Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gideon du Plessis: Tito-plan baat vakbonde óók

Die suksesvolle toepassing van Tito Mboweni, minister van finansies, se regrukplan sal bydra tot werkskepping en ’n kans vir vakbonde skep om hul ledebasis uit te brei.

Gideon du Plessis

Ongelukkig het vakbonde met ’n Marxistiese onderbou, soos die vakbondverbonde Cosatu en Saftu en die metaalwerkersvakbond Numsa, negatief gereageer op Mboweni se plan.

’n Mens sou dink dat hulle, wat met dalende ledetalle en gepaardgaande finansiële uitdagings sit, sou besef dat hul groei slegs deur ekonomiese groei moontlik is.

Afgesien van hul algemene teenkanting teen die plan, is Cosatu se gevoel ook dat dit eers in die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) bespreek moes word. Die feit dat Mboweni nie met Nedlac daaroor gekonsulteer het nie, moet egter vir Cosatu en al die ander Nedlac-vennote ’n boodskap wees van hoe irrelevant die instelling geword het.

Wat teenkanting teen die plan se inhoud betref, is Cosatu en Saftu se weerstand ’n teken van hul ideologiese blindheid, soos dat hulle byvoorbeeld vasskop teen die voorstel dat klein en mediumondernemings van die minimum loon vrygestel word en dat kollektiewe loonooreenkomste wat met groot ondernemings gesluit word, nie eensydig na klein en mediumondernemings uitgebrei moet word nie.

Die voorstel dat klein ondernemings van die minimum loon vrygestel word en die aanmoediging van indiensname van ongeskooldes en die jeug, sal indiensneming verhoog (wat meer potensiële lede vir vakbonde skep) en die revolusie van die armes, wat fel toeneem, ontlont. Realisme sal eers intree wanneer die Marxistiese vakbonde ervaar dat wanneer werkloses die geleentheid het om vir ’n kleiner loon te werk, hulle die geleentheid sal aangryp.

Wat die regrukplan vir Eskom betref, dreig Numsa met ’n uitgebreide reeks massabetogings.

Die gevaar is dat terwyl ons op die vierde nywerheidsrevolusie (4IR) moet fokus, kritici in vakbondgeledere duidelik nie besef dat indien Eskom nie baie vinnig gered word nie, die tweede ekonomiese revolusie – om massaproduksie deur elektriese krag te bewerkstellig – in Suid-Afrika tot ’n einde gaan kom.

Wat betref breër energiebeplanning, stel Mboweni se plan verder die gebruik van onafhanklike kragopwekking voor en dat die geïntegreerde hulpbronplan geen beperkings moet plaas op beleidsopsies om die laagste kragtariewe te verseker nie.

Realisme sal eers intree wanneer die Marxistiese vakbonde ervaar dat wanneer werkloses die geleentheid het om vir ’n kleiner loon te werk, hulle die geleentheid sal aangryp.

Weer eens kry dit vakbondweerstand, maar wat misgekyk word, is dat veral myn- en fabriekswerkers tans die prys betaal vir hoë kragtariewe in die vorm van kleiner verhogings of afleggings.

In die plan word ook daarop gewys dat 9,8 miljoen werkgeleenthede in die hernubare-energiesektor al wêreldwyd geskep is – waarom daarteen skop in Suid-Afrika?

Terwyl die Marxistiese vakbonde gekant is teen 4IR-inisiatiewe, is tegnologie-gesofistikeerde uitvoer deel van die plan, om só mededingendheid te verhoog deur van ’n laeproduktiwiteit-ekonomie na ’n hoë­produktiwiteit-ekonomie oor te skakel. Dit beteken dat werknemers wat hul vaardighede verbeter, beter salarisse kan verdien.

Dan bied die plan geleenthede vir vakbonde en werkgewers om ’n wen-wen-situasie by die onderhandelingstafel te bewerkstellig.

Ter agtergrond: In die plan word groei in die arbeidsintensiewe sektore aangemoedig, maar daar is kommer oor loonverhogings wat nie aan groter produksie gekoppel word nie.

Vir ’n wen-wen-situasie kan ’n werkgewer ’n lae loonaanbod regverdig deur dit te koppel aan werkgeleenthede wat geskep gaan word en waarby vakbonde ook kan baat vind as meer werkers gewerf kan word.

Andersins kan ’n werkgewer wat ’n loonaanbod van meer as inflasie toestaan, dit aan groter produksie koppel.

Groter vaardighede vir werknemers dien as ’n veiligheidsnet teen afleggings, maar in die plan word ook daarop gewys dat vergoedingspakkette danksy vaardigheidsontwikkeling verdubbel kan word. Die meeste vakbonde se ledegeld beloop 1% van ’n werknemer se salaris en ’n groter salaris van ’n lid beteken daarom ook ’n verhoging in vakbondinkomste.

Die Mboweni-plan is oorwegend goed, maar daar is ongelukkig ideologies gedrewe teenkanting daarteen. Ironies genoeg gaan dit op die einde kwynende Marxistiese vakbonde red. Hulle weet dit net nog nie.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Solidariteit  |  Gideon Du Plessis  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Vakbonde  |  Werkloosheid  |  Tesourie  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.