Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Godongwana het geraamtes oor pensioene

Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se nasionale uitvoerende komitee se subkomitee oor ekonomiese transformasie, het ’n agtergrond in die ekonomie, maar sy verlede is alsbehalwe vlekkeloos.

Enoch Godongwana, hoof van die ANC se komitee oor ekonomiese transformasie. Foto: Argief

Pres. Cyril Ramaphosa het Godongwana Donderdagaand as nuwe minister van finansies in die plek van Tito Mboweni aangestel. Mboweni pleit al lank dat hy wil uittree.

Godongwana was voorheen adjunkminister van openbare ondernemings, asook van ekonomiese ontwikkeling.

Hy is tans nie-uitvoerende voorsitter van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika; hy sal waarskynlik nou uit dié posisie moet bedank.

Hy is ook onder meer ’n nie-uitvoerende direkteur van die papier-en-verpakkingsgroep Mondi, waar hy waarskynlik ook sal moet bedank.

Godongwana het ’n meestersgraad in finansiële ekonomie wat hy in 1998 aan die Universiteit van Londen behaal het.

Godongwana se aanstelling sal waarskynlik verwelkom word deur vakbondgroeperings soos Cosatu aangesien hy as die ANC se hoof oor ekonomiese beleid al die “regte geluide” maak oor byvoorbeeld die gebruik van voorgeskrewe bates om transformasie te bevorder en die nasionalisering van die Reserwebank.

Hy het juis sy loopbaan as vakbondman begin, want hy was in ’n paar posisies by die mynwerkersvakbond Numsa, onder meer as hoofsekretaris.

Godongwana was vroeër in omstredenheid gehul toe hy ’n direkteur was van Canyon Springs, ’n beleggingsgroep wat R120 miljoen van klerewerkers se pensioengeld laat wegraak het. Godongwana en sy vrou het via ’n familietrust ’n 50%-belang in Canyon Springs gehad.

Voor ’n kommissie van ondersoek na die skandaal het Gondongwana toegegee dat hy nie sy fidusiêre pligte as direkteur van Canyon Springs behoorlik uitgevoer het nie.

Hy het ook erken dat verskeie strukture onbehoorlik gemanipuleer is om finansiering vir Canyon Springs te verkry, het die Mail & Guardian destyds berig.

Godongwana het in 2009 as direkteur van Canyon Springs bedank toe hy as adjunkminister van openbare ondernemings aangestel is. Hy het tot 2010 in dié pos gedien voordat hy verskuif het na die pos van adjunkminister van ekonomiese ontwikkeling.

Nadat Canyon Springs ineengestort en die skandaal oor die verlore pensioengeld aan die lig gekom het, het Gondongwana ook in Januarie 2012 uit sy pos as adjunkminister van ekonomiese ontwikkeling bedank. Gondongwana het toe ook as parlementslid bedank voordat die parlement se etiekkomitee ’n ondersoek na wangedrag kon uitvoer omdat hy na bewering nie sy sake- en finansiële belange behoorlik geopenbaar het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.