Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Fotograaf (16) van SA na WEF as spreker
Skye Meaker se wenfoto, “Lounging Leopard”, waarmee hy die 2018-titel van Young Wildlife Photograpeher of the Year van die Natural History Museum ingepalm het. Foto: Skye Meaker

Die 16-jarige Skye Meaker van Durban, wat verlede jaar ’n gesogte internasionale prys met sy natuurlewefotografie losgeslaan het, sal die jongste deelnemer wees by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se jaarlikse byeenkoms volgende week in Davos, Switserland.

Skye Meaker (16) van Durban in die Mashatu-reservaat in Botswana waar hy ‘n foto van ’n luiperd geneem het waarmee hy die 2018-titel van Young Wildlife Photograpeher of the Year van die Natural History Museum ingepalm het. Skye het sy eerste kamera op 7 jaar gekry.

Skye, wat verlede jaar deur die Natural History Museum in Londen aangewys is as die Young Wildlife Photographer of the Year (WPY), is deel van ’n indrukwekkende lys kulturele leiers wat die WEF-byeenkoms van 22 tot 26 Januarie sal bywoon.

Bono, U2 se hoofsanger, is ook op die lys, asook sir David Attenborough, wat die wonder van die natuur in dosyne televisiereekse tot in mense se voorkamers gebring het. Attenborough is op 92 die oudste deelnemer.

Onder die meer as 3 000 wêreld- en sakeleiers wat vanjaar in Davos sal wees, is die Duitse kanselier, Angela Merkel, prins William en die Nieu-Seelandse premier, Jacinda Ardern.

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging sal weer gelei word deur pres. Cyril Ramaphosa. Die ministers wat hom sal vergesel, is Tito Mboweni (finansies), Ebrahim Patel en dr. Rob Davies (van die ekonomiese groep), Pravin Gordhan (openbare ondernemings), Jeff Radebe (energie), Stella Ndabeni-Abrahams (kommunikasie) en dr. Aaron Motsoaledi (gesondheid).

’n Jong Skye in 2014 saam met sir David Attenborough in Londen by die Wildlife Photographer of the Year-toekenningsaand. Hy hoop om tydens sy besoek aan Davos volgende week weer vir Attenborough te ontmoet.

Skye, ’n gr. 11-leerling aan Clifton College in Durban, sê hy hoop om Attenborough weer te ontmoet by Davos. Die twee het mekaar in 2014 in Londen ontmoet toe Skye se foto Vanishing Lion onder die top-100-foto’s in sy kategorie in die WPY-kompetisie was. Attenborough was meer as 50 jaar gelede die eerste ontvanger die WPY-prys.

Skye se 2018-wenfoto is getiteld Lounging Leopard en is in die Mashatu-reservaat in Botswana geneem. Op grond van Skye se toespraak op die toekenningsaand verlede jaar is hy uit meer as 20 sprekers gekies om die WPY by Davos te verteenwoordig.

Skye sê hy is senuagtig én opgewonde oor Davos, waar hy onder meer Dinsdag ’n verhoog sal deel met die bekroonde primatoloog Jane Goodall. Die sessie “Close Encounters with Jane Goodall and Skye Meaker”, sal gelei word deur Susan Goldberg, redaksionele direkteur van National Geographic Partners in Amerika.

Skye Meaker aan die woord tydens die Wildlife Photographer of the Year- (WPY) toekenningsaand verlede jaar in Londen. Op grond van die toespraak het die WPY hom gekies as verteenwoordiger by vanjaar se WEF-byeenkoms in Davos. Skye sal die jongste deelnemer vanjaar by Davos wees.

Woensdag sal Skye met die publiek gesels oor sy verbintenis met wilde diere en fokus op die harde realiteit dat baie spesies weens klimaatsverandering uitsterf. Hy sê sy boodskap dat die jeug en ouer generasies moet saamwerk om die omgewing vir die nageslag te bewaar, sluit aan by sir David se woorde aan hom in 2014 dat die toekoms in die jeug se hande is.

Prof. Klaus Schwab, uitvoerende hoof van die WEF, sê die doel van vanjaar se tema van Globalisering 4.0 is om te help verseker dat die vierde era van globalisering mensgesentreerd, inklusief en volhoubaar is.

Ramaphosa het op ’n pre-Davos-mediakonferensie gesê die afvaardiging sal Suid-Afrika bemark as ’n sterk ontluikende mark, gediversifiseerde ekonomie, met oorvloedige natuurlike hulpbronne, logistiek en infrastruktuur van wêreldgehalte, en uitstekende lewensgehalte aan beleggers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.