SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Ekonomie
FairPlay: Vind geld om hoender van BTW vry te stel

Vind die geld om hoender van belasting op toegevoegde waarde vry te stel. Daar is maniere om dit te doen.

Die vrystelling van alle hoender van BTW kan volgens die Woolard-paneel die regering sowat R3,1 miljard se inkomste kos en oor tyd styg.

Dít is die reaksie van FairPlay, drukgroep vir ’n regverdige en billike handelsbeleid wat die afgelope maande ’n veldtog gevoer het om Suid-Afrikaanse hoender van BTW vrygestel te kry.

Dít kom nadat regter Dennis Davis, voorsitter van die Davis-belastingkomitee, Vrydag volgens mediaberigte gesê het dit is onwaarskynlik dat bykomende items gevoeg sal word by die Woolard-paneel se aanbevelings oor produkte wat van BTW vrygestel moet word.

Die paneel het aanbeveel dat benewens die 19 produkte (insluitend bruinbrood, mieliemeel, bone en vars vrugte en groente) wat reeds vrygestel is, moet skooldrag, witbrood, brood- en koekmeel, doeke (vir babas en volwassenes) en sanitêre produkte van BTW vrygestel word.

Maar hoendervleis, die goedkoopste bron van vleisproteïen in Suid-Afrika en ’n groot deel van die basiese dieet van die bevolking, is nie vrygestel nie.

“Daar is nie geld daarvoor nie en dis nou tyd dat mense dit verstaan. Ons staatskas is leeg en dit maak nie sin om die BTW-koers met 1% te verhoog as jy ’n uitgebreide lys BTW-vrye produkte gaan hê nie,” het Davis volgens Fin24 gesê.

Ons staatskas is leeg en dit maak nie sin om die BTW-koers met 1% te verhoog as jy ’n uitgebreide lys BTW-vrye produkte gaan hê nie.
Regter Dennis Davis

Die vrystelling van alle hoender van BTW kan volgens die Woolard-paneel die regering sowat R3,1 miljard se inkomste kos en oor tyd styg. As net individueel kitsbevrore hoenderstukke (sogenaamde IQF) van BTW vrygestel word, sal die koste R2,1 miljard wees, wat sowat 10% van die ekstra inkomste sal insluk wat deur die BTW-verhoging ingesamel sal word.

Maar volgens Francois Baird, stigter van FairPlay, moet in ag geneem word dat hoendervleis die stapelvoedsel van arm mense is.

Hy wys op syfers van Statistieke SA dat meer as die helfte van die bevolking, meer as 30 miljoen mense, in armoede leef.

“Hierdie is die mense wat regstreeks daarby sal baat as hoendervleis van BTW vrygestel word.”

Hoender is ’n groot voedseluitgawe vir huishoudings met ’n laer inkomste, en volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) kan ’n nulkoers op hoendervleis tot R80 miljoen meer in die beursies van huishoudings in die laerinkomstegroepe beteken.

Hy bereken ’n volle prysverlaging van 15% kan tot ’n verhoging van 7,8% in die vraag lei.

Baird sê daar is verskeie planne wat gemaak kan word om die belasting-inkomste wat verloor word wanneer hoender van BTW vrygestel word, te herwin.

Hy vra dat die bestaande lys van vrygestelde items hersien word.

“Die Woolard-paneel is gevra om dit te doen maar het nie genoeg tyd of die nodige hulpbronne gehad nie.”

Hy sê ’n produk soos hoender is ’n meer ooglopende keuse om voedsame, bekostigbare voedsel teen ’n nulkoers aan arm mense te lewer as wat witbrood of koekmeel is.

Nóg ’n voorstel deur FairPlay en Sapa is dat die hoenderporsies, soos bevrore hoenderstukke, wat veral deur laerinkomstegroepe gekoop word, van BTW vrygestel word.

“Die doelwit moet wees om die voordeel aan die armes deur te gee en deur dié produkte te kies, sal die koste vir die staatskas verminder.”

Hy sê daar moet weer gekyk word na die begrotings van staatsdepartemente soos verdediging en gekyk word of geld geskuif kan word om armes te help voed.

“Neem die wyer openbare belang in ag. Deur die prys van hoender te verlaag kan ons aanvraag verhoog, meer plaaslike werk skep, ekonomiese groei verhoog en só meer belasting invorder.”

Die publiek het tot verlede Vrydag tyd gehad om op die paneel se aanbevelings kommentaar te lewer. Die tesourie sal nou die voorleggings oorweeg.

Vroeër het Leonard Willemse, senior belastingkonsultant by die ouditgroep Mazars, gesê die Woolard-paneel se verslag sal net die eerste aanduiding wees van moontlike vergunnings en dis hoogs onwaarskynlik dat groot aanpassings in die middel van die belastingjaar deurgevoer sal word.

Die Woolard-paneel het bereken dat die vyf bykomende produkte wat hy vir vrystelling aanbeveel het, die staatskas sowat R4 miljard sal kos terwyl die tesourie hoop om sowat R22 miljard se bykomende inkomste met die verhoging te verdien.

Meer oor:  Dennis Davis  |  Ingrid Woolard  |  Hoenderbedryf  |  Hoenders  |  Fairplay  |  Btw-Bedrog  |  Btw  |  Sapa  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.