Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Entstof-optimisme ondanks 3de vlaag’

Ondanks die risiko van ’n derde vlaag Covid-19-infeksies, is daar redes vir entstof-optimisme omdat Suid-Afrika nader kom aan ’n openbare inentingsprogram wat waarskynlik teen Julie in volle gang sal wees.

RMB
James Formby, uitvoerende hoof van RMB.

Die inenting van mense ouer as 60 jaar sal na verwagting op 17 Mei begin.

”Ons is stadiger as baie lande om ons mense te laat inent. Ons versamel egter nou entstowwe en ons is hoopvol dat grootskaalse openbare inentings binnekort sal begin danksy deurlopende samewerking tussen die regering en die private sektor,” sê James Formby, uitvoerende hoof van die beleggingsbank RMB, ’n filiaal van FirstRand.

Dit word nou alom aanvaar dat die derde vlaag hier is – 2 759 nuwe gevalle is op Woensdag 13 Mei aangemeld en die land het nou 27 239 aktiewe gevalle – maar Formby sê dis moeilik om die hoeveelheid van die getalle te skat.

”Ons is wel optimisties omdat ons die Johnson- en Johnson- en Pfizer-entstowwe bymekaarmaak en daar tans stelsels ingestel word om die inentingsproses landwyd in werking te stel.

“Teen die einde van die jaar sal ’n groot getal mense ingeënt wees. Dit sal help om die gesprek oor die land te verander van ’n plek wat vermy moet word en waar inwoners deur ‘gevaarlys’-reisbeperkings aan bande gelê word. ”

Toerisme só gehelp

Formby sê die entstofprogram moet so gou as moontlik begin om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat herleef, veral vir bedrywe soos toerisme en gasvryheid, wat baie swaar getref is.

Toerisme gee werk vir ongeveer 5% van Suid-Afrika se arbeidsmag.

RMB
Jessica Spira, sektorhoof vir gesondheidsorg en gasvryheid by RMB.

Jessica Spira, sektorhoof vir gesondheidsorg en gasvryheid by RMB, sê dis tans “ongelooflik moeilik” vir die gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika.

“Hotelle se besetting is byvoorbeeld nou gemiddeld 20%, wat duidelik nie volhoubaar is nie. Vir baie is hul strategie om net aan te hou tot die tweede helfte van 2022, wanneer ons verwag dat internasionale toeriste na Suid-Afrika sal begin terugkeer. ”

Spira sien ’n ligstraaltjie te midde van die moeilike situasie. Suid-Afrika kan eindelik baat vind by ’n verskuiwing na buitelug- en ervaring-gegronde toerisme as reis weer op dreef kom.

‘Wêreldwyd verwag ons dat toeriste gewilde stedelike kultuurbesoeke soos Parys en Londen sal vermy, en eerder ervarings soos safari’s, strande en avontuursport sal verkies. Suid-Afrika is baie goed hiervoor geplaas.

“Solank ’n groot deel van die bevolking teen volgende jaar ingeënt is, kan ons ’n herlewing in internasionale toerisme sien namate vertroue herstel word.”

Spira meen baie uitdagings lê voor.

“Ons moet beslis die getal entstowwe in die land vermeerder, en ons moet verseker dat die logistiek van die inentingsproses ook werk. Dit beteken dat die nasionale departement van gesondheid se elektroniese registrasiestelsel (EVDS) stabiel en funksioneel moet wees.

“Ons moet ook vertrou dat die meeste mense die wetenskap volg en inenting kies.

“Soos in alle lande, sal daar ’n deel van die bevolking wees wat nie ingeënt wil word nie. Dis die rol van openbare gesondheid en ook werkgewers om te verseker dat mense weet wat die voordele van entstowwe is en om hulle te help om na inentingsentrums te kom.

“Om ingeënt te word, is ’n goeie idee.”

Die mees onlangse studie, die Nids-Cram-peiling, toon dat 55% van Suid-Afrikaners beslis ingeënt wil word en nog 16% waarskynlik. Daar is egter ook 16% van mense wat glad nie ingeënt wil word nie.

Spira reken dat inentings nooit verpligtend sal word nie.

Tyd vir terugkeer kantoor toe?

Formby reken mits die Covid-getalle laag bly, is daar verdienste in ’n geleidelike terugkeer kantoor toe.

Dis volgens hom noodsaaklik vir vaardigheidsontwikkeling en sal ook die ekonomie help.

“Hoewel werk van die huis af bewys het dat ’n verspreide werksmag produktief kan wees, is daar ’n toenemende gevoel van isolasie onder werknemers namate sosiale verbintenisse afneem en mense minder vertroud raak met ’n breër netwerk binne-in organisasies.

“Ons verkies ’n gemengde benadering wat tyd op kantoor met afstandswerk vermeng.

“As alle interaksies deur skerms geskied, gaan baie verlore in idees, samewerking, kreatiwiteit en natuurlik die genuanseerde leer en ontwikkeling van meer junior werknemers.

“Mense in dienste-ondernemings moet aan kantoortyd dink as ‘tyd om minder te werk en meer betrokke te raak’,” sê Formby.

Meer oor:  Rmb  |  Firstrand  |  Entstof  |  Entstofprogram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.