Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gaan Tito dalk ’n ‘vervelige’ begroting lewer?

Die tyd is reg om maatskappybelasting te verlaag. “Dit is dapper en teenintuïtief,” sê Bernard Sacks, belastingdirekteur by die ouditfirma Mazars.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA ? OCTOBER 24: Finance Mini
Tito Mboweni, minister van finansies, op die nuuskonferensie voor sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober. Foto: Gallo Images

“Waarom sal die mense met wie pres. Cyril Ramaphosa praat om in Suid-Afrika te belê hierheen kom as hulle ’n belastingkoers van 28% moet betaal?” het hy gevra op ’n paneelbespreking oor verwagtings oor Februarie se begroting.

Mike Teuchert, Mazars se nasionale hoof van belasting, meen daar is  beslis nie ruimte om maatskappybelasting te verhoog nie. Amerika en Brittanje neig na die ander kant deur hul maatskappybelasting te verlaag. Om maatskappybelasting te verhoog, is nie ’n aansporing om buitelanders te lok om hier te belê nie.

Dis egter ook ’n waagstuk om belasting te verlaag met die hoop dat dit tot groter belastinginvordering sal lei.

Mboweni

Sacks vermoed Tito Mboweni sal minstens vir drie jaar minister van finansies bly om stabiliteit te bring, meen Sacks.

Hy het dit gesê in die lig van Mboweni se uitsprake aanvanklik dat ou manne soos hy nie herwin moet word nie maar dat nuwe bloed eerder nodig is.

Sacks verwag ’n meer positiewe begroting vanjaar. Met die vorige begroting was daar nog ’n bietjie chaos, maar Mboweni het hom teen hierdie tyd al ingegrawe in sy pos as minister van finansies. Hoewel die kleinhandelsyfers oor die laaste deel van 2018 redelik swak was, het die rand die afgelope tyd relatief sterk gebly en is daar tekens dat beter groei op pad is as Mboweni die regte aansporings vir ekonomiese groei kan aankondig.

Sacks dink al die afgelope drie jaar dat daar nie ruimte is om belasting te verhoog nie. Die ekonomie moet eerder aan die groei gesit word.

Skuld

Die een groot kommer is die reuseskuld van die staat en die groeiende skuld-tot-BBP-verhouding.

Sacks verduidelik dis slegte skuld om geld te leen om welsynstoelae te betaal of staatsondernemings van bankrotskap te red, maar dis goeie skuld om geld te leen om nuwe infrastruktuur te bou wat die ekonomie sal help groei.

As die rykes die meeste BTW betaal, wat keer dat die regering BTW verder kan verhoog?
Bernard Sacks van Mazars

Teiken

Sacks meen dis ambisieus van die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om ’n teiken te stel om belastinginkomste met 9% te verhoog. Hy verwag die tesourie sal dit probeer regkry deur verdere blokkruiping - dus deur nie belastingkerwe aan te pas om vir inflasie te vergoed nie.

Wat regtig nodig is ekonomiese groei, wat meer mense aan die werk kan kry wat belasting kan betaal. Beter groei in maatskappye beteken verhogings en bevorderings, uitbreiding en die indiensneming van nuwe werknemers. Dit sal alles lei tot meer belastinginkomste, sê Sacks.

Teuchert meen die SAID wil die teiken probeer haal deur beter afdwinging van belastingreëls, strenger te wees om boetes in te stel en agterstallige belasting in te samel.

Verkiesingsjaar

Kan daar dalk in die verkiesingsjaar belastingveranderings kom van die regering om mense te probeer oortuig om vir die ANC te stem? Teuchert en Sacks is skepties oor die opsies daarvoor.

Teuchert verwag eerder dit sal ’n vervelige begroting wees met geen verrassings en vuurwerke nie. Blokkruiping sal egter daar wees.

Suikerbelasting

Sacks meen die heffing op suikergebaseerde drankies (die sogenaamde suikerbelasting) kan dalk uitgebrei word na hoësuiker-inhoudprodukte soos sjokolade en lekkers.

Teuchert wys op hoe die tesourie die inkomste uit die suikerbelasting onderskat het in die eerste jaar waarin dit ingestel is.

Sondebelasting

Hoewel die sogenaamde sondebelasting weer ’n maklike teiken is, waarsku Sacks dat dit afhang hoe doeltreffend die regering veral aksyns op sigarette kan insamel. Daar is miljarde rande wat verlore gaan weens die mark vir onwettige sigarette.

BTW

Teuchert verwag nie nou enige nuwe verandering aan BTW nie. BTW is reeds in 2018 tot 15% verhoog, en sedertdien is die lys van BTW-vrye items uitgebrei (dit word in April van krag). Die regering sal nou eers kyk wat die impak van die veranderings op belastinginkomste is voor met nuwe veranderings gewaag word.

“Die 30% rykste huishoudings in Suid-Afrika betaal 85% van alle BTW-inkomste, is in 2018 se begrotingsoorsig genoem. As die rykes die meeste BTW betaal, wat keer dat die regering BTW verder kan verhoog?” vra Sacks

Belastingrevolusie

Oor die omstredenheid oor ’n belastingrevolusie, soos uitgelig deur die jongste twiets van die DA-veteraan Helen Zille, sê Sacks ’n werklike belastingrevolusie sal omvattende koördinasie verg.

Die protes teen e-tol in Gauteng is iets anders wat makliker bestuur kan word.

Sacks wys daarop dat die kommissaris van die SAID die mag het om ’n derde party aan te wys om sy belasting in te vorder. So al sou ’n betrokke werkgewer sy werknemers se belastings terughou, kan die werkgewer se bank van die SAID opdrag kry om bloot die belasting te vat.

Maar as wydverspreide ontevredenheid posvat en verbruikers erg omgekrap raak, kan dit die staatskas raak. Hy twyfel egter of dit werklik sal realiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.