Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Goeie nuus: Baie SA firmas stel mense aan

Te midde van groot werkonsekerheid in die land stel Suid-Afrikaanse maatskappye tóg op die oomblik mense aan.

Maatskappye het nou 74 000 meer mense mense in hul diens as ’n jaar gelede. Illustrasie: iStock

Suid-Afrikaanse maatskappye het in die eerste kwartaal van die jaar 56 000 méér mense in hul diens gehad as einde 2017 en ook 74 000 meer as in die eerste kwartaal van 2017, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas in sy kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) bekend gemaak.

Dit is die tweede kwartaal in ’n ry dat aanstellings meer is as afdankings.

Daar is nou altesame 9,838 miljoen mense wat by geregistreerde ondernemings in die land werk, ’n styging van 0,8% vergeleke met ’n jaar gelede.

Vier van die agt sektore wat SSA meet, het mense aangestel, drie het afgedank en een (die nutsbedryf) het geen verandering in werknemers gesien nie.

Die sektore wat in kwartaal die meeste mense aangestel het, was die staatsdiens (67 000 nuwe poste), konstruksie (12 000), vervaardiging (9 000) en sake- en finansiële dienste (4 000).

Die handelsektor het egter in die kwartaal 26 000 minder werknemers gehad as einde Desember, maar dit weerspieël straks bloot die einde van tydelike aanstellings wat altyd in die laaste kwartaal van die jaar styg. Mynbou het ook 7 000 poste verloor.

Ondanks die goeie nuus dat maatskappye mense aanstel, is die aanstellings nie naastenby genoeg om ’n duik te maak in die werkloosheidskoers nie. Die arbeidsmag groei baie vinniger as die aantal poste.

Daarby is ontleders bekommerd dat die werkgroei van korte duur gaan wees.

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, beskou dit as “welkome nuus, en ietwat verrassend in die konteks van die inkrimping van 2,2% in die bruto binnelandse produk” in dieselfde kwartaal.

“Die daling in sakevertroue in die tweede kwartaal voorspel dat daar heelwat werkverliese in die tweede kwartaal gaan kom.”

Muscat is veral bekommerd oor die 9 000 poste wat vervaardiging in die eerste kwartaal bygekry het en die 12 000 poste wat konstruksie gewen het. “Gegewe presies hoe power dié sektore vaar, is ons skepties of die indiensneming volgehou kan word.”

Volgens SSA se kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS), wat vroeër in Junie uitgereik is, is werkloosheid in die eerste kwartaal 27,7%, die hoogste in 13 jaar, en uitgebreide werkloosheid is 36,4%. Uitgebreide werkloosheid tel almal van werkende ouderdom wat nie werk, studeer of om ’n ander vrywillige rede nie werk nie.

Die QES meet indiensneming by alle BTW-geregistreerde ondernemings en regeringsdepartemente. Dit sluit nié indiensneming in private huishoudings, die landbou of informele sektor in nie.

Die syfers verskil van die kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) omdat dit ’n peiling onder ondernemings is en nie ’n peiling onder individue oor wat hulle doen nie.

Watter sektore stel aan, dank af?

Uit die agt subsektore wat SSA meet, het vier in die vierde kwartaal mense aangestel, drie het poste verloor en een sektor (krag) het onveranderd gebly. Poste kan verlore gaan weens afdankings, vakatures wat nie gevul word nie of as mense aftree.

Van jaar tot jaar het vier sektore poste verloor, drie sektore het poste gewen en een sektor (ook krag) het onveranderd gebly.

Só lyk die stand by verskillende sektore:

  • Gemeenskapsdienste, wat grootliks die staatsdiens verteenwoordig, het 67 000 meer werknemers as einde 2017, ’n styging van 2,6%. Dis altesame 78 000 meer mense as ’n jaar gelede (3%). Dié styging is kommerwekkend gegewe die kommer oor die staat se loonrekening en die verwagting dat die staatsdiens vir die eerste keer nóg vrywillige skeidingspakkette wil oorweeg.

  • Mynbou het 7 000 minder mense in diens as die vorige kwartaal (-1,5%), maar het altesame 14 000 minder mense in diens as ’n jaar gelede (-3%).

  • Vervaardiging het in die kwartaal 9 000 mense aangestel (0,8%), maar het steeds 4 000 minder mense in diens as ’n jaar gelede (-0,3%).

  • Konstruksie het in die kwartaal 12 000 mense aangestel (2%), maar het steeds 21 000 minder mense in diens as ’n jaar gelede (-3,3%).

  • Handel het in die eerste kwartaal 26 000 poste, ’n daling van 1,2%, verloor. Die sektor het egter steeds 24 000 (1,1%) meer mense in diens as ’n jaar gelede. Die sektor stel gewoonlik heelwat tydelike personeel in die laaste kwartaal van die jaar aan.

  • Sakedienste, wat die eiendom- en finansiële sektor verteenwoordig, het in die eerste kwartaal 4 000 poste geskep (0,2%) en het 16 000 (0,7%) méér mense in diens as ’n jaar gelede. Die situasie kan in die tweede of derde kwartaal verander in die lig van die nuus dat Absa van plan is om mense af te dank.

  • Die vervoersektor het 3 000 minder mense in diens as ’n kwartaal gelede (-0,6%) en altesame 5 000 minder mense as ’n jaar gelede (-1,1%).

  • Die kragbedryf se aantal poste het onveranderd gebly, die tweede kwartaal waarin daar geen verandering is nie. Dis egter die eerste keer dat daar ook van jaar tot jaar geen verandering in dié sektor is nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.