Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Goeie inflasie ‘stel rentekoers-pyn uit’
Lesetja Kganyago, hoof van die Reserwebank.

Augustus se inflasiesyfers beteken bes moontlik dat die Reserwebank vir eers nie die rentekoers gaan verhoog nie, maar mense met skuld moet hulle dalk begin voorberei op ’n styging in November.

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, verwag dat die Reserwebank die rentekoers op 22 November met 0,25 van ’n persentasiepunt gaan verhoog “om pas te hou met die Federale Reserweraad se stygtrajek”.

Die Fed besluit op 26 September oor Amerika se rentekoers en die verwagting is alom dat hy dit gaan verhoog. Dit sal die rand na alle waarskynlikheid weer laat verswak nadat dit Woensdag tot R14,80 per dollar versterk het.

Die Fed-besluit kom egter ’n week ná die Reserwebank se besluit oor die rentekoers Donderdag in Pretoria.

Statistieke Suid-Afrika het vroeër aangekondig die inflasiekoers vir Augustus het tot 4,9% verlangsaam, vergeleke met 5,1% in Julie. Julie was die eerste keer in tien maande dat inflasie tot bo 5% gestyg het, grootliks weens duurder petrol en die deursyfering van die styging in belasting op toegevoegde waarde (BTW).

Lees ook: Inflasie sak terug tot onder 5%

Muscat sê hoewel hy verwag dat inflasie die res van die jaar en ook in 2019 binne die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% sal bly, gaan inflasie beslis weer styg. Die grootste petrolprysstyging in meer as drie en ’n half jaar lê in Oktober voor, met die onderverhaling teen Woensdagoggend op R1,07.

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes sê in hul ontleding ook die inflasiekoers gaan nou begin styg. Vir hulle is die grootste risiko vir die inflasiekoers die verswakking van die rand.

“Dit sal vererger word deur die residuele uitwerking van die BTW-verhoging, hoër brandstofpryse en die verwagte styging in kosprysinflasie.”

Hulle verwag ook nie dat inflasie op mediumtermyn bo 6% sal styg nie. “Dít en die steeds swak ekonomie sal die Reserwebank waarskynlik oorreed om rentekoersverhogings so lank as moontlik uit te stel.”

Nedbank is optimisties dat die rentekoers Donderdag onveranderd sal bly en ook nie in November verhoog sal word nie. Hulle verwag die eerste styging “redelik laat in 2019”.

Johann Els, hoof van ekonomiese navorsing by Old Mutual, sê met die uitsondering van die petrolprys is daar geen skerp prysstygings op die oomblik nie.

Hy sê  die Reserwebank sal rentekoerse vir die afsienbare toekoms onveranderd kan hou, mits die rand stabiliseer “en daar geen ernstige sekondêre prysdruk ontstaan weens die swakker geldeenheid en hoër brandstofpryse nie”.

Uit die 17 ekonome wat dié week aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, glo drie dat die rentekoers Donderdag verhoog gaan word, 13 verwag geen verandering nie en een, dr. Roelof Botha, reken die Reserwebank moes lankal die koers verlaag het.

Annabel Bishop van Investec wys daarop dat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, in Julie gesê het hy sal nie skroom om rentekoerse te verhoog sou dit blyk dat sy vooruitsig vir die inflasiekoers verander het nie. Die vooruitsig sien nou aansienlik anders daar uit, ondanks Augustus se positiewe syfers.

Die Reserwebank kyk tot twee jaar vooruit na faktore wat inflasie kan opdruk.

Meer oor:  Investec  |  Fnb  |  Jason Muscat  |  Annabel Bishop  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Inflasiekoers  |  Ekonomie  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.