Die staatsrede het net gedeeltelike inligting bevat oor belangrike beleidskwessies soos die kragsektor, meen die internasionale kredietgraderingsagentskap Fitch.
Fitch meen die staatsrede toon ook die swak vooruitsig vir die land se kredietwaardigheid.
Fitch is een van twee groot graderingsagentskappe wat Suid-Afrika se staatskuld onder beleggingsgraad – dus op rommelstatus – gradeer.
Fitch sê pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede het belangrike vrae onbeantwoord gelaat.
“Die president het beloftes van die minister van minerale bronne en energie herhaal om groter kragverbruikers, veral myne, toe te laat om hul eie kragopwekking te doen . . . maar dit is onduidelik of lisensies maklik bekombaar gaan wees.”
Fitch verwag nie dat Tito Mboweni, minister van finansies, ’n duidelike verbintenis in sy begrotingsrede gaan maak om die salarisrekening van die staat te verminder nie, al het Ramaphosa gesê gesprekke met vakbonde oor die onderwerp duur voort.
“Die voortgesette probleme van die regering om sy agenda in werking te stel blyk uit die president wat nou mik daarvoor om teen einde 2020 lisensies vir nuwe selfoonspektrum uit te reik. Dié maatreël, wat nie juis omstrede is nie, is reeds in 2018 in sy staatsrede aangekondig.” – Reuters