Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Fabrieke tel kop op – maar met drasties minder werkers

Die vervaardigingsektor se bedrywighede het sy herstel in Julie voortgesit, maar vlakke van indiensneming daal steeds.

Werkers dra maskers en behou ’n veilige afstand van mekaar in die Rosslyn-aanleg van BMW. Foto: Getty Images

Absa se aankopebestuurdersindeks (PMI) was in Julie effens laer as in Junie, maar steeds bo die belangrike vlak van 50, wat op uitbreiding dui.

Die algehele indeksvlak was in Julie op 51,2 vergeleke met 53,9 in Junie, maar die kernbelangrike subindeks vir indiensneming het nog glad nie herstel ná sy ineenstorting in April nie, sê Absa. Dit is op net 33, wat daarop dui dat die vervaardigingsektor steeds groot getalle werknemers aflê.

In April het hierdie subindeks in duie gestort tot ’n vlak van slegs 26,6, in Mei was dit op 26,8 en in Junie op 32,7. Enige vlak onder 50 beteken indiensneming neem af. Absa sê dit is “uiters kommerwekkend” dat indiensneming so kwyn terwyl dit lyk asof die bedryf weer aan die gang kom. Dit dui moontlik op ’n langtermynneiging van drasties minder werknemers in die vervaardigingsektor, al herstel dit toenemend.

Sakebedrywighede het in Julie effe gedaal teenoor Junie van 64,6 tot 62,9, maar bly betreklik hoog nadat dit in April in duie gestort het tot die laagste vlak op rekord van 5,1.

Absa wys wel daarop dat ten spyte van die hoë vlak van hierdie belangrike subindeks, het sakebedrywighede nog nie herstel tot vlakke van voor die staat van inperking nie, en nog maande van groei (dus vlakke bo 50) sal nodig wees om ten volle te herstel.

Vervaardigers raak ook toenemend meer positief oor die vooruitsig vir die bedryf ten spyte van die pandemie.

Die subindeks vir verwagte sake-omstandighede oor ses maande is op sy hoogste vlak in ’n jaar, naamlik 51,8.

Absa maan egter dat hierdie “optimisme” in konteks gesien moet word.

Die langtermyngemiddelde vir dié subindeks is steeds 60 punte, en enige vlak hieronder dui op minder optimisme as die norm.

Meer oor:  Absa  |  Vervaardiging  |  Aankopebestuurdersindeks  |  Vervaardigers  |  Pmi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.