Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gee ons BTW-vrye hoender en katjiebotter!

Pleks van om meer spesifiek kommentaar te lewer op die BTW-paneel se aanbevelings, het talle organisasies Woensdag meestal bloot herhaal dat hulle teen die verhoging van BTW van 14% tot 15% in April vanjaar gekant is.

Die parlement het ’n pleidooi gehoor dat grondboontjiebotter van BTW vrygestel moet word. Foto: Pixabay

Hulle eis wel BTW-vrye hoendervleis en grondboontjiebotter.

BTW is in sy aard regressief, want rykes kan dit bekostig en armes nié, sê Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu.

Parks het Woensdag in die parlement gesê Cosatu meen die regering het nie voldoende verligting vir die armes gegee om die impak van die verhoging in BTW te verlig nie. Cosatu verwelkom wel die aanbevelings van die BTW-paneel om ses ekstra items van BTW vry te stel, maar is teleurgesteld dat plaaslik geproduseerde pluimveeprodukte nie ingesluit is daarby nie.

Cosatu en ’n hele paar ander organisasies het voor die parlement se staande komitee oor finansies gevra dat die verhoging van BTW tot 15% moet eers teruggetrek word of ten minste oor ’n spesifieke tydperk ingestel word. Parks meen dis vreemd dat BTW op water gehef word, want toegang tot water word as ’n basiese mensereg beskou.

Cosatu stel voor daar moet BTW op luukse goedere wees, en noodsaaklike medisyne moet ook BTW-vry wees.

Lionel Adendorf van Fairplay het gevra hoendervleis moet ook van BTW vrygestel word, want dis ’n stapelvoedsel en belangrike bron van proteïene vir armes.

Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group sê die verhoging van BTW tot 15% het kospryse skerp opgejaag. ’n Bedrag van R215 of 7,2% van die hele mandjie kosprodukte wat die groep monitor, bestaan nou uit produkte waarop BTW gehef word.

Die kwytskelding van nuwe produkte van BTW sal egter die kosmandjie met net sowat R40 verlaag.

Tussen Junie en Augustus was die inflasie op BTW-vrye kos hoër as die inflasie op kosprodukte waarop BTW wel betaal word, het ’n verteenwoordiger van die groep Woensdag gesê.

Die groep het simpatie met die BTW-paneel, want hulle meen die paneel het te min tyd gehad om die komplekse en belangrike kwessie te ondersoek. Die paneel kon net aan die oppervlak van die probleem krap.

Die groep glo grondboontjiebotter moet ook oorweeg word om van BTW vrygestel te word. Daar is nie genoeg proteïene ingesluit in die lys nie. Die groep steun die aanbeveling van die paneel dat die regering se kindertoelae hersien moet word. Dit kos R500 tot byna R700 per maand om ’n kind te voed.

Die Budget Justice Coalition het ook saamgestem dat hoër BTW die land se belastingstelsel meer regressief gemaak het. Die koalisie meen die alternatiewe was om maatskappy- en persoonlike inkomstebelasting te verhoog, asook om BTW op luukse goedere te verhoog.

Die koalisie vra ook vir BTW-vrye grondboontjiebotter en sê dit sal ’n verlies van net R120 miljoen vir BTW-insameling beteken.

Die ses produkte wat die BTW-paneel onder leiding van prof. Ingrid Woolaard voorgestel het van BTW vrygestel word, is wit- en koekmeel, witbrood, sanitêre produkte, doeke en skoolklere. Dit is benewens die 19 produkte, waaronder mieliemeel, bruinbrood, stampmielies en vrugte en groente, wat reeds van BTW vrygestel is.

Meer oor:  Ingrid Woolard  |  Tesourie  |  Grondboontjiebotter  |  Btw-Verhoging  |  Kospryse  |  Cosatu  |  Btw  |  Hoender  |  Kosprysinflasie  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.