Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gideon du Plessis: Arbeid-sake kan in 2019 oorkook

By nabetragting oor 2018 se gewelddadigste stakings, bewys die Num en Numsa se Eskom-staking in Augustus, Numsa se huidige staking in die plastiekbedryf en Amcu s’n by Sibanye-Stillwater, dat Nedlac te lank getalm het om wetswysigings rakende die hantering van sulke stakings betyds deur te voer.

Gideon du Plessis

By al drie dié stakings moes die werkgewers weens geweld en intimidasie interdikte probeer kry, terwyl geskikte arbeidswetgewing ná Amcu se vyf maande lange staking, ná die Marikana-platinumstaking in 2014, gevolg deur Numsa se staking in die metaal-en-ingenieursbedryf, dié soort vernietigende stakings lankal moes reguleer.

Nedlac roem nou op stakingsverwante wetswysigings en die Wet op die Minimum Loon wat op 1 Januarie 2019 ingestel word. Die arbeidswetswysigings is té laat en die wet op minimum lone is té vroeg.

Die gevolge van die minimum loon, tesame met koolstofbelasting en Eskom se beoogde tariefverhogings wat in 2019 in werking tree, gaan moontlik tot nog ’n presidensiële beraad lei waar heel naïef probeer sal word om vas te stel waarom werkloosheid toegeneem het.

Gelukkig behoort daar minder groot loonstakings in 2019 te wees danksy langtermynooreenkomste wat onder meer by Eskom, in die mynbousektor, die metaal-en-ingenieurswesebedryf en met staatsamptenare gesluit is.

Eskom kan egter steeds ’n kookpot wees as die huidige afleggingsproses van senior personeel oorspoel na ’n proses wat poste in laer kategorieë raak. Dit sal tot groot weerstand by vakbonde lei, soos die geval tans by die SAUK is en by die SAL gaan wees wanneer laasgenoemde ook na verwagting die afleggingspaadjie gaan loop.

Weerstand sal volg omdat korrupsie en wanbestuur op topvlak werksekerheid benadeel het.

Weerstand sal volg omdat korrupsie en wanbestuur op topvlak werksekerheid benadeel het.

Numsa kan moontlik in 2019 die onderhandelinge in die bedingingsraad vir die vervaardigingsbedryf vir nuwe bande en by ’n maatskappy soos Hillside Aluminium gebruik om hul staal te wys, met die oog op die nasionale verkiesing van 2019.

Numsa gaan onder die vaandel van die Sosialistiese Revolusionêre Werkersparty aan die verkiesing deelneem.

Numsa volg verder ’n slim strategie om stadig maar seker die loonooreenkomste in die sektore waar hulle onderhandel, op dieselfde tyd te laat verstryk. As werkgewers nie dié strategie raaksien nie, kan dit beteken dat Numsa moontlik al in 2020 ’n landwye staking in verskeie ekonomiese sektore kan laat plaasvind.

By Telkom kan arbeidsverhoudinge in 2019 interessant raak omdat die betrokke vakbonde vanjaar geweier het om ’n salarisooreenkoms van twee jaar te teken en Telkom uiteindelik die ooreenkoms eensydig geïmplementeer het. Telkom meen ’n ooreenkoms van twee jaar is van krag, terwyl die vakbonde weer in 2019 wil onderhandel. Dit kan tot ernstige botsings lei.

Sakeredding

Aanstaande jaar kan ook bepaal of sakeredding werklik redding vir werkers gaan bring. Verwikkelinge om dop te hou is die sakereddingsprosesse by die Guptas se Optimum- en Koornfonteinsteenkoolmyn en hul Shiva Uranium-myn, asook by Lilymyn. Belanghebbende partye daar bestee meer tyd daaraan om van hoogs besoldigde sakereddingspraktisyns ontslae te raak as om die besighede te red.

Numsa volg verder ’n slim strategie om stadig maar seker die loonooreenkomste in die sektore waar hulle onderhandel, op dieselfde tyd te laat verstryk.

Dan kan die half bankrot staatsbeheerde instellings soos Denel, Krygkor en die LNR, wat waarskynlik geen verhogings in 2019 gaan aanbied nie, vakbonde noodsaak om ook daar sakereddingsaansoeke in te dien.

Loononderhandelinge in die sektore nywerheidschemikalieë, vinnig bewegende verbruikersgoedere en glas sal ook in 2019 begin aangesien meerjarige ooreenkomste dan tot ’n einde kom.

Met die mededingingstribunaal se uitspraak dat Sibanye-Stillwater eers ses maande ná sy Lonmin-oorname met afleggings mag begin, sal Amcu (wat 80% van die Lonmin-werknemers verteenwoordig) alles in sy vermoë doen om afleggings af te weer. Dit maak ’n staking ’n sterk moontlikheid.

Ander beduidende mynbou-afleggings wat in 2019 verwag kan word, is by Sibanye-Stillwater se goudafdeling en by Impala Platinum, wat albei onder druk is om koste te besnoei. Dan het Sasol SA reeds herstrukturering aangekondig. Na verneem word, beoog Sasol Groep Tegnologie om sy hoogs bekwame arbeidsmag met tussen 40% en 50% te verminder.

Met die verkiesing wat ’n klimaat van onsekerheid skep, maar ook tweespalt tussen vakbonde en vakbondfederasies sal bring, kan 2019 ’n uitdagende jaar aan die arbeidsverhoudingefront wees.

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Gideon Du Plessis  |  Solidariteit  |  Vakbonde  |  Arbeidsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.