Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Emigrasie: Dié 3 lande is gewildste vir SA rykes

Suid-Afrika het in net vyf jaar meer as 6 000 ryk en ultra-ryk burgers verloor omdat hulle die land vrywillig vaarwel toegeroep het om ’n nuwe heenkome vir hulself in ander lande te soek.

Belastingimplikasies word as een van die hoofredes aangevoer waarom ryk Suid-Afrikaners besluit om te emigreer. Foto: Unsplash

Volgens die Knight Frank’s Wealth-verslag van 2021 het die aantal Suid-Afrikaners wat aan die toppunt van die land se rykdom-leer staan, van 2015 tot 2020 met 12% gekrimp.

In 2015 was daar 50 823 dollarmiljoenêrs in die land, maar teen 2020 het die syfer gedaal tot 44 605. Dit beteken tot 6 218 Suid-Afrikaners in die inkomstegroep het sak en pak padgegee.

Aan die begin van 2015 was daar 910 superryk Suid-Afrikaners, met ander woorde mense wat bates van meer as $30 miljoen het, maar teen 2020 was daar net 742 oor.

Redes vir emigrasie

Ralph Wichtmann, ’n konsultant by Sovereign Trust, sê politieke onstabiliteit, veiligheid, sekuriteit, onderrig, te min werkgeleenthede en ’n wispelturige rand is van die vele redes wat dié individue gee wanneer hulle Suid-Afrika as hul permanente tuiste prysgee.

Die aantrekkingskrag van ander lande lok ook baie van dié mense. Faktore soos ’n veilige heenkome vir hul families, goeie medies en gratis of bekostigbare onderrig vir kinders speel ook vir baie emigreerders ’n groot rol.

Ekspat-belasting

Volgens Wichtmann speel belasting ook ’n baie groot rol in hoë-inkomste-verdieners se besluit oor die opsie om te bly of te gly.

Die Inkomstebelastingwet is verlede jaar gewysig en sedert 1 Maart 2020 word Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, belas vir inkomste bo R1,25 miljoen.

Voorheen het Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, nie belasting op daardie inkomste betaal nie indien hulle langer as 183 dae in enige 12 maande, en langer as 60 dae aaneen, in die buiteland gewerk het.

Hoewel die bedrag van R1,25 miljoen dalk ruim lyk, moet in ag geneem word dat dit ook enige byvoordele en toelae insluit wat voorheen ook nie belas is nie, sê Wichtmann.

LEES OOK: Ekspat-taks boemerang – baie emigreer

“Boonop betaal baie Suid-Afrikaners wat oorsee geld verdien, reeds plaaslik belasting in hul gasheerlande.”

Die koers wat bereken word, kan so hoog wees as 45%, want dit word volgens Suid-Afrika se belastingtabelle bepaal, sê hy.

“Die instelling van die ekspat-belasting het baie Suid-Afrikaners wat die land verlaat het, maar dit nog nie formeel as emigrasie afgehandel het nie, ook laat wonder of dit nie beter sal wees om eerder net te emigreer nie.”

Daar is veral drie lande wat Suid-Afrikaners sterk oorweeg as gunstige alternatiewe.

Wichtmann sê Brittanje, Portugal en Australië is boaan die lys lande waarheen Suid-Afrikaners wil emigreer.

Gewilde lande onder Suid-Afrikaners wat wil emigreer

Brittanje bly steeds ’n baie gewilde bestemming vir Suid-Afrikaners wat op die uitkyk is vir meer en beter werkgeleenthede oorsee.

Die land bied ook onderrig van hoogstaande gehalte en goeie lewenstandaarde is moontlik.

Australië het volgens hom ’n gesonde ekonomie en ’n diverse bevolking.

Teen die einde van Junie 2018 het 189 230 gebore Suid-Afrikaners in Australië gewoon. Die getal is 46,9% meer as wat dit tien jaar gelede op 30 Junie 2008 was.

“Die land se goeie gesondheidstelsel en onderwys maak dit steeds een van die aanloklikste lande waarheen Suid-Afrikaners graag wil emigreer.”

Portugal is een van die gewildste Europese lande vir veral families wat permanent na verblyf in die Europese Unie soek.

Die land se duidelike en deursigtige belastingreëls en goeie infrastruktuur, tesame met ’n gunstige klimaat, maak dit ’n baie gewilde bestemming.

Meer oor:  Toerisme  |  Bestemmings  |  Emigrasie  |  Rykes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.