Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Eloise maak dalk jou vleis, eiers en mieliemeel duurder

Sikloon Eloise het dalk die hoop dat mieliepryse vanjaar danksy rekordoeste in Suid-Afrika skerp gaan daal, weggespoel.

Eloise
Die laedrukstelsel wat oorbly van sikloon Eloise. Foto: Twitter / SA Weerdiens

Dit beteken dat die pryse van baie kossoorte – van mieliemeel en vleis tot melk, eiers en kaas – dalk langer hoër kan bly as wat voorheen voorspel is omdat mielies sowel mens as dier voed.

Wandile Sihlobo, senior ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê Eloise, wat intussen tot ’n tropiese laagdrukstelsel afgegradeer is, het minstens 3 900 hektaar landbougrond in Mosambiek verspoel waarop hoofsaaklik mielies verbou is.

Dit kan meebring dat meer Suid-Afrikaanse mielies vanjaar na Mosambiek uitgevoer sal moet word om in die land se vraag te voorsien.

Tot voor Eloise is verwag dat stewige oeste in Suid-Afrika se buurlande, insluitend Zimbabwe, Mosambiek, eSwatini en Namibië, uitvoer sal laat daal en daarom pryse weens die verwagte groter ooraanbod van mielies in die land sal afdruk.

Sihlobo het aan die begin van 2020 voorspel dat die prys van mielies, sojabone en sonneblomsaad teen einde Februarie sou begin daal.

Op 21 Januarie het wit- en geelmielies onderskeidelik R3 436 per ton en R3 472 per ton – 14% en 20% hoër as ’n jaar gelede – gekos.

Vee- en hoenderboere en genoteerde kosprodusente het in 2020 gekla dat hoër voerpryse hul winsgrense onder erge druk plaas.

Hoër internasionale graanpryse en die swakker rand het ook die Suid-Afrikaanse graanpryse in 2020 opgejaag.

China dryf ook die internasionale vraag na graan aan, onder meer omdat dié land se varkboere steeds hul kuddes ná 2019 se varkgriep heropbou.

Pryse word ook opgestoot deur droogtes wat tans in dele van Argentinië en Brasilië deur die La Niña-klimaatsverskynsel veroorsaak word. Daarenteen veroorsaak La Niña nat weer in Suider-Afrika.

Suid-Afrika se mielie-oes vir 2020-’21 word nou op 16,5 miljoen ton, teenoor 15,4 miljoen ton in 2019-’20, geraam. Die land verbruik sowat 11,4 miljoen ton mielies plaaslik.

Die verwagte skade van Eloise aan landbougrond en infrastruktuur gaan nie so groot wees soos met sikloon Idai in 2019 nie. Toe is 700 000 hektaar landbougrond vernietig, sowel as die infrastruktuur van Beira se hawe, die land se grootste in- en uitvoerhawe.

Rys en koring van Europa en Asië word deur dié hawe ingevoer. Beira is egter wel weer deur Eloise getref.

Verlede jaar het Mosambiek 2,13 miljoen ton mielies verbou, die derde grootste oes nóg, en die land was op koers om vanjaar rekordoeste te lewer. Onder normale omstandighede voer Mosambiek nog 139 000 ton mielies, asook 632 000 ton rys en 729 000 ton koring in, die mielies hoofsaaklik vanuit Suid-Afrika en Zambië.

Die skade wat die swaar reën aan oeste in Zimbabwe, eSwatini, Botswana en Malawi veroorsaak het, is nog onseker, volgens Sihlobo.

Suid-Afrika se oorskot sal genoeg wees om tekorte in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi aan te vul, raam Agbiz.

In Suid-Afrika verwag Sihlobo dat graanboere nie te veel deur die stormweer geraak gaan word nie. Die stormsterk wind kan egter wel skade aan vrugteboorde en groente- en suikerrietlande in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo aanrig.

Statistieke Suid-Afrika het verlede week bekend gemaak dat ’n gemiddelde trollie kos in Desember 6,2% duurder was as ’n jaar gelede. Dit is die hoogste koers sedert Julie 2017 se 6,8%.

Dis egter steeds ver onder die dubbelsyfers wat in 2016 gesien is toe Suid-Afrika midde-in ’n jare lange droogte vasgevang was. In dié jaar was kosprysinflasie tot 12% (in Oktober en Desember 2016).

Ondanks die onsekerhede wat Eloise meebring, reken Sihlobo dat kosprysinflasie net in die eerste kwartaal van 2021 gaan styg en daarna effens laer gaan wees.

Agbiz se raming is dat kospryse vanjaar gemiddeld met 5% gaan styg.

Sihlobo waarsku dat al die ramings aangepas kan word soos meer inligting oor die impak van Eloise bekend word.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Voedselinflasie  |  Sikloon  |  Vleispryse  |  Vloede  |  Eloise  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.