwartaal te hoog is, en in die lig van Chris Loewald, hoof van ekonomiese navorsing by die Reserwebank, se opmerking die afgelope week dat die bank nog ruimte het om die ekonomie te ondersteun.

Els sê ’n rentekoersverlaging sal help om vertroue te herstel. In tye van swak vertroue gee mense minder geld uit en spaar meer. Sodra vooruitsigte verbeter, kan dié beter balansstaat tot ’n oplewing in besteding lei.

Hy sê die vervaardiging- en mynbouproduksiesyfers vir Julie is vroeë aanduidings dat beter tye op pad is. Die inkrimping in mynbou het verlangsaam tot 9,1% op ’n jaargrondslag, vergeleke met -27,2% in Junie.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Bbp  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Bbp2002  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.