Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Entstof nog nie hier, reeds kommer oor korrupsie

Sakeliggame is bekommerd dat bedrog met die verskaffing van entstowwe gaan insluip – soos gebeur het met die verkryging van beskermende toerusting vir die bekamping van die Covid-19-pandemie.

George Sebulela, uitvoerende hoof van die South African United Business Confederation (SAUBC).

George Sebulela, uitvoerende hoof van die South African United Business Confederation (SAUBC), maan dat die regering verkrygingsprosesse nougeset moet volg sodat korrupsie nie plaasvind nie.

Hy het deelgeneem aan ’n paneelbespreking wat die Progressive Business Council, ’n inisiatief van die ANC, Dinsdagmiddag gehou het. Die aanlyn bespreking het gevolg op ’n voorlegging deur verteenwoordigers van die departement van gesondheid oor hoe die land se entstofprogram gaan werk.

Ander deelnemers aan die bespreking het ’n pleidooi gelewer dat jong mense, vroue en klein sakeondernemings ook geleenthede gegee word in die sakegeleenthede wat uit die entstofprogram voortspruit.

Bright Hlongwane, sekretaris-generaal van Youth in Business, sê hy hoop dat jong sakelui geleenthede gegun sal word te midde van die Covid-19-pandemie. Hy sê volhoubare ontwikkeling is onmoontlik totdat jong mense insae gegee word.

Suid-Afrikaanse jong mense is vaardig en gewillig om aan die land se toekoms te help bou, het Hlongwane gesê.

Zama Khanyile, president van die African Women Chartered Accountants, het haar teleurstelling uitgespreek dat die entstowwe alles ingevoer word.

Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, het verseker dat daar geleenthede sal wees vir maatskappye in die logistiekbedryf om te help om die entstof te versprei. Kontrakte sal nie net aan groot ondernemings gegee word nie, het hy belowe. Hy het egter ook gesê gegewe die baie streng vereistes vir die temperature waarteen die entstof geberg en vervoer moet word, sal kontrakte net toegeken kan word aan maatskappye met die nodige vermoë.

Pres. Cyril Ramaphosa sê hy glo dat Afrika self die wetenskaplikes het wat entstowwe kan ontwikkel en ’n omgewing moet in elke land op die vasteland geskep word om daardie talent na vore te laat kom.

“Ek het met ’n paar wetenskaplikes vergader, en ons gaan met nog baie ander vergader, waar ons hulle gaan uitdaag om die vasteland se uitdagings op te los.

“Ons betree nou ’n tyd waar daar meer en meer pandemies gaan wees, en ons kan nie net staan en kyk hoe entstowwe ingevoer word nie. Ons moet wakker word en ons eie begin ontwikkel.”

Hy sê Afrika het innovasie broodnodig en Suid-Afrika, as die mees ontwikkelde land op die vasteland, moet die voortou neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.