Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Eskom seniors en ander weier veiligheids-klaring

Senior Eskom-bestuurders tel onder talle staatsamptenare wat verpligte veiligheidsklaring deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) weier.

A metal sculpture stands outside the headquarters
Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Getty Images

Van die 121 Eskom-bestuurders wat veronderstel is om deur ’n klaringsproses te gaan, het 100 die proses geweier, het Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Skoor het Dinsdag in ’n verklaring gesê sulke wangedrag lei regstreeks daartoe dat “misdaad, bedrog en die wanbestuur van staatsgeld” voortduur.

Die SVA sê die probleem strek wyer as Eskom.

Volgens Skoor weier staatsamptenare en werknemers van staatsondernemings dat die SVA hulle noukeurig bekyk.

Dit is nie veronderstel om opsioneel te wees nie. Die kabinet het reeds in 2014 ’n resolusie aanvaar wat dit verpligtend maak dat alle amptenare in die voorsieningskettingbestuur veiligheidsklaring kry.

Maar net 48% van alle aansoeke vir veiligheidsklaring deur die SVA is al voltooi.

Die agterstand is deels weens personeeltekorte by die SVA en omdat die beleid nog nie deurgevoer is om die kabinetsbesluit af te dwing nie.

Dlodlo het aan Skoor gesê weens ’n personeeltekort maak die SVA baie op ander staatsinstansies soos die polisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vir inligting staat, berig TimesLive.

Mada Scott, Dlodlo se woordvoerder, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê die SVA het al verskeie kere aan die regering gesê dat sy werksaamhede gekniehalter word. Die jongste geval, sê Scott, was tydens Julie se begrotingsposdebat.

Terwyl die SVA dus wag op steun van die regering, oorweeg hy dit om van sy eie veterane terug te roep om sy kapasiteit aan te vul.

Op die vraag wat die SVA kan doen as amptenare veiligheidsklaring weier, het Scott gesê kragtens bestaande beleid word op die direkteur-generaal van die betrokke departement staatgemaak om stappe te doen.

Skoor sê die situasie kan verskriklike gevolge hê wat wyer as bedrog en korrupsie kan uitkring.

Skoor het Dinsdag gehoor die vermeende verkragter en moordenaar van Uyinene Mrwetyana, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, het weens sy misdaadgeskiedenis nie sy veiligheidsklaring geslaag nie.

Die SVA het dié inligting aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor oorhandig, maar die Poskantoor het dit geïgnoreer.

“Die komitee sal die maatreëls om die agterstand in te haal, monitor deur middel van kwartaallikse verslae wat die SVA sal moet inhandig,” sê Skoor.

“Die SVA verwag dat die proses om die agentskap reg te ruk teen September 2020 afgehandel sal wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.