Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gaan Jan Taks sy teikens haal?
Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Daar is nie veel vertroue dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) op koers is om sy belastinginvorderingsteikens vir vanjaar te haal nie.

’n Opdatering van die SAID se vordering hiermee is van die aspekte wat baie belangstelling sal wek uit vanjaar se mediumtermynbegrotingsraamwerk wat op 24 Oktober deur Tito Mboweni, nuwe minister van finansies, gelewer sal word.

Mike Teuchert, nasionale hoof van belastingdienste by die ouditgroep Mazars, het Donderdag gesê die tesourie het vir die SAID ’n teiken van R1 345 miljard gegee om in te samel, wat 10,3% meer is as die vorige boekjaar. Dit sou moontlik gemaak word deur onder meer die verhoging in BTW, die voordeel van blokkruiping waar belastingkerwe nie vir inflasie aangepas is nie, die nuwe heffing op koeldrank met ’n hoë suikerinhoud, en die verhoging in die brandstofheffing.

Suid-Afrikaners sal op 24 Oktober dus weet of die opofferings wat hulle die afgelope ses maande moes maak al ’n positiewe uitwerking op die staatskas gehad het, sê Teuchert.

Maar hoewel die tesourie aanvanklik vol vertroue was dat die teiken gehaal sou word, lyk die syfer van R1 345 miljard nou nogal optimisties ná die verskeie verlagings in groeiverwagtings, en die ekonomie wat ’n tegniese resessie betree het.

Teuchert meen dit sal interessant wees om te sien of die tesourie die teikens vir belastinginvordering afwaarts gaan aanpas, gegewe die verlaagde verbruikersbesteding, lae sakegroei en stygende brandstofkoste deur die loop van die jaar.

Sedert Mark Kingon as kommissaris van die SAID waarneem, het die SAID wel aansienlike pogings aangewend om sy administratiewe vermoëns te verbeter om belastinginvordering te verbeter. Dit sluit in die hervestiging van die sentrum vir groot ondernemings, samewerking met die Tabakinstituut van Suider-Afrika (Tisa) en die Fairtrade Onafhanklike Tabakvereniging (Fita) om onwettige tabakhandel te bestry, asook die instel van administratiewe boetes van Desember af vir agterstallige maatskappybelasting.

Bernard Sacks, belastingvennoot by Mazars, sê Kingon behoort so gou moontlik as permanente kommissaris van die SAID aangestel te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.