Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gideon du Plessis: Staking moet die wag werd wees

Die uiteinde van Amcu se drie maande lange staking by Sibanye-Stillwater is dat die verlies aan inkomste van die nagenoeg 11 000 stakende Amcu-lede teen die einde van Februarie 2019 op ’n gemiddelde verlies van R42 246 per stakende werker neergekom het.

Gideon du Plessis

Dit beteken dat die werkers hulself armer staak omdat die staking hulle duidelik niks ekstra in die sak gaan bring nie.

Met die sogenaamde stakingseisoen op hande, sal vakbonde uit Amcu se swak oordeel moet leer en hulle deeglik vergewis van die verlies aan inkomste wat stakings meebring.

Wanneer werknemers tot ’n staking oorgaan, verbeur hulle hul salaris vir die duur van die staking. Stakende werkers kan hierdie verlies aanvaar indien die sukses van die staking in ’n aanvaarbare tydperk vergoed vir die verlies aan inkomste tydens die staking.

Indien dit etlike jare gaan duur voordat die hoër salaris wat ná afloop van die staking beding is, gaan vergoed vir die verlore inkomste, is dit beter om eerder die laer aanbod te aanvaar en nie te staak nie.

Die Solidariteit-navorsingsinstituut (SNI) illustreer die verlore inkomste weens stakings met die veronderstelling dat daar 250 werksdae in ’n jaar is en ’n vakbond tien werksdae gestaak het om die werkgewer se 10%-verhogingsaanbod uiteindelik tot 15% te verhoog.

Volgens die SNI is dit nie so eenvoudig as om te sê dat dit net oor die drie maande gaan neem om die verlies in te haal as R6 000 (verlies op byvoordele uitgesluit) byvoorbeeld deur die staking verloor is en dat salarisse nou, nadat ’n 15%-verhoging toegestaan is, argumentsonthalwe R1 875 per maand hoër is nie.

Die SNI voer aan dat die komplikasie intree by die bedrag wat gebruik word om die “waarde van die staking” te bereken. Die waarde van die staking is gelyk aan dít wat die staker meer kry omdat hy gestaak het. Die waarde van die staking is egter nie gelyk aan die totale maandelikse verhoging van R1 875 nie, maar slegs aan die verskil tussen die maatskappy se oorspronklike aanbod en die bedrag wat uiteindelik toegestaan is.

Vir vakbonde soos die NUM, Numsa en Amcu is stakings egter soms ’n taktiese manier om ’n werkgewer te wys dat ’n vakbond nie net blaf nie, maar ook kan byt.

In hierdie geval is dit dan slegs die 5% (die verskil tussen 10% en 15%) wat in berekening gebring kan word; dit wil sê slegs R625 meer per maand.

Daarvolgens gaan dit meer as nege-en-’n-half maande neem voordat die verlies wat tydens die staking gely is, uitgewis is. Eers daarna beteken die salarisverhoging werklik iets.

In aansluiting hierby, ’n staking van 20 werksdae vir ’n verskil van 5% beteken dus dat die staker 19 maande lank moet werk om te vergoed vir wat hy tydens die staking verloor het.

Indien daar 20 dae gestaak word vir ’n verskil van 2%, gaan dit bykans 53 maande, oftewel vier-en-’n-half jaar neem om dit in te haal.

Die deursnee-staker in Suid-Afrika besef dié feit heel moontlik nie. Werkers sien eenvoudig dat hul maandelikse salaristjek vetter geword het en voel dus “ryker” van dag een af.

Die SNI se berekening maak dit egter duidelik dat die besluit om te staak, of om nie te staak nie, ingewikkelder is en dat dit etlike maande en selfs jare duur voordat die groter salaristjek werklik ’n verskil maak.

Waar ’n staking oorweeg word, behoort vakbonde en hul lede te beraadslaag om te bepaal hoe lank lede bereid is om te werk om op te maak vir die verlies van inkomste weens die staking. Daarvolgens behoort besluit te word of dit die moeite werd is om te staak of nie.

Vir vakbonde soos die NUM, Numsa en Amcu is stakings egter soms ’n taktiese manier om ’n werkgewer te wys dat ’n vakbond nie net blaf nie, maar ook kan byt. Selfs in so ’n geval behoort steeds kennis geneem te word van die uitwerking wat die staking op lede se inkomste het voordat besluit word om tande te wys.

Daarom is Amcu se Sibanye-Stillwater-staking onlogies. Sibanye het egter ook aan ander werkgewers gewys om nie ’n hond te paai wat altyd wil byt nie.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Gideon Du Plessis  |  Mynbou  |  Stakings  |  Solidariteit  |  Vakbonde  |  Amcu  |  Num  |  Numsa  |  Loononderhandelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.