Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Elvira Wood: Oor Guptas, gargoyles en kontant-keisers
Elvira Wood is 'n sakeverslaggewer in Johannesburg.

’n Hele paar jaar gelede het ek die geleentheid gehad om die katedraal van Notre Dame in Parys op Paassondag te besoek.

Een van die dinge wat my opgeval het van die katedraal, was die styl van die Middeleeuse argitekte om bykans demoniese figure op katedrale as waterspuite te gebruik. Die Engelse woord “gargoyle” is beter bekend.

’n Bietjie navorsing het vinnig getoon dat die waterspuite juis geskep is om so onaardig te lyk dat, sou onheil van buite kom skoor soek, dit so bang sou word vir die “onheil” wat buite op die katedraal sit, dat dit so bekommerd sou word oor presies hoe groot die onheil is wat binne die katedraal skuil, dat dit net daar die pad sou vat.

Met die besonders vinnige vlug in die nag deur die Gupta-familie laasweek, het dit my laat begin wonder, wie of wat het die Gupta-familie só afgeskrik dat hulle eerder laat spaander het?

Wat was erger as al die openbare teenstand, “Zupta must fall” en mediaberigte waarvoor hulle voorheen nie geskrik het nie, dat hulle nou eerder die hasepad gekies het?

Is hul skielike verhuising wel net ’n rookskerm, of het iets of iemand met genoeg politieke of finansiële invloed besluit “genoeg is nou genoeg” ná die poging van opposisiepartye verlede Dinsdag misluk het om pres. Jacob Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas?

Die ergste is: Daar is ’n groot kans dat die waarheid nooit op die lappe gaan kom nie.

Gaan die waarheid seëvier?

                

Die ergste is: Daar is ’n groot kans dat die waarheid nooit op die lappe gaan kom nie.

“Daar is sulke superryk mense in die wêreld dat, wanneer hulle ’n netelige kwessie uit die weg wil ruim waarvan hulle nie wil hê die media moet weet nie, vlieg hulle sommer direk na die betrokke persoon, sorteer die saak mondelings uit en basta met die res,” het ’n vriend van my opgemerk.

Hoewel dit dalk vergesog klink, twyfel ek of die meeste Suid-Afrikaners hulle kan indink hoeveel ’n miljoen rand in kontant is, wat nog te sê miljarde, en watter mag geld regtig gee. En hoewel ons dalk dink dat die Guptas skatryk is nadat hulle na bewering glo ongeveer R6 miljard uit die land geneem het, is daar individue in hierdie wêreld wat oor dieselfde tipe hoeveelheid geld beskik, maar in aansienlik sterker geldeenhede.

Een van die gargoyles van die Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk. Foto: Michael Reeve via Wikimedia

Romeinse Ryk

                          

Die beweringe wat die laaste paar weke aan die lig gekom het, het die indruk geskep dat die Gupta-familie ’n definitiewe plan gehad het (of dalk steeds het), om vir hulle as’t ware ’n Romeinse Ryk te koop waar hulle kan maak en breek soos hulle lus het. (Wat maar te duidelik na vore gekom het met die omstrede troue in 2013 waar hul gaste sommer direk na Waterkloof-lugmagbasis kon vlieg vir hul eie gerief.)

Die idee om ’n land te koop, is nie verregaande nie, solank jy genoeg geld het. Jy kan selfs die Romeinse Ryk koop, wat wel die geval in 193 n.C. was.

Die geskiedenisboeke vertel ná die dood van keiser Pertinax was daar die vraag oor wie hom sou opvolg. Aangesien Pertinax glo juis vermoor is omdat hy geld aan soldate sou betaal het, en die belofte toe nou nie nagekom het nie, het ’n Romein met die naam van Didius Julianus (of soos sy ma hom glo gedoop het: Marcus Didius Severus Iulianus Augustus) besef dat geld dalk die sleutel tot sukses kan wees. Sy skoonpa, Titus Flavius, het ook die gevolgtrekking gemaak en teen die tyd wat Julianus by die wag se kamp opgedaag het, het Flavius reeds met onderhandelinge begin.

Wat toe gebeur het, was glo bloot die blatante opveiling van die Romeinse Ryk. Watter een van die twee kon die meeste betaal? Julianus met sy aanbod van 25 000 sestertii per soldaat het nie net as wenner uit die stryd getree nie, maar ook as keiser.

Die opveiling van die ryk het glo vir jare daarna die manier geword hoe nuwe keisers verkies is.

En die opveiling van die ryk het glo vir jare daarna die manier geword hoe nuwe keisers verkies is. Julianus het wel duur betaal vir sy ryk. Hy was keiser vir nege weke lank toe iemand met ’n groter beursie, Septimius Severus, die ryk gekoop en Julianus summier die doodstraf opgelê het.

Hoogste bieër

                             

’n Mens kan definitief nie sê dat Suid-Afrika te koop is aan die hoogste bieër nie, veral nie met die hewige uitroep van die algemene publiek asook die opposisiepartye wat juis aangedring het dat halt geroep moet word nie, maar dat daar waarskynlik gebeure plaasvind waarvan die gewone kieser nooit eens bewus is nie, is glad nie te verregaande nie.

Dalk is daar ’n Septimius Severus wat vir die Guptas laat weet het dit is dalk beter om eerder ’n ander ryk te gaan soek om te koop as om verder te probeer om Suid-Afrika vir hulself in te palm.

Dalk was die besluit deur die persoon, groep of instansie dat daar nie verder gesukkel gaan word om van Zuma ontslae te raak nie en eerder direk die groep wat hulle die meeste pla uit die pad te kry, naamlik die Guptas.

Maar wie weet, dalk het die Guptas doodeenvoudig besluit hulle is moeg vir al die drama en wil eerder die gerief hê om die Indiese Premierkrieketliga in Indië te gaan kyk.

Dalk is daar iewers tog in hul oë ’n onheil wat vanuit die katedraal van Suid-Afrika vir hulle loer en is hulle weg voor hul keiserlike loopbaan dieselfde pad loop as Julianus s’n.

Of ons kinders ooit die ware verhaal in die geskiedenisboeke sal kan lees, sal gesien moet word. Net soos die geval met die Romeine, sal dit waarskynlik ’n lang tyd neem voor ons regtig sal uitvind wat agter die skerms gebeur het.

* Elvira Wood is 'n Sake-verslaggewer vir Netwerk24 en Beeld. Sy het 'n PhD in kommunikasiestudies.

Meer oor:  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.