Drankverkope is toe nie beperk in die Tuinroete en Kaapstad en omgewing waar infeksies vinnig styg nie.
Net die Nelson Mandelabaai-metrogebied in die Oos-Kaap is tot ’n brandpunt verklaar en ekstra beperkings, buiten wat nog geld vir vlak 1, word daar ingestel.
Van 4 Desember gaan alkohol van drankwinkels en ander kleinhandelaars net van Maandag tot Donderdag daar toegelaat word, en net tussen 10:00 en 18:00.
Kroeë en restaurante en ander plekke wat alkohol aan klante bedien, sal dit net tot 22:00 kan doen omdat 'n aandklokreël dan geld.
Geen drank mag in openbare plekke soos parke en op die strande gedrink nie.
Dit gee ’n voorsmakie aan ander gebiede waar infeksies vinnig styg en wat tot brandpunte verklaar kan word.
Net die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit in die Oos-kaap en die Tuinroete in die Wes-Kaap is Donderdagaand deur pres. Cyril Ramaphosa genoem as plekke waar infeksies erg styg.
Kaapstad is glad nie genoem nie.
Volgens Ramaphosa gaan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, volgende week die twee gebiede besoek om die situasie te beoordeel en met belanghebbendes daar te beraadslaag.
Op grond daarvan sal die nasionale koronavirusbevelraad besluit oor toepaslike optrede daar.
“Die belangrikste taak nou is om die styging in infeksies in die geaffekteerde distrikte in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap te beheer en te verseker dat ’n soortgelyke situasie nie elders in die land ontwikkel nie,” sê Ramaphosa.
Dit beteken vakansiegangers wat op pad Tuinroete toe is, gaan moontlik net voor die skoolvakansie hoor watter beperkinge daar ingestel word.