Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gesloer met BTW kos miljoene

Jan Taks se gesloer met BTW-terugbetalings kom hom duur te staan.

belasting, mtbr2020
In die huidige belastingseisoen is sowat R21 miljard reeds aan 1,8 miljoen belastingbetalers terugbetaal. Foto: Unsplash

In een geval in Januarie moes die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R6 miljoen se rente aan ’n belastingbetaler betaal omdat hy R73 miljoen se terugbetalings vir twee jaar onregmatig teruggehou het.

Dié geval word in die belastingombud se jongste nuusbrief beskryf.

“Sou die SAID die aanbevelings van die kantoor van die ombud ernstig opgeneem het, sou rente nie só opgehoop het nie. Die ombud het die SAID van die begin af in kennis gestel dat hy nie geregtig was om die terugbetalings terug te hou nie.

“Voorts is miljoene rande uit die ekonomie gehou deur die SAID se optrede.”

Die klag is reeds in Desember 2018 ingedien. Die ombud sê min belastingpligtiges sou só ’n uitgerekte proses kon oorleef.

Busisiwe Mdletshe, groep- uitvoerende hoof van BTMT Capital, sê belastingbetalers wag dikwels te lank op terugbetalings.

Sy sê waar die belastinggaarder ’n oudit of verdere verifikasie doen, moet belastingbetalers op hoogte gehou word.

“Ek kon nog nooit die gesloer met terugbetalings verstaan nie, behalwe dat die SAID rente verdien op die geld. Die geld is ’n verpligting op die SAID se boeke omdat hy dit aan belastingbetalers skuld.”

Terugbetalings is nie ’n geskenk aan belastingbetalers nie, maar geld wat hulle toekom omdat hulle te veel betaal het of vir kortings kwalifiseer, sê Mdletshe.

Die SAID sê in die huidige belastingseisoen is sowat R21 miljard reeds aan 1,8 miljoen belastingbetalers terugbetaal. Sowat 38 000 daarvan ter waarde van R514 miljoen is vir ander belastingjare as die 2020-belastingseisoen. Die 2020-terugbetalings is gemiddeld binne 3,77 dae gedoen en meer as 88% van belastingbetalers het hul geld binne 72 uur ontvang.

Die SAID sê sowat 12,99% van huidige opgawes wat ál die vereistes nakom, is onderhewig aan verifikasie (nie ’n oudit nie). Vir ouer opgawes is dit 17,67% omdat veel meer gevalle van bedrog met dié laat opgawes geïdentifiseer word.

Die SAID se dienskode bepaal dat verifikasie sover moontlik afgehandel moet word binne 21 dae nadat die volledige dokumente ontvang is. Met die begin van die belastingseisoen het die belastinggaarder onderneem om sewe uit tien verifikasies (nie oudits nie) binne 21 dae af te handel en het dit tot in 75,8% van gevalle reggekry.

Die kantoor van die ombud het met die bekendstelling van die 2019-’20-jaarverslag die afgelope week benadruk hy handhaaf ’n balans tussen die magte en pligte van die SAID en die regte en verpligtinge van belastingbetalers wat hul belastingverpligting moet nakom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.