Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Emigrasie: Suid-Afrikaners stem met hul voete!

Daar is geen akkurate statistieke oor emigrasie vanuit Suid-Afrika beskikbaar nie. Statistieke Suid-Afrika (SSA) publiseer lank reeds nie meer data oor selfverklaarde emigrasie nie.

emigrasie
Suid-Afrikaners emigreer steeds in groot hoeveelhede. Foto: iStock

Anekdotiese bewyse, onder meer uit die huismark en van emigrasiekonsultante, wys reeds geruime tyd dat emigrasie aan die toeneem is.

Ook die waarneming van vriende, familie, bure en kollegas wat die land verlaat, moet ’n bron van kommer vir alle Suid-Afrikaners wees – veral omdat die land ’n kritieke tekort aan vaardighede, ervaring, kapitaal en entrepreneurs het om die ekonomie weer op te bou ná jare van korrupsie, wanbestuur, swak beleidskeuses en verwaarlosing deur die regering, munisipaliteite en staatsondernemings.

Een emigrasiebron wat nie gereeld genoem word nie, is om te kyk na die netto getal mense wat die land op internasionale vlugte verlaat. Die data wys dat heelwat meer mense die land vanaf lughawens verlaat as dié wat inkom. Dit dui daarop dat Suid-Afrikaners lank reeds ontevrede is met die stand van sake hier.

Die data is uiteraard nie volmaak nie, want daar is geen inligting oor die werklike getal mense wat emigreer teenoor diegene wat terugkeer huis toe nie, asook geen ander inligting om die ekonomiese impak van emigrasie te bereken, soos die welvaart van mense wat emigreer, hul kwalifikasies, ouderdom en gesinsgrootte nie.

Daar kan byvoorbeeld ook mense van Europa af per pad na Suid-Afrika vanaf Noord-Afrika reis en terugvlieg Europa toe of mense wat met ’n passasierskip aankom en terugvlieg wat die getalle kan beïnvloed, maar dit is heel waarskynlik baie klein.

Internasionale lugreise speel ’n baie belangrike rol vir Suid-Afrika, gegewe die land se verafgeleë ligging vanaf en na die gewildste bestemmings. Daarom is die data dus ’n goeie bron om na netto emigrasietendense te kyk.

Verder kan ook aangeneem word, gesteun deur die inligting van emigrasiekonsultante, dat die meeste mense wat internasionaal per vliegtuig emigreer, verder opgelei, vaardiger en meer welgesteld is. Hulle kan dit bekostig om vliegtuigkaartjies te koop, om hulle en hul gesin oorsee te vestig of het die regte vaardighede of kwalifikasies om internasionaal in aanvraag te wees (besighede betaal soms vir verhuising en vliegtuigkaartjies).

Volgens data van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika was die netto getal mense wat Suid-Afrika internasionaal per vliegtuig verlaat (internasionale passasiers wat vertrek minus internasionale aankomste) van April 2006 tot Februarie vanjaar 881 561 mense. Dit is 607 156 sedert 2014, wat die toename in migrasie gedurende oudpres. Jacob Zuma se administrasietydperk aandui.

Die jaarlikse getal passasiers wat Suid-Afrika verlaat het, het in 2017 ’n hoogtepunt bereik toe ’n netto getal van 137 913 mense internasionaal per vliegtuig vertrek het. Tydens verlede jaar se onsekerheid weens Covid-19, met internasionale reise wat lank onderbreek was, het ’n netto getal van 13 274 passasiers steeds die land verlaat en gedurende die eerste twee maande van vanjaar het dit tot 26 738 gestyg.

Die tendense word verder deur die FNB se eiendomsbarometer ondersteun, wat voortdurend wys dat emigrasie een van die belangrikste redes is waarom welgestelde gesinne hul eiendom verkoop.

Volgens die Januarie 2021-publikasie het 24% van die mense wat hul eiendom ter waarde van meer as R3,6 miljoen in die laaste kwartaal van verlede jaar verkoop het, emigrasie as die rede aangedui.

Van die mense wat eiendomme ter waarde van tussen R2,6 miljoen en R3,6 miljoen verkoop het, het 21% aangedui dat emigrasie die rede is.

Terwyl mense wat van oorsee af terugkeer, waardevolle vaardighede en ervaring kan terugbring, dui die data aan dat baie meer mense die land verlaat as wat terugkeer of wat na Suid-Afrika per vliegtuig emigreer.

Dit het ’n negatiewe impak op ekonomiese groei, werkskepping en belastinginvordering. Dit beïnvloed ook potensiële ekonomiese groei en kan enige plan van die regering om Suid-Afrika op ’n hoër volhoubare groeipad te bring in gevaar stel.

Baie hoër vlakke van groei is nodig om ekonomiese toestande te verbeter en om werk vir miljoene mense te skep. Sonder veel hoër vlakke van ekonomiese groei sal die regering ook sukkel om genoeg belasting in te vorder om sy toenemende skuldlas onder beheer te hou.

Die netto getal mense wat emigreer, sal waarskynlik ná die Covid 19-pandemie toeneem, tensy die regering baie vinnig ’n beter omgewing begin skep deur sy beleidskeuses en aksies te verander sodat dit bevorderlik vir vertroue in die toekoms van die land is.

  • Johannes Jordaan van Economic Modelling is 2019 se Ekonoom van die Jaar in Netwerk24, Die Burger, BeeldVolksblad en Rapport se kompetisie. 2020 se Ekonoom van die Jaar word in September aangewys.
Meer oor:  Johannes Jordaan  |  Breinkwyn  |  Sakesiening  |  Emigrasie  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.