Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand veg moedig terug, maar steeds bo $15

Die rand het Dinsdag redelik erg wipplank gery teenoor die dollar te midde van wisselende markseine. Hoewel die plaaslike geldeenheid oornag ’n klein bietjie terugbaklei het ná Maandag se laagtepunt van R15,45, het dit Dinsdag eers weer tot so swak as R15,39 gedaal voordat dit laatmiddag Dinsdag teen so sterk as R15,19 verhandel het.

’n Betoger in Hongkong met ’n plakkaat van Carrie Lam, uitvoerende hoof van Hongkong, voor haar kantoor. Die Chinese regering se planne om die protes militêr te onderdruk plaas verdere druk op finansiële markte.Foto: Reuters

Op die rug van veelvoudige faktore wat beleggers al hoe meer na veilige hawens dryf, het die rand Maandag tot R15,45 verswak – sy laagste vlak in 11 maande.

Toenemende spanning tussen die VSA en China, wie se handelsoorlog steeds vererger, is tans ’n groot drywer van die verswakking van die rand en ander ontluikende markte se geldeenhede. Boonop het spanning in Hongkong Maandag skerp toegeneem toe dit begin blyk dat die Chinese weermag nou ’n grootskaalse veldtog teen betogers in Hongkong gaan loods.

Die onstuimigheid in die Asiatiese streek bring talle van die wêreld se snels groeiende ekonomieë nou in gedrang in die oë van beleggers. Benewens die handelsoorlog het dié risiko dus op sigself beleggers verder na veiliger beleggings soos goud gedryf wat ’n tropmentaliteit tot gevolg het en ander dwing om van ontluikende markte weg te beweeg.

Dié verwikkelinge het die goudprys Dinsdag gestoot tot ’n nuwe hoogste vlak in meer as ses jaar, berig Reuters. Dit het wel later weer met meer as 1% geval.

Die Brent ruolieprys het daarenteen sterk met meer as 2% tot $60,18 per vat gestyg.

Buiten die goudmynmaatskappye, het die groot maatskappye op die JSE Dinsdag op ’n slegte noot afgeskop. In totaal het 31 maatskappye Maandag te midde van die heersende onstuimigheid nuwe laagtepunte vir die afgelope 52 weke bereik.

Maar teen Dinsdagmiddag het aandeelpryse in Amerika 'n herstellopie geloods, al was aandeelpryse in Europa en Asië maar onder druk. Die S&P500 het in die eerste verhandelingsure van die mark in New York gestyg op grond van optimisme dat die handelsoorlog tussen Amerika en China effe kan bedaar.

Die JSE het eers laatmiddag die positiewe seine begin optel, maar dit was nie genoeg om die dag se verliese uit te wis nie. Die indeks van alle aandele het skerp geval in die oggend, toe probeer terugveg tot so hoog as 55 371, maar daarna teruggesak tot so laag as 54 840. Dis eers teen kort voor vieruur die middag dat die beurs weer deur die 55 000-vlak gebeur het

Met hulpbronne staan sake soos volg:

  • Goud: $1492 per fynons
  • Platinum: $844,94 per ons
  • Olie: $60,18 per vat

Digitale geld

  • Bitcoin: $11 350/R181 071,50
  • Ethereum: $209,38/R3 214,26
Meer oor:  Rand  |  Markte  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.