Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Ek’s moeg vir ’n arm Afrika: Mense, red nou julself!’

Die mense van Afrika het al baie gely onder onregte, minagting en geweld. Die lys van dinge wat Afrikane aangedoen is, is eindeloos en ongeëwenaar in moderne tye, buiten Asië in geografiese en die Jode in etniese terme.

Mpiyakhe Dhlamini

Hierdie onregte teen Afrikane is deur buitestanders én deur Afrikane self gepleeg.

Wat gebeur as mense herhaaldelik en voortdurend onmenslik behandel word op grond van hul ras? As hul geskiedenis gemarginaliseer en weggegooi word asof dit niks is nie?

Ek sou dink dat die selfbeeld van sulke mense laer sal wees as die norm.

Dit is presies wat ons sien in Afrika. Totale volke word deur hierdie minderwaardigheidskompleks gekniehalter. Die teenreaksie is om nie verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie dade nie.

Politici buit dit uit. Hulle kom weg met die afskuwelikste misdade omdat hulle swart is soos ons, en ons laat glo hulle sal ons daarom nie skade berokken nie

Afrikane moet besef hoe die wêreld werk. Niemand loop rond en dink hoe hulle vir ons ons selfrespek kan teruggee nie. Niemand gee regtig om nie, want hulle is besig met probleme wat vir hulle dringender is.

Ons moet verstaan dat niemand Afrika ernstig opneem nie omdat ons ’n ekonomiese non­entiteit is. Terwyl die res van die wêreld maniere vind om die samelewing vooruitstrewend te maak, jaag arm, onseker Afrikane sosialisme na omdat hul politici vir hulle sê as jy swart is moet jy die mag aan politici oorgee.

Dit is wat sosialisme is: dit gee die staat (politici) dit wat eintlik aan private individue behoort. Nasionalisering en onteiening dien daardie doel.

Hierdie siekte is niks meer nie as die manifestering van ons eie onsekerheid. Ons moet die krag vind om daarvan ontslae te raak. Niemand gaan ons kom red nie en die res van die wêreld laat ons agter.

Niemand loop rond en dink hoe hulle vir ons ons selfrespek kan teruggee nie.

Op ’n manier laat Afrikane die ergste vorm van kolonialisme voortbestaan. Daarmee bedoel ek hulle sit die idee voort dat swart Afrikane minderwaardig is omdat hulle niks van waarde skep nie. Ons weet dit is histories onwaar, maar antieke Afrikane het nie met dieselfde minderwaardigheidskompleks geworstel nie. Dit is eintlik die ergste rassisme deur nie mense te vertrou om beheer oor te neem oor hul eie toekoms nie.

Nog ’n gevolg van hierdie negatiewe sielkundige neigings is die haat wat ons vir mekaar het. In Suid-Afrika sien ons xenofobiese aanvalle teen mense van ander dele van Afrika. In Nigerië het die president pas ’n bevel onderteken dat geen buitelanders toegelaat sal word om ’n werk in sy land te verrig wat ’n Nigeriër sou kon doen nie.

Die meeste Afrikaleiers predik Pan-Afrikanisme, maar hulle pas proteksionisme toe.

Die meeste Afrikaleiers predik Pan-Afrikanisme, maar hulle pas proteksionisme toe. Europeërs voel nie sterk oor die konsep van Pan-Europeanisme nie, máár hulle dryf vryelik handel met mekaar.

Is daar iets fout met ons dat ons woorde nie by ons dade pas nie wanneer dit kom by iets so eenvoudig soos om ons grense oop te stel?

Die oplossing vir Afrika se probleme sal nie kom van ’n klas van leiers wat bo almal anders uittroon en in Duitse motors rondgery word nie. Die oplossing moet gevind word by elke enkele Afrikaan deur hulle toe te laat om hul eie toekoms te bou. Dit verg dat die reg op private eiendom en vrye markte eerbiedig word. Dis die enigste weg na iets naastenby soos die vermoënde land Wakanda in die Marvel-fliek Black Panther.

Om dit te doen het ons Afrikane nodig met selfvertroue, wat glo hulle kan skep en produseer. Ons het Afrikane nodig wat glo hulle kan op gelyke vlak meeding met enigeen in die wêreld.

Eksperimente met kollektivisme – van sosialisme tot nasionalisme en etniese stamgebondenheid – vernietig die hoop van ’n nuwe generasie Afrikane. Nêrens in dié ideologieë is daar plek vir die individu nie. Al wat jy sien is ’n groep van ons slegste mense wat besluite vir almal anders neem.

Die mense van hierdie kontinent moet vir hulself begin dink en erken dat die individu altyd die basiese eenheid van die samelewing is. Individue kan net uitdrukking gee aan wat vir hulle die beste is as hulle maksimum vryheid het om hul eie weergawe van geluk na te jaag.

Dit beteken ook dat elke individu presies dieselfde vryheid moet hê. Vryheid behoort aan elke individu. Om dit te beperk op die basis van nasionaliteit, ras of etnisiteit vernietig almal se vryheid. Dit is omdat elke beperking net neerkom op nóg mag aan die regering.

Ek is moeg vir ’n arm en terneergedrukte Afrika. Ek is moeg vir emosionele retoriek wat ons nêrens bring nie. Ek wil deel wees van die generasie wat ons na die beloofde land sal bring. Dit sal harde werk verg om dit te laat realiseer. Maar belangriker, dit sal verg dat ons die potensiaal van die wonderlike mense op hierdie kontinent ontsluit – wat ook al hul stam, ras, godsdiens, geslag of seksualiteit is.

  • Mpiyakhe Dhlamini is ’n navorser by die Vryemarkstigting.
Meer oor:  Vryemarkstigting  |  Fmf  |  Armoede  |  Afrika  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.