Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomiese ineenstorting dreig oor Covid-19 – VN

Geen land sal die ekonomiese impak van die koronavirussiekte Covid-19 kan ontsnap nie. En dinge gaan baie slegter raak voordat die beter raak, waarsku kenners.

  

Die Verenigde Nasies se hoofkantoor in New York. Foto: Wikipedia

Die Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling (Unctad) raam konserwatief dat dié koronavirussiekte die wêreldekonomie met tot $1 000 miljard kan laat inkrimp, en dat dit alle lande sal raak.

Unctad het Maandag in ’n verslag gesê die impak van Covid-19 op waardekettings en ekonomiese uitset wêreldwyd neem voortdurend toe.

In sy ergste scenario raam hy dat die groei in die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) in 2020 tot net 0,5% kan verlangsaam. Dít sal daartoe lei dat meer as $2 000 miljard se waarde in die wêreldwye BBP verlore sal gaan.

Hoewel dit moeilik is om te voorspel hoe die internasionale finansiële markte op Covid-19 se gevolge sal reageer, skets huidige gebeure ’n wêreld wat baie angstig is en behoort te wees, sê Richard Kozul-Wright, direkteur van Unctad.

“Daar is nou ’n mate van angs, wat baie ernstig en kommerwekkend is, wat oor baie meer as net gesondheidsrisiko’s gaan.”

Die Verenigde Nasies (VN) verwag onder meer dat Europa nou beslis in ’n resessie sal verval in 2020.

Mohamed El-Erian, hoofekonoom van Allianz, het Dinsdag aan CNN gesê die lys lande wat weens Covid-19 in ’n resessie gaan verval, “gaan net langer word”.

El-Erian sê dis klaar duidelik dat Suid-Korea, Singapoer, Japan, Duitsland en Italië vanjaar resessies sal ervaar.

Brittanje het Dinsdag die derde groot moondheid, ná Amerika en Kanada, geword wat sy rentekoers verlaag om sy ekonomie te beskerm teen die impak van Covid-19.

Die Bank van Engeland het Dinsdag op ’n spesiale vergadering dié land se rentekoers met 0,5 persentasiepunt verlaag.

Só staan sake in Suid-Afrika

Die land bevind hom reeds in ’n resessie, en groeiverwagtinge word toenemend besnoei soos ook sy handelsvennote se ekonomieë weens die virus begin kwyn.

Die Internasionale Monetêre Fonds het onlangs bereken die virussiekte gaan Suid-Afrika se BBP met minstens 0,2 persentasiepunt traer laat groei weens die uitwerking daarvan op veral China, een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote wat tans verlam is deur Covid-19.

Moody’s Investors Service het van meet af aan net groei van 0,4% vanjaar in Suid-Afrika verwag. Met slegs die impak van die virus op handel kan ’n jaar lange resessie Suid-Afrika in die gesig staar sonder dat die uitwerking van die virus op die plaaslike ekonomie self nog verreken word.

Italië verlam, Duitsland broos

Nasdaq, die tweede grootste aandelebeurs in Amerika, het Dinsdag op sy nuusdiens gesê Italië se ekonomie word nou heeltemal verlam deur die verspreiding van die koronavirus wat die siekte Covid-19 veroorsaak.

Italië is tans die Europese land wat die swaarste getref word deur die virus.

Volgens die Nasdaq is Italië se ekonomiese uitset reeds tussen 10% en 15% laer weens die grootskaalse inperkingsmaatreëls wat noodgedwonge deur die Italiaanse regering toegepas word.

k

Volgens Reuters het die Italiaanse regering Dinsdag €10 miljard se fiskale steun aan sy ekonomie aangekondig in ’n desperate poging om die ekonomie te probeer help.

Italië gaan nou selfs die betaling van huisverbande tydelik opskort om miljoene mense te help wat nie normaalweg kan werk of geld verdien nie, berig Reuters.

Die ekonomie van Duitsland, ’n belangrike handelsvennoot van Suid-Afrika, is ook beduidend broos, sê Kozul-Wright. Maar selfs dele van die Europese periferie ondervind ook baie ernstige spanning weens die gebeure die afgelope paar dae, sê hy.

Moody’s Investors Service het sy groeiverwagtinge van die wêreld se 20 grootste ekonomieë vandeesweek gesny.

Volgens Moody’s is ’n wêreldwye resessie beslis moontlik weens die uitbreking van dié koronavirus aangesien die grootste ekonomieë die swaarste getref word.

Hy verwag nou dat die G20-ekonomieë gemiddeld met slegs 2,1% sal groei in 2020, 0,3 persentasiepunt laer as sy aanvanklike raming. Hierdie verwagting is daarop gegrond dat die virus teen die tweede helfte van die jaar onder beheer sal wees.

Groot maatskappye ook onder druk

Citigroup sê vandeesweek dat die wêreld se grootste maatskappye ook nie die rampspoedige impak van Covid-19 sal kan systap nie.

Reuters berig Citigroup verwag nou dat die verdienste van die wêreld se grootste maatskappye vanjaar met 10% sal tuimel weens die virus se uitwerking op waardekettings, vervaardiging en verbruikspatrone.

Volgens die BBC word aandelemarkte wêreldwyd swaar getref en dit begin nou uiters belangrike pensioenfondse én beleggingspatrone belemmer.

Die groot aandelemarkte het in die laaste week van Februarie die swakste gevaar sedert die finansiële krisis in 2008.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het vroeër aan Netwerk24 verduidelik dat die tweede fase van die uitbreking die grootste ekonomiese impak sal hê.

Waar markte in die eerste fase deur vrees afwaarts gedryf word, is die virussiekte nou in sy tweede fase waar reisbeperkings en inperkingsmaatreëls beteken die reële ekonomie word geknou.

Namate al hoe meer fabrieke sluit, waardekettings tot stilstand kom weens beperkte handel en hawens gesluit word, en mense wat moet tuisbly minder geld kan bestee, begin die reële ekonomie krimp.

Van voertuie tot slimfone se verkope is reeds aan die kwyn, berig die BBC.

Volgens Unctad is ’n sogenaamde “oordeelsdag”-scenario vir die wêreldekonomie nie onmoontlik nie.

“ ’n Reeks doelbewuste beleidsreaksies en institusionele hervormings is nou nodig om te voorkom dat wat eintlik net ’n gelokaliseerde gesondheidskrisis in ’n voedselmark in Sentraal-China moes wees, nou verander in ’n wêreldwye ekonomiese ineenstorting,” waarsku Kozul-Wright.

BNP Paribas het Woensdag in ’n verslag gesê “dit gaan eers slegter raak voordat dit beter raak”.

Volgens die VN hang ’n verbetering geheel en al af van die mate waartoe regerings wêreldwyd hul ekonomieë betyds kan ondersteun.

Meer oor:  Italië  |  Europa  |  China  |  Duitsland  |  Covid-19  |  Resessie  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.