Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Eskom-skok eis sy tol van die rand

Die verswakking Woensdag laatmiddag in die rand se wisselkoers teen die dollar tot R15,18 het handelaars laat kopkrap oor die rede.

Die rand het verswak ná die nuus dat Eskom aan beleggers oorsee gesê het hy wil die meeste van sy R440 miljard skuld na die staat oordra.

Reezwana Sumad, ontleder van Nedbank se korporatiewe en beleggingsbankafdeling (CIB), het in ’n nuusbrief gesê dit is die nuus oor Eskom se skuldsituasie wat hom Woensdag tot R15 laat verswak het.

Die rand het verswak ná die nuus dat Eskom aan beleggers oorsee gesê het hy wil die meeste van sy R440 miljard skuld na die staat oordra.

LEES OOK: Eskom wil skuld na staat skuif

Die punt bo R15 teen die dollar het blykbaar outomatiese snellers van sekere kopers laat inskop, wat plaasvind wanneer ’n sekere vlak bereik word, en dit het die rand tot R15,18 gestuur, volgens Nedbank CIB.

Teen sluiting het die rand weer tot rondom R15,09 teruggesak.

Gedurende verhandeling oornag oorsee het die rand matig herstel en Donderdagoggend vroeg op R14,99 verhandel.

Volgens Sumad duur die rand se swak verhandeling voort. Die druk kom van plaaslike nuus en die huidige onsekerheid internasionaal weens die twis oor handel tussen China en Amerika asook die swak vooruitsigte vir die groei in die internasionale ekonomie.

Die langnaweek wat voorlê, kan ook ’n impak hê. “Maar die mark gaan versigtig bly ten opsigte van die vlakke van die staatsondernemings se skuld en ’n gebrek aan ’n betekenisvolle omkeerstrategie om dit op te los.”

Dit is moontlik dat die rand vandag tussen R14,85 en R15,15 kan verhandel.

Deon Kohlmeyer van die vaste-inkomstespan van RMB het in ’n nuusbrief gesê die rand het 20c gestyg ná die opmerkings van Eskom se amptenare dat hulle wil hê dat die deel van sy skuld wat deur die staat gewaarborg word, na die regering se balansstaat verskuif.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van navorsing van RMB Global Markets, het gesê die rand kan weer verby R15,06 verswak as aptyt versuur weens sensasionele nuus soos dié Woensdag oor Eskom wat verdere ondersteuning van die regering wil hê.

Die bespiegeling in die mark oor Suid-Afrika wat dalk bakhand na die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) moet gaan, het wel wisselvalligheid in die skuldmark veroorsaak, waar dit opbrengskoerse op staatseffekte beïnvloed het, volgens Nedbank CIB.

Sy meen die hoof van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, se uitsprake Woensdagmiddag oor Suid-Afrika se vermoë om te voorkom om bakhand na die IMF te gaan, sal dalk die mark kalmeer.

Ramkhelawan-Bhana meen die skerp daling in die olieprys bied ’n tikkie vertroosting omdat dit die handelsbalans van Suid-Afrika sal verbeter en moontlik verligting vir verbruikers kan bring.

“Ons kan net hoop dat die swakker rand nie heeltemal die voordeel van die laer olieprys gaan teenwerk nie.”

Die olieprys het Woensdag met amper 3% gestyg tot $57,91 ná die nuus dat Saoedi-Arabië ander olieprodusente gekontak het om maniere te bespreek om die daling in die olieprys in toom te hou.

Die olieprys is egter steeds 11% laer as van die begin van die maand af en amper 20% laer as ’n jaar gelede.

Die JSE het Woensdag weer effens hoër gesluit en beide die indeks van alle aandele en top-40 is 0,3% op.

Die indeks van banke het die sewende dag agtereenvolgens laer gesluit.

Terselfdertyd het die indeks van goudmynaandele vir die vyfde dag agtereenvolgens hoër gesluit, volgens Nedbank CIB.

Die goudprys het Woensdag op sy hoogste vlak in ses jaar op $1 500 per fynons gesluit.

Meer oor:  Rand  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.