Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Geldsake knap vir 75% in SA
Baie Suid-Afrikaner sukkel met skuld.

Sowat 75% van Suid-Afrikaanse huishoudings se finansies is reeds geruime tyd onder druk, sê Momentum en Unisa na aanleiding van die jongste indeks oor huishoudings se finansiële welstand.

Die algehele telling in 2018 was 67,9 punte, teenoor 2017 se 67,8 punte en 66,6 punte in 2014. Net meer as 3 000 huishoudings het aan die jongste peiling deelgeneem waarvan die resultate einde 2019 gepubliseer is.

Hoe laer die punt, hoe slegter is huishoudings daaraan toe. ’n Telling van tussen 60 en 80 dui daarop dat huishoudings finan­sieel blootgestel is, maar daar is geleenthede om hul finansiële welstand te verbeter.

Nontokozo Madonsela, bemarkingshoof van Momentum Metropolitan Holdings, sê sedert die indeks die eerste keer in 2011 saamgestel is, het die algehele telling stelselmatig verbeter sodat al hoe minder huishoudings finansieel so erg onder druk is as voorheen, maar hul finansies is steeds nie gesond nie.

Maar die slegte nuus is dat die kategorie van mense wat welaf is, sedert 2011 afgeneem het.

Volgens Momentum is huishoudings se bruto inkomste die afgelope jaar getref deur hoër inkomstebelasting, terwyl die getal werksdae wat weens stakings verlore gegaan het, van 480 000 in 2017 tot 1,95 miljoen in 2018 opgeskiet het.

Huishoudings se reële welvaart het ook afgeneem weens dalende aandeelpryse wat verband hou met die handelspanning tussen China en Amerika.

Uit die afgelope agt jaar se inligting is dit duidelik gedragsverandering is die belangrikste komponent van finansiële sukses – ongeag inkomste of maatskaplike status, sê Madonsela.

Huishoudings se reële welvaart het ook afgeneem weens dalende aandeelpryse wat verband hou met die handelspanning tussen China en Amerika.

Hoewel huishoudings wat finansieel goed daaraan toe is, verskil wat betref demografie (soos inkomste, welvaart, vaardigheid en leeftoestande) volg hulle ’n soortgelyke resep wat bydra tot sukses, sê Johann van Tonder, ekonoom by Momentum.

Dit is duidelik dis vir finansieel gesonde huishoudings ’n prioriteit om te spaar vir aftrede. Hulle maak nie finansiële besluite wanneer hulle onder emosionele stres is nie, en wanneer ’n noodgeval opduik, gebruik hulle spaargeld teenoor ongesonde huishoudings wat geld gaan leen – selfs al is spaargeld beskikbaar.

Uit die verskillende pilare waaruit die indeks saamgestel word, was 2018 se laagste telling vir persoonlike bemagtiging (4,8 uit 10) – af van 5,1 in 2017.

Volgens Momentum hou dit deels verband met politieke onstabiliteit en negatiewe makro-ekonomiese gebeure buite huishoudings se beheer.

Tog blyk dit byna alle huishoudings het sleg gevaar wat betref faktore wat hulle wel kan beheer.

Huishoudings se inkomste-enuitgawe-telling het tot 5 punte (2017: 5,1) gedaal en dui op kontantvloeiprobleme.

Die telling vir bates, skuld en netto welvaart het van 4,7 punte in 2017 tot 5,1 gestyg, maar dis duidelik dat talle huishoudings baie min bates het.

Finansiële geletterdheid bly ’n probleem in die meeste huishoudings.

Só verskil finansieel gesonde huishoudings van finansieel ongesonde huishoudings:

  • Geskrewe begroting:

Finansieel gesond = 46,2%

Finansieel ongesond = 25,8%

  • Korttermynversekering:

Finansieel gesond = 64,7%

Finansieel ongesond = 18,5%

  • Dra by tot ’n pensioenfonds of aftreeannuïteit:

Finansieel gesond = 60,3%

Finansieel ongesond = 22,6%

  • Toegang tot spaargeld in noodgevalle:

Finansieel gesond = 55,3%

Finansieel ongesond = 27%

  • Gebruik ’n professionele adviseur:

Finansieel gesond = 9,7%

   

Wat die tellings beteken:
  • 0-30: Finansieel onder druk

Huishoudings wie se geldsake geensins gesond is nie en oorleef deur aansienlike hulp van buite. Hulle mis waarskynlik betalings en gebruik die duurste krediet.

  • 30-60: Finansieel onstabiel

Dit gaan nie goed met die huishoudings se finansies nie, maar hulle is nie in nood nie. ’n Ramp of verkeerde besluit kan hulle in ’n ellendige situasie plaas.

  • 60-80: Finansieel blootgestel

Daar is meer geleenthede beskikbaar om hul finansiële welstand te verbeter. Rampe of positiewe gebeure en besluite kan die huishoudings se situasie verander in finansieel onstabiel of finansieel gesond.

  • 80-100: Finansieel gesond

Hoewel die huishoudings finansieel goed daaraan toe is in die huidige politieke, ekonomiese en maatskaplike omgewing, kan hulle weens verkeerde besluite of negatiewe eksterne verwikkelinge finansieel blootgestel of onstabiel gelaat word.

   

Wat kan jy doen?

   

Een van die belangrikste gewoontes om aan te leer, is om kort- en langtermyndoelwitte te stel en dit deel te maak van jou huishouding se begroting.

Dié doelwitte kan insluit:

  • Moenie meer bestee as wat die huishouding verdien nie;
  • Spaar vir aftrede;
  • Gebruik kort- en langtermynversekering om die huishouding se inkomste en verbruik te beskerm;
  • Moenie onbekostigbare skuld aangaan om ’n huis of motor te koop nie; en
  • Betaal skuld op tyd terug.

   

Die resep vir finansiële sukses

Doen navorsing: Besluit wat jy wil bereik en stel lang- en korttermyn- finansiële doelwitte. Hoe meer doelwitte jy bereik, hoe suksesvoller is jy.

’n Sterk geestestoestand: Dis belangrik dat jy jouself ken en weet wat jou “finansiële” persoonlikheid is. As jy weet jy gee maklik geld uit, moet jy maniere vind om dit in te kort.

Kies die instrumente wat die beste vir jou sal werk: Hetsy beplanningsinstrumente, finan­siële sakrekenaars vir skuldbetalings en aftreebeplanning, en ’n afspraak met ’n finansiële beplanner.

Kennis is mag: Maak seker jy weet hoe verskillende lenings werk. Kom op die hoogte van spaarrekeninge, beleggings en versekering, en hoe om finansiële stres te verminder.

Kry ’n mentor: ’n Goeie finansiële adviseur is belangrik om jou te help om doelwitte te bereik. Hulle het die instrumente vir antwoorde oor hoeveel jy nodig het vir aftrede of versekering.

Beplan vir onvoorsiene omstandighede: Uitdagings soos trae ekonomiese groei, hoë inflasie, werkloosheid, diefstal, ongelukke en skielike verlies aan ’n broodwinner kan jou pad kruis. Maak seker jy het ’n ondersteuningsnetwerk of spaargeld vir ’n noodgeval.

– Bron: Momentum se Science of Success



Meer oor:  Skuld  |  Finansiële Beplanning  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.