Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gideon du Plessis: Arbeid vereis politieke stabiliteit

In ’n 2018-verslag wat as ’n “sistematiese assessering van Suid-Afrika” bekend staan, het die Wêreldbank sy kommer uitgespreek oor onder meer die stand van arbeidsverhoudinge in die land.

Gideon du Plessis

Die regering het by monde van pres. Cyril Ramaphosa dié gedeelte van die verslag ernstig opgeneem en ’n beroep op vakbonde en werkgewers gedoen om alles in hul vermoë te doen om arbeidsverhoudinge te normaliseer.

In die soeke na ’n oplossing moet daar egter wyer gekyk word as bloot werkgewer-werknemer-vakbondverhoudinge. Die totale arbeidsverhoudingestelsel moet ontleed word – en hierby ingesluit is politieke, ekonomiese, maatskaplike, tegnologiese en internasionale verwikkelinge wat saam met regeringsbeleid die stand van arbeidsverhoudinge bepaal.

Die slegste moontlike oorspoeluitwerking vanuit die politieke omgewing het inslag gevind op die terrein van arbeidsverhoudinge. Aan die ekstreme kant is dit korporatiewe korrupsie wat uit staatskaping voortspruit, soos in die VBS-geval en verskeie ander vorms van swak korporatiewe bestuur soos by KPMG en die Gupta-myne. Dié korrupsie het al duisende werksgeleenthede vernietig, en ’n ongesonde klimaat vir arbeidsverhoudinge geskep.

Wat nog meer ekstreem is, is hoe gewelddadige diensleweringsprotesaksies, asook die politieke neiging om teenstanders uit die samelewing te verwyder, arbeidsoptrede beïnvloed.

So is ’n professor van die Universiteit van Zoeloeland verlede maand vermoor nadat hy na bewering ’n PhD-bedrogspul blootgelê het. Voorts is die uitvoerende hoof van die Guptas se JIC Mining Services onlangs doodgeskiet as ’n uitvloeisel van ’n arbeidsdispuut. Werknemers is ook tydens onlangse stakings by Gold Fields en Sibanye-Stillwater weens stakingsverwante redes vermoor.

As die oppergesag van die reg nie effektief buite die werkplek afgedwing word nie, geskied dit nog moeiliker in die werkplek.

Die skandalige optrede van sekere politici in die parlement bring ook mee dat veral die jonger verteenwoordigers van vakbonde daardeur geïnspireer word en dan net so militant in maatskappy-raadsale optree. Hierdie swak parlementêre gedrag bevorder swak werkplekgedrag.

Swak parlementêre gedrag bevorder swak werkplekgedrag.

Outomatisering

Hoewel minder ekstreem, is nuwe tegnologie ook ’n vernietiger van werk. Volgens ’n 2018-Accenture-verslag word 35% van poste in Suid-Afrika bedreig deur outomatisering wat met die Vierde Industriële Revolusie (4IR) verband hou.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) voorspel dat 41% van poste in Suid-Afrika geoutomatiseer kan word. Goeie nuus vir ons, en vir die res van Afrika, is dat die 4IR afhanklik is van betroubare kragvoorsiening – die 4IR gaan hier dus stadiger plaasvind. Dit beteken egter ook dat die meeste 4IR-poste elders in die wêreld geskep gaan word.

Die 4IR sal ’n kleiner werksmag, waar kritieke vaardighede werksekerheid gaan bied, tot gevolg hê. ’n Meer buigsame en gedesentraliseerde werkplek sal ’n verdere gevolg wees.

Vakbonde sal hulle moet voorberei op ’n afname in kollektiewe werkplekkwessies, want werknemers se behoefte aan ’n vakbond gaan wentel om opleiding en die impak van tegnologie op hul daaglikse lewe.

Eiendomsreg

Wat die invloed van regeringsbeleid op arbeidsverhoudinge betref, gaan die impak van grondonteiening oor alle ekonomiese sektore heen gevoel word, want beleggers beskou dit nie soseer as ’n grondkwessie nie, maar as ’n bedreiging vir private besit en eiendomsreg.

Dit word reeds in die mynbedryf gevoel: Internasionale mynhuise soos AngloGold Ashanti en South32 skaal af in Suid-Afrika en brei uit na buite ons grense.

’n Lang lys van nóg anti-beleggersbeleid word in die vooruitsig gestel. Dit kan ’n afgradering tot gevolg hê wat die werkloses en laaggeskooldes die ergste gaan raak, en maatskaplike verval verhoog.

Die impak van ons regering se pro-China- en anti-Trump-beleid op arbeidsverhoudinge behels ’n Chinese industriële kaping wat projekte uit plaaslike ondernemings se hande neem en Chinese werkers laat invloei. Trump se proteksionistiese benadering is ook nadelig vir werkskepping in veral die pluimvee-, staal-, suiker- en motorbedryf.

Dié voorbeelde is net enkeles van die impak wat eksterne faktore op arbeidsverhoudinge het. Hoewel vakbonde en werkgewers ongetwyfeld ’n plig het om arbeidsverhoudinge beter te beoefen, lê die basis vir die normalisering van arbeidsverhoudinge grootliks op politieke en regeringsvlak.

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit.
Meer oor:  Gideon Du Plessis  |  Vakbonde  |  Arbeid  |  Arbeidswette  |  Arbeidsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.