Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomiese las van inperking val op werkers, sê verslag

Dit is veral werknemers van maatskappye wat hul deure in die tyd van inperking moes sluit, wat swaar ly onder die ekonomiese las van die Covid-19-pandemie.

Sommige werkgewers verplaas die finansiële druk na hul werknemers deur nie aansoek te doen vir die spesiale tydelike hulpskema (Covid19-Ters) nie en dan werknemers te dwing om betaalde of onbetaalde verlof te neem.

Dít is een van die kernbevindinge van ’n onlangse navorsingsverslag van die Sentrum vir Maatskaplike Verandering aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die nieregeringsorganisasie die Casual Workers Advice Office (CWAO). Die verslag, wat geskryf is deur prof. Carin Runciman van die sentrum en Lynford Dor van CWAO, kyk na werkgewers se reaksie op die huidige omstandighede in die staat van inperking.

Dit is gegrond op die inligting van 75 ondernemings. Die ondernemings, wat tussen groot, klein en mediumgrootte wissel, is meestal in Gauteng, maar ook in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Van dié ondernemings het 35 maatskappye voortgegaan om sake te doen, terwyl die ander 40 vir die inperking gesluit het. Die verslag stel dit dat net nege uit die 40 maatskappye wat hul deure gesluit het vir die hulpskema aansoek gedoen het.

Werkgewers wat nie hul personeel ten volle in dié tyd kan betaal nie, kan vir dié spesiale tydelike verligtingskema aansoek doen. Pleks daarvan word werknemers gedwing om betaalde en onbetaalde verlof te neem.

Die navorsers sê die groot getal werkgewers wat nie hul werkers vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geregistreer het nie, sal ’n ernstige perk plaas op die verligting wat werkers kon ontvang.

Wat die ondernemings betref wat hul werk voortsit, is die navorsers bekommerd oor krake in veiligheidsmaatreëls en beroepsgesondheid.

“Van die 35 maatskappye wat steeds in bedryf is, het 30 nie persoonlike beskermende toerusting verskaf nie, 29 het nie maatreëls ingestel om gesonde afstande in die werkplek te verseker nie, 28 het nie vervoer aan werknemers verskaf nie en 22 bied nie handreinigers nie.”

Voorts het maatskappye wat as noodsaaklik geklassifiseer word, maar ook nienoodsaaklike en luukse goedere produseer, onnodig hul werkers se lewe in gevaar stel, lui die verslag.

Van die voorstelle wat in die verslag genoem word, behels dat:

* die departement van indiensneming en arbeid inspeksies verskerp en ook by groter werkplekke prioritiseer;

* die klassifikasie van noodsaaklike goedere en dienste hersien word sodat werkers nie onnodig hul lewe in gevaar stel nie;

* werkgewers verplig word om vir die Covid19-Ters aansoek te doen as hulle nie werknemers se salarisse in dié tyd kan betaal nie; en dat

* die Covid19-Ters na alle werkers uitgebrei word, ongeag of hul werkgewers tot die fonds bygedra het. – Saamgestel deur Marita Herselman

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.