Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid: Resessie se nasleep steeds gevoel

Werkloosheid het in die vierde kwartaal van 2018 tot 27,1% gedaal, vergeleke met 27,5% in die derde kwartaal.

werk
Werkloosheid het in die vierde kwartaal van 2018 tot 27,1% gedaal. As ontmoedigde werksoekers bygetel word, is werkloosheid 36,3%. Foto: Pixabay

Met ontmoedigde werksoekers ingereken, is werkloosheid 38,8%, 0,7 van ’n persentasiepunt meer as die vorige kwartaal.

Suid-Afrika het nou 16,5 miljoen mense met werk en 6,1 miljoen mense wat werk soek, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA).

Hoewel die daling in werkloosheid goeie nuus is ná ’n jaar waarin Suid-Afrika ’n resessie beleef het, is dit steeds hoër as in die vierde kwartaal van 2017, toe dit 26,7% was. Die uitwerking van die resessie is dus nog nie uitgewis nie.

Dit is egter ook deels omdat die aantal mense wat tot die arbeidsmag toegetree het, met 608 000 gestyg het.

Werkloosheid het in die eerste kwartaal van 2018 die hoogste vlak in meer as 13 jaar – 27,7% - gehaal.

Werk is in die vierde kwartaal in drie uit die vier sektore van die ekonomie geskep. Die formele sektor het 92 000 poste geskep, gevolg deur private huishoudings (65 000) en landbou (7 000). Die informele sektor het 15 000 minder mense in diens gehad.

  • Wat betref die tien bedrywe wat SSA meet, het finansies die meeste werk geskep – 109 000 poste net in die vierde kwartaal en 238 000 poste oor die loop van 2018. Dis ’n toename van 10% vir die jaar.
  • Die dienstebedryf, wat die staatsdiens insluit, het die meeste werknemers verloor: 51 000 in die vierde kwartaal en 67 000 in die hele 2018. Laasgenoemde is ’n daling van 3,6%.
  • Persentasiegewys het die bedryf vir nutsdienste – krag, water en gas – die grootste verlies aan werknemers beleef. 14,2% minder as in die derde kwartaal en 10,5% minder mense as ’n jaar gelede werk in dié bedryf.
  • Hoewel landbou in die vierde kwartaal 7 000 mense aangestel het – ’n styging van 0,9% vir die kwartaal – was daar geen styging vergeleke met die Desember-kwartaal van 2017 nie.
  • ’n Verrassende wending is dat mynbou in die kwartaal 31 000 poste gewen het, en 27 000 vir die hele 2018.
  • Vervaardiging het in die vierde kwartaal 48 000 poste geskep, maar vir die hele 2018 het die bedryf 24 000 poste verloor.
  • Konstruksie het in die vierde kwartaal 21 000 minder mense in diens geneem, maar het wel 91 000 meer mense in diens gehad as ’n jaar gelede.
  • Handel het 14 000 poste in die Kersfees-kwartaal geskep en 79 000 meer as Kersfees 2017.
  • Dit gaan droewig met vervoer en logistiek, waar 20 000 minder mense in die vierde kwartaal gewerk het en 36 000 minder as ’n jaar gelede.
  • Private huishoudings het 65 000 meer mense van werk voorsien as in die derde kwartaal en 62 000 meer as ’n jaar gelede.

Die kwartaallikse arbeidsmagspeiling (QLFS), waaruit dié syfers kom, is ’n opname onder individue. Dit verskil dikwels van die peiling wat gedoen word onder ondernemings in die formele sektor, die indiensnemingspeiling (QES), aangesien mense dikwels meer as een werk hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.