Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Geld vir projekte red ekonomie nie’

Infrastruktuurprojekte is nié ’n wondermiddel wat Suid-Afrika se siek ekonomie weer op die herstelpad sal plaas nie. Die infrastruktuurbeleggings van R2 300 miljard wat die regering hoop om oor tien jaar te verwesenlik, is minder as wat in die verlede aan bouwerk, paaie en ander projekte bestee is, sê Lullu Krugel, hoofekonoom by PwC.

Die regering het die afgelope paar jaar al hoe minder aan infrastruktuur bestee.

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope week op ’n infrastruktuur-simposium bekend gemaak 88 uit 276 projekte is gereed vir beleggings.

Infrastruktuurbesteding in Suid-Afrika het oor die laaste paar jaar aansienlik afgeneem om te vergoed vir gapings in die begroting wat veroorsaak is deur laer as verwagte belastinginvordering en beleidsveranderinge soos gratis tersiêre onderrig. Luidens die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) was die mikpunt vir infrastruktuurbesteding 10% van die BBP per jaar. Volgens Business Leadership South Africa (BLSA) was dit die helfte daarvan.

Krugel sê R2 300 miljard klink na baie geld. “Maar deel dit deur tien jaar en dan is dit heelwat minder as wat in die verlede aan infrastruktuur bestee is. Ons sal dubbel soveel moet bestee as ons wil inhaal.” Volgens haar is infrastruktuur iets waaragter die regering graag skuil as daar “moeilikheid” is en hulle die ekonomie wil herbou.

In 2012 het die destydse president, Jacob Zuma, aangekondig R4 000 miljard sou oor ’n tydperk van 15 jaar aan 18 “strategiese infrastruktuurprojekte” bestee word. Dit sou insluit ’n nywerheidsdeurgang tussen Durban, die Vrystaat en Gauteng, 122 verpleegkolleges en ’n multimiljardrandprojek in die Waterberg-omgewing in Limpopo.

“Dit is baie moeilik om kop of stert te probeer uitmaak watter vordering met die sogenaamde spesiale infrastruktuurprojekte gemaak is. Verslagdoening daaroor is ook baie sporadies,” het Krugel gesê.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy aanvullende noodbegroting Woensdag skrams verwys na die belangrikheid van infrastruktuur, maar glad nie uitgewei oor hoe die nasionale tesourie daarvoor sal begroot nie.

Die regering sal swaar moet steun op die private sektor, ontwikkelingsfinansiers soos die Nuwe Ontwikkelingsbank en batebestuurders as hy die ideaal van multimiljardrand-infrastruktuurprojekte wil verwesenlik.

Raymond Parsons, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit, sê dit is uiters belangrik om die regte ekonomiese omgewing te skep sodat verbintenisse tot beleggings uiteindelik realiseer. “Maar solank as wat daar die risiko van beurtkrag en energietekorte is, sal private beleggings gedemp bly.”

Parsons sê die regering behoort eerder ’n paar sleutelprojekte te identifiseer en dan voorkeur daaraan verleen as om die net te wyd te gooi.

Krugel wys daarop dat infrastruktuur op sigself nie die antwoord vir langtermyn-indiensneming is nie. “Werkgeleenthede is in baie gevalle tydelik. As jy ’n pad gebou het en dis klaar, is die werkgeleenthede ook verby.”

Johan Gouws, hoof van institusionele advies by Sasfin Wealth, sê daar was baie verspeelde geleenthede met infrastruktuurprojekte oor die jare. Die planne was nooit duidelik nie en buitelandse en plaaslike beleggers weet nie wat om te verwag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.