Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Goeie én slegte nuus oor werkloosheid

Byna-byna 100% waar ons voor die pandemie was.

Nuwe navorsing wys indiensneming in Suid-Afrika was in Maart 2021 ’n verstommende 99,8% van wat dit in Februarie 2020 was, dus voordat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings poste laat bloei het.

Die studie bereken 54% van mense van 18 tot 64 jaar het in Maart werk gehad, teenoor 55% in Februarie 2020. Die studie deur Reza Daniels, Kim Ingle en Tim Brophy van die Universiteit van Kaapstad (UK) is deel van die vyfde reeks Nids-Cram-navorsing (sien kassie hieronder).

k

Die navorsing verskil van Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die eerste kwartaal, waarvolgens indiensneming 90% is van wat dit in die eerste kwartaal van 2020 was. Dit het onder meer daarmee te doen dat verskillende vrae aan mense gevra is. Die inligting word as aanvullend, eerder as teenstrydig beskou, met Nids-Cram wat ’n beter aanduiding gee van die impak van die verskillende vlakke van inperking.

Die veerkragtigheid van die arbeidsmark wanneer inperkings verlig word, maak die navorsers bekommerd oor algehele of landwye inperkings, soos die vlak 4 wat nou in die drank- en restaurantbedryf heers.

“Die arbeidsmark in Suid-Afrika is uiters sensitief vir inperkingsregulasies en fluktueer drasties wanneer ’n verbod of beperking op handelsure en ’n aandklokreël ingestel word, terwyl dit vinnig herstel wanneer die regulasies verslap word,” lui die studie.

“Inperkings kan ’n enorme negatiewe ekonomiese impak hê en waar moontlik moet probeer word om geografies te onderskei om hul nasionale impak te verminder, terwyl die potensiaal vir plaaslike ekonomiese herstel bevorder word.”

Hul studie oor werkloosheid is gedoen voordat die land eers in vlak 3 en toe vlak 4 van die inperking geplaas is nadat die derde vlaag Covid-19-infeksies begin het. Werkloosheid en tydelike afleggings is dus nou waarskynlik hoër.

Dié navorsers toon dat 54% van mense van 18 tot 64 jaar oud in Maart werk gehad het, teenoor 55% in Februarie 2020. Dis teenoor 43% in Junie 2020 en 48% in Januarie 2021, albei tye toe die land onder strenger inperkings gebuk gegaan het.

Daar was in Maart steeds 3% van werknemers wat tydelik afgelê is.

k

Vroue sukkel om werk te kry

Die herstel in indiensneming teen Maart was egter uiters oneweredig. Nagenoeg dieselfde aantal mans het nou werk, maar 8% minder vroue het nou werk, volgens ’n studie deur Daniela Casale van die Universiteit van die Witwatersrand en Debra Shepherd van die Universiteit Stellenbosch.

k

Vroue werk 6% of gemiddeld twee uur per week minder (33 uur) as in Februarie 2020 (35 uur), terwyl mans 4% oftewel ’n uur per week méér werk (40 uur teenoor 39 uur). Dis slegte nuus vir die meeste Suid-Afrikaners, wat per uur betaal word.

k

Jong mense (18 tot 24 jaar) het die grootste styging in indiensneming beleef, van 33% in Februarie 2020 tot 35% in Maart 2021. Ouer volwassenes (55 tot 64 jaar) het die grootste daling beleef, van 45% tot 41%, volgens ’n studie deur Gabriel Espi, Murray Leibbrandt en Vimal Ranchhod, almal van die UK.

Tussen April 2020, die strengste vlak van inperkings in Suid-Afrika, en Maart 2021 het die persentasie ontmoedigde werksoekers oor alle ouderdomsgroepe gedaal.

Omset van werknemers

Hoewel die syfers belowend lyk, is dit nie noodwendig dieselfde mense wat nou werk het nie.

’n Totaal van 23% van die mense wat in Februarie 2020 werk gehad het, is nou werkloos en 30% wat in Februarie 2020 werkloos was, het nou werk.

Covid-19-Ters

Die gemiddelde uitbetaling vir die Werkloosheidsfonds se Covid-19-Ters, die tydelike skema vir mense wat weens die inperkings afgelê is, was R4 100 per maand, volgens ’n studie deur Timothy Köhler en Robert Hill van die UK.

Dit lyk asof dié voordeel inderdaad in sy doel geslaag het om permanente afleggings te verminder, bevind hulle.

Hul studie wys ook hoewel meer vroue hul werk verloor het, het minder vroue voordeel uit Covid-19-Ters getrek.

Oor Nids-Cram

Die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram) is ’n reeks studies wat deur meer as 30 navorsers aan ses universiteite gedoen is om die maatskaplike en ekonomiese uitwerking van die Covid-19-krisis op Suid-Afrika regstreeks te meet.

Die resultate van die eerste reeks studies is in Junie 2020 gepubliseer. Die vyfde reeks studies is pas gepubliseer en dit word as die laaste reeks beskou.

Meer as 5 000 Suid-Afrikaners oor alle inkomste-, ras- en taalgroepe heen is in die studies ondervra. Vir die vyfde reeks is mense van 6 April tot 11 Mei vanjaar ondervra. Hulle is oor hul ervaring in Maart 2021 ondervra. Dit was dus voordat die derde vlaag Covid-19-infeksies begin het.


Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Ongelykheid  |  Covid-19-Ters  |  Inperking  |  Armoede  |  Indiensneming  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.