Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gesoek: werk vir 9,9 miljoen mense

As Suid-Afrika daarin kan slaag om ook buitelandse klein- en middelslagondernemings (KMO’s) as beleggers hierheen te lok, kan baie meer werk geskep word, het kenners die afgelope week gesê op ’n paneelbespreking oor Suid-Afrika se vooruitsig as regstreekse buitelandse beleggingsbestemming, en die invloed daarvan op indiensneming.

Meer as die helfte van Suid-Afrika se jong mense wat nie studeer nie, is werkloos.

Dr. Tashmia Ismail-Saville, uitvoerende hoof van die Youth Employment Service-program (YES), het gesê KMO’s in die EU dra sowat 91% by tot die bruto binnelandse produk en indiensneming – KMO’s het elk tussen een en agt werkers in diens. In Suid-Afrika is dit minder as 50%.

Sy was Maandagaand een van die sprekers in die bespreking, aangebied deur YES, by die Gordon-instituut vir sakewetenskap in Illovo.

’n Navorsingsverslag oor die bydrae van EU-beleggings op inklusiewe groei en werkskepping in Suid-Afrika wat by die geleentheid uitgedeel is, haal syfers van die Europese Kommissie aan dat KMO’s in die laaste vyf jaar sowat 85% van nuwe werkgeleenthede in die EU geskep het.

KMO’s was ook verantwoordelik vir sowat 66% van die private sektor se totale indiensneming.

Die navorsing is tussen Maart en November verlede jaar gedoen met geld van die SA-EU Dialogue Facility en ondersteun deur die Black Management Forum en die departement van handel en nywerheid.

Slegs twee dae ná die paneelbespreking het die jongste arbeidsmagpeiling deur Statistieke Suid-Afrika gewys werkloosheid het in die eerste kwartaal tot 27,6% opgeskiet. Dit is die hoogste sedert 2017, toe werkloosheid op 27,7% was.

Die breë werkloosheidsyfer (wat individue insluit wat wil werk ongeag of hulle aktief werk soek) het op ’n kwartaalgrondslag tot 38% gestyg.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, het in ’n nota gesê werkloosheid onder jeugdiges tussen 15 en 24 jaar het vir die derde agtereenvolgende kwartaal gestyg en staan nou op 55,2%.

Volgens Chris Hattingh, ’n navorser by die Vryemarkstigting, beteken die breë werkloosheidskoers dat die land nou 9,9 miljoen werkloses het. Sedert 2000 was die werkloosheidskoers nog nooit onder 20% nie.

Colin Coleman, uitvoerende direkteur van Goldman Sachs in Afrika suid van die Sahara en medesameroeper van die YES-program wat indiensneming onder die jeug wil verhoog, het op die paneelbespreking gesê Suid-Afrika sal nie jeugwerkloosheid kan oplos sonder ekonomiese groei en buitelandse beleggings nie.

Multinasionale maatskappye, buitelandse en institusionele beleggers wil nou sien dat ’n skoon, vaardige en talentvolle kabinet aangestel word wat nie na patronaatskap neig nie, maar die land eerste stel, het hy gesê.

Leon Ayo, adviseur van die Britse sakekamer in Suid-Afrika wat ook deel was van die paneel, het gesê onder die uitdagings vir voornemende beleggers in Suid-Afrika is multinasionale maatskappye se gesukkel om werkvisums te kry vir uitvoerende bestuurders uit die buiteland wat hulle hier wil aanstel, en dié se gesinne.

Mense se fisieke veiligheid en politieke stabiliteit is ook belangrik.

Voorts moet die arbeidsmag gemobiliseer word en gereed wees vir die 21ste eeu. Hy sê Suid-Afrika moet kyk hoe jongmense binne 12 maande opgelei kan word om gereed te wees vir die arbeidsmag, eerder as dat almal jare op universiteit deurbring.

Die navorsingsverslag sê van die uitdagings vir buitelandse KMO’s om hier te kom belê, sluit in ingewikkelde administratiewe en regulatoriese regimes, beleidsonsekerheid, geweld wat soms met arbeidsoptrede gepaardgaan en tot beskadiging van eiendom lei, en sekere aspekte van wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Baie Europese KMO’s is familie-ondernemings wat nie eienaarskap aan swart vennote kan afstaan om aan SEB te voldoen nie.

Die verslag raam dat die meer as 2 000 EU-maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen, tussen 350 000 en 500 000 poste skep.

Tot 85% van die werkgeleenthede vir Suid-Afrikaners in EU-korporasies is permanent.

Hoe YES werk

Die YES-inisiatief, wat daarop gemik is om oor die volgende drie jaar 1 miljoen nuwe werkgeleenthede vir jongmense te skep, het sedert begin vanjaar 17 000 jongmense as interne uitgeplaas vir ’n jaar se werkondervin­ding, sê dr. Tashmia Ismail-Saville, uitvoerende hoof.

Colin Coleman, medesameroeper van YES, sê wanneer die program op dreef is, sal dit jaarliks R16 miljard tot die ekonomie bydra.

Sakeondernemings betaal die jongmense se salarisse, wat op sowat R55 000 per jaar per intern neerkom. Ingevolge die Employment Tax Incentive (ETI) kan ’n deel daarvan van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) teruggeëis word.

As deel van die regering se bydrae tot YES, kan ondernemings wat die YES-teikens haal en die registrasie-kriteria nakom, erkenning vir SEB vir jeugwerkskepping kry en só hul SEB-telling verbeter.

Meer as 240 ondernemings het reeds geregistreer vir die program. Daaronder tel Volkswagen, Adcock Ingram, Sanlam, verskillende banke, Woolworths, Shoprite, MTN, Sasol en Netcare.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.