Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Francois van Niekerk: Besigheid met 'n doel

Francois van Niekerk het die Mergon-groep van ’n wankelrige begin in 1980 tot ’n internasionale groep met aktiwiteite op vyf kontinente uitgebou. Hy is Die Burger, Netwerk24 en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar vir 2018. Francois Williams en Willem Jordaan het met hom gesels. 

Francois van Niekerk het hom in sy uur van nood tot God gewend toe sy besigheid byna in duie gestort het. Hy het die Here 30% van die bankrot onderneming aangebied as Hy sou help. “Ek sou daarna leer dat jy niks sal ontvang, indien jy gee om te ontvang nie.” Foto: Jaco Marais

Kort nadat Francois van Niekerk in 1980 sy inligtingstegnologiemaatskappy Infotech gestig het, staar hy bankrotskap in die gesig. 

Op ’n sypaadjie in die Pretoriase middestad maak hy uit nood ’n belofte aan God wat vir skeptici vreemd mag klink, maar dieselfde dag nog is sy onderneming gered.

Mettertyd volg ’n heel nuwe werkwyse en die Mergon-groep word tans wêreldwyd as rolmodel met die doeltreffende integrasie van sake- en gemeenskapsbelange erken. ’n Onderskeidende kenmerk is dat 70% van die groep se aandeelhouding aan ’n volkome onafhanklike filantropiese trust behoort.

Waar het alles begin?

“My lewe het maar op ’n taamlik beskeie noot afgeskop as seun van ’n redelik arm kleinboer in die Paardeberg-distrik naby die Paarl. Ek was in ’n tipiese klein plaasskool en later die voorreg van ’n Boishaai-koshuis. Tyd vir sport was daar nie, want my ouers het ’n plaaswinkel bedryf om die pot aan die kook te hou en ek moes naweke in die winkel gaan help.

“My hoërskoollewe was meestal oorheers deur die plaaswinkel en my ouers se volgehoue gesprekke oor ‘die bank’ en ‘die verband’. Miskien het dit meegebring dat ek maar ’n baie nugtere beskouing oor my bepaalde agtergrond en vermoëns het!” 

En ná skool? 

Daar was geen sprake van geld vir voltydse verdere studie nie.

“Ek werk aanvanklik in die korporatiewe sektor en daar was beslis nooit enige droom of bedoeling om ’n sakeonderneming te begin nie.

Francois van Niekerk. Foto: Jaco Marais

“Maar ek was toenemend ontnugter met korporatiewe politiek en neem in 1978 ’n ietwat impulsiewe en ondeurdagte besluit om ’n eie onderneming te begin.

“Dit was ’n baie klein rekenaaronderneming, Infotech, letterlik in die agterplaas van die Rondaliagebou in Pretoria. Sonder kapitaal en sakekennis was dit broekskeur om die drie personeellede se salarisse elke maand te vind en daar was maar vertwyfeling. Wat het my besiel om ’n stewige korporatiewe loopbaan net so te los? Waarin het ek my getroue eggenoot laat beland? En die oudag?

“Toe bars die bom behoorlik. In September 1980 wag ons doodbenoud vir ’n bestelling en die kliënt skakel om te sê ‘Nee, jammer, nie nou nie’. Dis dan nou die einde; die gevreesde woord ‘bankrotskap’ ’n werklikheid.

“Tog vreemd hoe ’n mens jou tot die Here wend wanneer die donkerte toesak. Ek pleit toe en bied Hom 30% van die bankrot-onderneming aan indien Hy my sou help. Ek sou daarna leer dat jy niks sal ontvang, indien jy gee om te ontvang nie. Wel­vaarts­teologie is ’n absolute euwel.” 

Hoe het die Mergon-groep toe ontstaan en wat is die hoofbedryf?

“Die Mergon-groep vandag is beslis nie vanweë my bepaalde vermoëns alleen nie. Sedert daardie draaipunt in 1980 was God se hand op die onderneming; op ’n asemrowende wyse wat ek in besonderheid in die boek Doing Business with Purpose uiteensit. Menslikerwys het die sakemodel van vennootskap ook ’n sterk bydrae gelewer.

Gemoedsrus is ’n belangrike voorreg en op 78 fokus ek nou om te ondersteun sonder om in te meng. Ons wydverspreide aktiwiteite help gelukkig dat ek nog ’n goeie halfdag kan insit.

“Infotech het die politieke storms van die 1980’s genadiglik oorleef en in 1989 is na eiendomsontwikkeling uitgebrei. In 1994 word Atterbury met vennoot Louis van der Watt gestig en sy sukses met Atterbury verskaf kapitaal vir internasionale uitbreiding. In 2008 oorhandig ek die leisels aan Pieter Faure en ons huidige fokus is basies gemeenskapswerk deur sakebedrywighede. 

“Die 30%-belang van die Mergon-stigting in die Mergon-groep is mettertyd na 70% verhoog. Die onafhanklike Mergon-stigting se enigste begunstigde is Christelike gemeenskapswerk en dit volg logies dat God ons beherende aandeelhouer is. 

“Die Mergon-stigting se 70%-belang het in die afgelope boekjaar dividendinkomste van R115 miljoen opgelewer. Dit word jaarliks toegedeel aan sowat 130 gevestigde gemeenskapsorganisasies wat nagenoeg 800 opheffingsprojekte regdeur Afrika en die Midde-Ooste bedryf.

Om watter rede sou die Skepper toetree? 

“Dit gaan bloot oor die getuienis wat Hy op hierdie wyse tot stand gebring het. Enige meriete aan my kant is absoluut beperk tot enkele faktore. Miskien het Hy gehou van my beginselstandpunt oor die skade van korporatiewe politiek, of dat ek dadelik ’n onafhanklike trust vir die aanvanklike 30% (later 70%) registreer het of dat ons sedertdien die Here as beherende aandeelhouer erken en onsself net as rentmeesters en instrumente in Sy hand sien.”

Hoe werk dit in die praktyk?

“Alle beleggings- of enige ander tipiese aandeelhouerbesluite word bloot in gebed na Hom verwys en ons wag op Sy antwoord; presies soos ons met enige menslike beherende aandeelhouer sou doen. Die gevolglike getuienis gebruik Hy op maniere wat ons telkens verstom laat.

“Daar is oorvloedige bewyse dat Mergon se resultate eksponensieel baat tot die mate wat ons die balanspunt van beheer na ons beherende aandeelhouer oorskuif.” 

Beskryf Mergon se sakeprofiel

“Mergon is ’n beleggingsgroep met die fokus op werkbare sakeverhoudings, vennootskap en ’n gedesentraliseerde bestuurskultuur. Die Mergon-portefeulje bestaan tans uit ’n aktiewe belang in ’n groot getal maatskappye waarvan enkeles op die JSE, Luxemburg- en Sydney-beurse noteer is. Sake word gedoen in Afrika, Brittanje, Sentraal- en Oos-Europa, Australië, Amerika en China.” 

Wat of wie inspireer jou?

“Dit is seker duidelik dat die blote verloop van my sakelewe verreweg die grootste bron van inspirasie was en steeds is. Dan is dit wat die jong opvolgers doen vir my daagliks ’n vreugde.

“Ek het in die 1960’s by Rupert International gewerk. Dr. Anton Rupert se algemene voorbeeld en sy geloof in ‘deelgenootskap’ was waarskynlik bepalend tot Mergon se latere sakemodel.”

Hoe lyk die aftreejare?

“Gelukkig doen die jonger generasie beter as wat ek self sou kon. Gemoedsrus is ’n belangrike voorreg en op 78 fokus ek nou om te ondersteun sonder om in te meng. Ons wydverspreide aktiwiteite help gelukkig dat ek nog ’n goeie halfdag kan insit.

“Ons beskou onsself net as ‘rentmeesters in verwondering’ oor hierdie verhaal wat sedert daardie donker dag in 1980 steeds ontvou. Ek voel dus verplig om solank prakties moontlik voort te gaan met die Godgegewe getuienis waarmee ek, my familie en almal hier by Mergon begunstig is. Getuiepraatjies word gereeld in Suid-Afrika, Afrika en die buiteland gedoen en ek werk tans aan die vierde uitgawe van Doing Business with Purpose. Die boek se vertaling in Mandaryns is pas voltooi.
“Die Mergon-hoofkantoor het drie jaar gelede na Stellenbosch verskuif en ek is nou weer volbloed Kapenaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.