Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Eskom, virus beduiwel SA ekonomie in 2020

Probleme by Eskom en die koronavirus Covid-19 gaan van 2020 ’n moeilike jaar maak vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die 39 ekonome wat vanjaar deelneem aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd wat deur Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad aangebied word, is dit eens dat Eskom se probleme ekonomiese groei onder druk gaan plaas.

’n Passasier dra ’n masker by die treinstasie in Shanghai. Foto: Reuters

Ekonome se konsensusvoorspelling nadat hulle hul eerste voorspelling vir die jaar ingedien het, is ekonomiese groei van 0,57% in 2020. Die standaardafwyking is net 0,48, wat beteken hulle stem saam dat die prentjie donker lyk.

Die mees optimistiese voorspelling is dié van Johann Els van Old Mutual Beleggings. Hy voorspel groei van 1,5%.

Die mees pessimistiese vooruitsig is dié van Fanie Brink, ’n onafhanklike ekonoom: die ekonomie gaan met 1% krimp.

“Probleme by staatsondernemings, veral by Eskom, beperk die potensiële groei in 2020 en plaas in die algemeen onnodige druk op die nasionale fiskus om jare van verwaarlosing en wanbestuur te probeer herstel,” sê Frank Blackmore, hoofekonoom van EFConsult.

Jeff Schultz, hoofekonoom by BNP Paribas en een van die nuwe deelnemers aan die wedstryd, sê die beurtkrag wat oor die volgende 18 maande vir die land voorlê, is die rede hoekom hy groei van net 0,5% voorspel.

Probleme by staatsondernemings, veral by Eskom, beperk die potensiële groei in 2020.
Frank Blackmore van EFConsult

Chris Harmse, ekonoom van Rebalance Fund Managers, waarsku dat as Eskom nie dringend sy huis in orde kry nie, kan die land in ’n resessie terugsak.

Kredietstatus

Die ekonome is ook bekommerd oor Suid-Afrika se kredietstatus. Met Moody’s Investors Service die enigste van die drie groot kredietgraderingsagentskappe wat nog randgedenomineerde staat­skuld op beleggingsgraad het, vra ekonome soos Annabel Bishop van Investec of genoeg gedoen sal word om ’n afgradering af te weer.

Sy sê die belangrikste boodskap wat Tito Mboweni, minister van finansies, op 26 Februarie in sy begrotingsrede moet oordra, is wat gedoen gaan word om fiskale konsolidasie te bewerkstellig.

Moody’s het reeds ’n negatiewe vooruitsig vir die land se kredietgradering. Indien hy nie tevrede is met wat Mboweni in sy begrotingsrede sê nie, sê sy is ’n afgradering vanjaar basies gedane sake. Dit sal Suid-Afrika se staatskuld volkome in niebeleggingsgraad laat, “wat aansienlike randswakheid en hoër rentekoerse tot gevolg sal hê”.

Die staat sal ook meer rente op sy skuld moet betaal, maan sy.

Thea Fourie, senior ekonoom van IHS Markit, dink Moody’s sal heel waarskynlik nie ’n verklaring oor Suid-Afrika se kredietstatus einde Maart uitreik nie. “Hy sal wag tot later in die jaar om eers vas te stel hoe Eskom se omkeerplan verloop.”

Pieter Laubscher, ekonoom van Business Cycle Analytics en nóg een van die nuwe deelnemers, meen dit is “feitlik 95% seker dat Moody’s Suid-Afrika se skuld tot onder beleggingsgraad gaan afgradeer”.

Koronavirus

’n Nuwe risikofaktor wat ekonome waarsku ’n negatiewe invloed op Suid-Afrika se ekonomie kan hê, is die koronavirus wat in Desember in Wuhan, China, uitgebreek het.

Hoe langer produksie in China stol, hoe groter gaan die invloed wees.
André Botha van TreasuryOne

“Die uitwerking hiervan op die wêreldekonomie moet nog deursyfer, maar hoe langer produksie in China stol, hoe groter gaan die invloed wees,” waarsku André Botha, riskiobestuurder van TreasuryOne.

“Stadige wêreldgroei gaan ontluikende markte soos Suid-Afrika negatief beïnvloed en ons kan ’n redelike moeilike jaar verwag.”

Harmse sê sou Covid-19 die Chinese ekonomie onder soveel druk plaas dat dit vanjaar met minder as 5% groei, sal dit Suid-Afrika se uitvoer en ekonomie ernstige knou.

k
Meer oor:  China  |  Ekonoom Van Die Jaar  |  Covid-19  |  Wisselkoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Koronavirus  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.