Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Europa, China kan mark druk

Die rand het Woensdagoggend aanvanklik wipplank gery in ’n nou band van tussen R15,11 en R15,14 teenoor die dollar en gelyk asof hy wou stabiliseer.

Deur die loop van die oggend het die geldeenheid egter weer begin gly tot bo R15,15.

Volkswagen
Volkswagen-voertuie wat reg is om uitgevoer te word, staan in die hawe van Emden in Duitsland. Duitsland het aangekondig sy ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,1% ingekrimp.Foto: Reuters

Maatskappynuus op die JSE wat Woensdag die mark kan roer, is Exxaro Resources se handelsverslag oor sy halfjaarresultate tot einde Junie wat uitgereik is, Curro se halfjaarresultate, Metair se halfjaarresultate, en nuus van die farmaseutiese groep Aspen Pharmacare oor ’n skikking met die Britse mededingingsowerhede. Die JSE se indeks van alle aandele het kort voor 10 egter laer verhandel op sowat 54 600 indekspunte.

Nuus wat die internasionale markte kan raak, is nuwe syfers van China oor sy nywerheidsproduksie, wat in Julie die swakste gegroei het in 17 jaar. Sy groei in kleinhandelverkope in Julie was ook swakker.

In Duitsland is berig dat sy ekonomie in die tweede kwartaal ingekrimp het met 0,1% vergeleke met die vorige drie maande. Die inkrimping in Europa se grootste ekonomie is ’n meulsteen wat maak dat Europa sukkel om momentum te behou.

Groei in die meeste lande in die eurogebied, insluitende Frankryk en Spanje, is aan die taan, met Italië wat op die rand van ’n resessie talm en winswaarskuwings wat van Europa se grootste maatskappye kom.

Die rand se verhandeling teenoor die Britse pond en euro was bykans ’n spieëlbeeld van sy dollarkoers, met die rand wat tot R18,28 teen die pond verswak het en tot R16,94 teen die euro.

Andre Botha, senior handelaar van TreasuryOne, sê wat die rand aanvanklik laat stabiliseer het was die nuus Dinsdagmiddag dat Amerika die instel van nuwe invoertariewe op Chinese goedere tot 15 Desember gaan uitstel. China het ook aangedui hy is bereid om handelsgesprekke te hervat.

Volgens Botha kan die swakker nywerheidsyfers uit China 'n demper plaas op die positiewer sentiment. 

Later Woensdag word Suid-Afrika se kleinhandelverkoopsyfers bekend gestel, wat ook gewoonlik aandui hoe verbruikers vaar.

Internasionale aandelebeurse was Woensdagoggend meestal positief. Die vernaamste beursindekse in Asië was Woensdag almal hoër behalwe die MSCI AC Asies-Pasifiese indeks wat 1,5% laer was. Die Nikkei in Japan, die Hangseng in Hongkong en die indekse in Sjanghai en Sydney was almal sterker.

Die Amerikaanse beursindekse was oornag ook almal sterker, met die Dow Jones-nywerheidsindeks, die S&P 500 en die Nasdaq, wat elkeen met meer as 1,4% geklim het.

Oliepryse was Woensdag laer, met olietermynkontrakte vir Brent-ruolie wat 0,7% laer was op $60,86 per vat.

Die goudprys was ook effe laer op $1 497 per fynons. Botha verduidelik dit bevestig die verandering in sentiment, want beleggers wat na goud as veilige hawe gevlug het, het weer terugbeweeg na ander bateklasse namate die sentiment gedraai het.

Platinum was laer op $848.

Meer oor:  Aandelebeurse  |  Rand  |  Markte  |  Markverslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.