Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
George se taxibedryf ‘vernietig’, hoor kommissie

’n Ooreenkoms is al op 17 April 2009 deur die Wes-Kaapse regering aangegaan om mededinging in die bedryf vir openbare vervoer in die George-omgewing te verhoed, het Cornelius Esau, ’n taxi-operateur van George, Woensdag gesê.

Busse van die Go George-busdiens. Foto: Verskaf

Hy het voor die Mededingingskommissie in sy markondersoek na openbare vervoer gesê die provinsiale regering het uit die staanspoor kwaadwillig onderhandel.

Esau sê ingevolge die ooreenkoms om ’n busdiens in George te begin sou geen lisensies aan ongesubsidieerde taxi-operateurs toegeken word nie. Dit het volgens hom geïmpliseer dat die provinsie nie die taxibedryf wou betrek nie en dat daar geen mededinging vir die busdiens toegelaat sou word nie.

Die ooreenkoms is tussen die George-munisipaliteit, die taxibedryf en die provinsiale regering gesluit.

Esau sê die provinsie en munisipaliteit se uitsluitlike doel was om die George-taxibedryf te vernietig, want daar mag geen mededinging vir die Go George-busdiens wees nie.

Dis hoekom daar ook ’n moratorium op die toekenning van vervoerpermitte in George is, meen Esau.

Hy sê daar is geen toekoms vir die minibustaxibedryf in George nie. Hy het verwys na die voorvalle twee jaar gelede toe die Go George-busse aan die brand gesteek is, wat volgens hom wys hoe ontsteld die taxibedryf is.

In teenstelling met die opmerking van Deidre Ribbonaar, hoofdirekteur vir vervoerbedrywighede in die Wes-Kaapse regering, dat die moratorium in George ingestel is op grond van vraag en aanbod, sê Esau daar is nooit navorsing gedoen om vas te stel wat die vraag en aanbod is voordat die moratorium ingestel is nie.

’n Taxi-operateur wat R40 000 per maand met een taxi verdien het en wat nou deel geword het van die busdiens-stelsel, verdien nou net R5 500 per maand, sê Esau.

As die Go George-busdiens toegelaat word om voort te gaan en in die res van die land herhaal word, sal dit daarin slaag om die taxibedryf te vernietig, sê Esau.

Swart mense is nie in beheer van die Go George-busdiens nie, hoewel hulle veronderstel was om daaruit voordeel te trek, meen Esau.

“As jy met mense op die grond praat, sal jy beter verstaan hoe dié ding ons agteruit geneem het, pleks van vorentoe,” het hy gesê.

Hendrick Phillips, nog ’n taxi-operateur van George, sê die manier hoe die Go George-busdiens begin is, was “vrot”. Phillips sê hy was een van die eerste mense wat saamgegaan het op ’n studietoer na Bogotá in Colombië om hul openbarevervoerstelsel daar te ondersoek. Maar sy eie taxipermit is later teruggetrek.

Vervoerpermitte

Sover hy weet, is die Wes-Kaap die vinnigste provinsie wat die toekenning van vervoerpermitte betref, en word dit binne 31 tot 40 dae toegeken.

Só het Kyle Reyneke, adjunkdirekteur-generaal vir vervoerbestuur in die Wes-Kaap, Woensdag gesê.

Hy het in antwoord op vrae by die Mededingingskommissie se markondersoek na openbare vervoer gesê hy weet nie van enige agterstand met die toekenning van vervoerpermitte vir minibustaxi’s nie. Daar kan wel probleme wees met die toekenning van ’n enkele taxipermit.

Dit kom ná klagtes van verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in die Wes-Kaap wat meen vervoerpermitte vir busoperateurs kry voorkeur bo minibustaxi’s en dat daar groot agterstande is. Maar Reyneke ontken dat daar voorkeurbehandeling vir enige aansoeker van vervoerpermitte is.

Hy gee toe die hantering van permitte vir metertaxi’s teenoor dié vir nuwe soort taxidienste soos Uber, is ’n baie moeilike gebied. “Ons het ’n stelsel nodig wat die verbruiker beskerm.”

Meer oor:  Metrorail  |  Busse  |  Openbare Vervoer  |  Minibustaxi  |  Mededingingskommissie  |  Taxi's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.