Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Geplunder, gebrand: Só lyk die lang lys skade nou

R20 miljoen se kontant is uit kitsbanke gesteel – maar dit kan plunderaars in die sop laat beland omdat dié geld met ink bevlek word sodra kitsbanke oopgebreek word.

Dié nuwe syfer is bekend gemaak soos ondernemings en sakeliggame die omvang van die plundery en vandalisme in veral KwaZulu-Natal (KZN) en Gauteng wat van 9 tot 14 Julie gewoed het stuk-stuk bekend maak.

Volgens die nuutste inligting is baie meer fabrieke (minstens 22) geraak as wat aanvanklik geraam is en ook baie meer verspreidingsentrums en pakhuise (45).

’n Pakhuis en vragmotor in Durban te midde van die plundery. Foto: Reuters

Lesers moet in ag neem dat die inligting broksgewys bekend word en dat kleiner ondernemings en ongenoteerde maatskappye nie noodwendig hul skade bekend maak nie. Min is byvoorbeeld oor kitskosrestaurante bekend, hoewel verskeie deurgeloop het in die plundery.

Daarby moet in ag geneem word dat van die ramings oor die ekonomiese impak en skade nog net ramings is. Die meeste maatskappye is nog besig om in samewerking met hul versekeraars die skade te assesseer.

Baie van die beskadigde winkels en ander infrastruktuur is reeds herstel en doen al fluks sake.

Hieronder is die ramings soos op 29 Julie 2021.

EKONOMIESE IMPAK

  • R15 tot R20 miljard: ’n Voorlopige raming oor die totale skade in KZN.
  • R50 miljard: ’n Raming van die impak van die skade op die land se bruto binnelandse produk.
  • 0,4 tot 0,8 van ’n persentasiepunt: Dís met hoeveel ekonomiese groei minder gaan wees weens die plundery en geweld van die afgelope ruk, volgens ekonome se ramings.
  • 50 000 tot 150 000 poste: Ramings wissel oor die omvang van die invloed wat die plundery op werkskepping gaan hê, maar daar word aanvaar derduisende méér mense gaan werkloos word.
  • Minstens 50 000 informele handelaars kon nie sake doen nie.
  • Minstens 40 000 ondernemings is regstreeks geraak.
  • Minstens R1,5 miljard se voorraad is gesteel of beskadig.
  • Minstens 37 vragmotors is uitgebrand en tientalle ander is geplunder en beskadig.
  • Nagenoeg R20 miljoen kontant is uit kitsbanke geroof.

    KLEINHANDELAARS

    Volgens Netwerk24 se somme is minstens 1 783  formele winkels wat kos, klere, kruideniersware of boumateriale verkoop, geplunder of beskadig. (Apteke word afsonderlik gelys.) Dit sluit nié onafhanklike klein winkels of ondernemings in nie, net dié van kettingwinkelgroepe.

    Die winkels sluit nie dié in wat as voorkomende maatreël gesluit is nie, wat beteken die omvang van die verlies aan handel is nie daarby ingesluit nie.

    Gegrond op die syfers van kleinhandelaars is sowat 10% van alle winkels in die land deur die plundery geraak.

    • Pick n Pay

    Altesame 212 kruideniersware- en klerewinkels en 2 verspreidingsentrums van die Pick n Pay-groep is geplunder of deur brand beskadig. (Die winkels sluit in 68 Pick n Pay- en 68 Boxer-winkels in verskillende formate. Altesaam 29 Pick n Pay Clothing-winkels, 14 Express-geriefswinkels en 4 Boxer Build-winkels is ook onder die totaal van 212.) Daarby is 76 drankwinkels van die groep geplunder of afgebrand.

    • Shoprite

    Altesame 224 winkels en ’n verspreidingsentrum is geplunder en beskadig.

    Dit sluit in 119 supermarkte (69 Shoprite-, 44 Usave-, 6 Checkers- en 16 OK-winkels); 54 LiquorShop-winkels; en 35 meubelwinkels (House & Home, OK Furniture en OK Power Express).

    Die groep se Freshmark-verspreidingsentrum in Durban is geplunder.

    • Woolworths

    11 winkels – 9 in KZN en 2 in Gauteng – is geplunder en ernstig beskadig.

    Woolworths se Maxmead-verspreidingsentrum in KZN is betree, maar die infrastruktuur is nie ernstig beskadig nie.

    • Spar

    184 winkels in die Spar-groep is beskadig, naamlik 91 Spar-, 62 Tops- en 31 Build it-winkels.

    • Massmart

    41 winkels en 2 verspreidingsentrums is beskadig. Dit sluit in 18 Cambridge-, 10 Game-, 8 Builders-, 3 Cash & Carry- en 2 Makro-winkels.

    • Pepkor

    529 winkels is beskadig en geplunder, asook ’n verspreidingsentrum van die JD Group. Pepkor besit onder meer Pep, Ackermans, Incredible Connection, Russells, Tekkie Town en Bradlows. Die groep spesifiseer nie hoeveel van sy verskillende winkels beskadig is nie. (Die groep het aanvanklik verwys na 489 winkels, maar het op Vrydag 23 Julie gesê dit blyk 529 te wees.)

    • TFG

    190 van dié winkelgroep se winkels is beskadig. TFG besit onder meer Foschini, Sportscene, Totalsports, Donna, @home, American Swiss en Sterns. Hy spesifiseer nie watter winkels beskadig is nie.

    Die verspreidingsentrum van een van die groep se diensverskaffers en die fabriek van een van sy verskaffers is ook beskadig.

    • Mr Price

    111 winkels van dié groep, wat MRP, Sheet Street en Miladys ook besit, is geplunder.

    • Spitz

    4 skoenwinkels is geplunder en beskadig.

    • Cashbuild

    Altesame 36 winkels is beskadig – 32 Cashbuild- en 4 P&L-ysterwarewinkels is geplunder.

    • Lewis

    58 winkels is geplunder.

    • Truworths

    57 winkels is geplunder.

    • Edgars

    Ramings is dat 50 winkels van dié groep geplunder is.

             

    APTEKE

    Altesame is sowat 90 apteke geplunder, baie van hulle onafhanklike apteke. Dis-Chem het nog nie sy skade bekend gemaak nie. Die radiostasie 702 berig tot 40 000 dosisse entstof is gesteel.

    • Clicks

    54 Clicks-winkels is geplunder, asook 2 verspreidingsentrums, een van Clicks en een van sy groothandelaar, UPD.

    RESTAURANTE

    Die lys restaurante is baie onvolledig omdat die meeste restaurante ongenoteer of onafhanklik is. Kitskosplekke soos Debonairs, McDonald’s, Burger King en Nando’s het nog geen inligting bekend gemaak nie.

    Die genoteerde Spur Corporation, wat onder meer Spur, RocoMamas en John Dory’s besit, het ook nog nie sy skade bekend gemaak nie.

    • Famous Brands

    99 franchise-restaurante van dié groep is beskadig, sowel as sy verspreidingsentrum in Westmead.

    Famous Brands besit onder meer Steers, Wimpy, Mugg & Bean, Debonairs en Fishaways.

                 

    BANKE EN POSKANTORE

    Banke het nog nie invidueel aangedui hoeveel takke beskadig is nie. Die meeste het al hul takke in KZN en baie in Gauteng of selfs landwyd tydelik gesluit uit vrees vir personele se veiligheid.

    • Kitsbanke: Die Bankvereniging het op 26 Julie bekend gemaak 1 223 kitsbanke is beskadig. Na raming is R20 miljoen uit dié kitsbanke gesteel. Dit sal na raming R539 miljoen kos om die kitsbanke te vervang, installasiekoste uitgesluit.
    • Banke: Altesame 269 banktakke is geplunder, volgens die Bankvereniging.
    • Poskantoor: Nagenoeg 30 takke van die Poskantoor is beskadig.

      TEGNOLOGIE

      • Selfoontorings: Alle syfers is nog nie bekend gemaak nie, maar minstens 113 selfoontorings van verskillende operateurs is beskadig.
      • MTN: Minstens 100 van dié selfoonmaatskappy se takke is beskadig. 
      • Vodacom: Die groep sê die skade aan sy infrastruktuur was “nie wesentlik nie”. Geen verdere besonderhede word gegee nie.
      • Samsung: Samsung-produkte wat in ’n Value Logistics-verspreidingsentrum was, is geplunder.
      • LG: LG se fabriek in Cornubia, Durban, is geplunder en afgebrand.
      • Mustek: Mustek se kantore in Durban is verniel.

        LANDBOU, BOSBOU

        Baie plase en plattelandse ondernemings in KZN het deurgeloop.

        • Suikerriet: Meer as 353 000 ton suikerriet is afgebrand.
        • Hoender: Twee braaihoenderplase en ’n hoenderteelplaas van Astral Foods is besteel en/of afgebrand. Duisende dag oue kuikens moes van kant gemaak word omdat voer nie by hulle uitkom nie.
        • Suiwel: Suiwelboere in KZN verskaf nagenoeg 25% van die land se voorraad melk. Hoewel skade aan plase nie bekend is nie, is daar kommer oor die verskaffing van melk.
        • Papier en pulp: Volgens Sappi kon 28 000 ton pulp en 7 000 ton papier ter waarde van R220 miljoen weens die plundery nie verkoop word nie. Daar was nie regstreekse skade aan die groep se meule nie.
        • Drank: Benewens drankwinkels wat geplunder is, het firmas soos Distell, Heineken en SAB alle bedrywighede in KZN gestaak. ’n Verspreidingsentrum van Distell is gestroop; die skade word op R100 miljoen geraam.

          EIENDOM 

          • Winkelsentrums

          Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Eiendomseienaars (Sapoa) raam dat minstens 361 winkelsentrums geplunder en beskadig is, met 161 wat “omvattende skade” gehad het en 100 wat onder brande deurgeloop het.

          Onder dié eiendom tel Resilient se Mams Mall in Pretoria, Jabulani Mall in Soweto, en Galleria Mall en Arbour Crossing in Amanzimtoti; Growthpoint se Watercrest en City View in Durban; Investec Property Fund se Riverhorse Valley in Durban en Kriel Mall in Mpumalanga; Tower Property Fund se Evagold-winkelsentrum in Vereeniging; Oasis Crescent Property Fund se Ridge@Shallcross-winkelsentrum; en Fairvest se Richmond-winkelsentrum en Bara Precinct.

          • Verspreidingsentrums

          Minstens 45 verspreidingsentrums en/of pakhuise van verskillende ondernemings is geplunder en beskadig. 

          Dit sluit in Value Logistics se sentrum in Cato Ridge, wat onder meer produkte van Samsung en verskeie ander firmas gehuisves het.

          Dit sluit ook in Stor-Age se tak in Hillcrest.

          • Fabrieke

          Minstens 22 fabrieke is beskadig.

          INFRASTRUKTUUR

          • Hawens: Die Durban- en Richardsbaai-hawe is as voorkomingsmaatreël gesluit. Dis sedertdien heropen.
          • Spoorlyne: Die Nasionale Korridor (Natkor), ’n belangrike spoorlyn vir die vervoer van goedere tussen Durban en Gauteng, was met rommel bestrooi en kon dae lank nie gebruik word nie. Dis intussen oopgestel.
          • Paaie: Die belangrike N3-roete tussen KZN en Gauteng was dae lank gesluit en vragmotorbestuurders is steeds bang om snags daarop te ry.
          • Brandstof: BP en Shell se raffinadery in Durban, Sapref, was as voorsorgmaatreël gesluit en het eers op Woensdag 14 Julie bedrywighede hervat.
          • Skole: 139 skole in KZN is geplunder. Die skade word op meer as R300 miljoen geraam.
          • Bloeddiens: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se bloedbank in die Queensmead Mall in Durban is geplunder.
          • Hospitale, klinieke, spreekkamers: Tientalle private spreekkamers van dokters en tandartse is geplunder. Die Marie Stopes-kliniek in Durban is geplunder. Die Ekuhlengeni Psychiatric Care Centre is geplunder. Minstens 2 klinieke is beskadig, Inanda en Tongaat. In Mariannhil is ’n ambulans uitgebrand en nog een met klippe bestook – terwyl ’n pasiënt daarin vervoer is.
          Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Ekonomie
          MyStem: Het jy meer op die hart?

          Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

          Ons kommentaarbeleid

          Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

          Stemme

          Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.