Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Goeie nuus oor werkskepping verras

Die formele sektor van die ekonomie het in die eerste kwartaal 22 000 meer mense in sy diens gehad as teen einde 2018.

Maatskappye het in die eerste kwartaal weer mense aangestel. Illustrasie: iStock

Dit beteken 10 174 000 mense werk nou by Suid-Afrikaanse firmas, ’n styging van 0,2% op ’n kwartaalgrondslag.

Die styging is onverwagse goeie nuus, aangesien tientalle aankondigings oor afleggings sedert die begin van die jaar – onder meer by banke, myne, in die konstruksiebedryf en selfs by motorvervaardigers – gedoen is.

Die grootste hoeveelheid poste – 19 000 – is in die staatsdiens geskep. Dit verteenwoordig egter waarskynlik die aanstelling van tydelike werkers vir die verkiesing in Mei vanjaar. 

Op ’n jaargrondslag het die staatsdiens wel 40 000 minder werknemers gehad.

Die syfers is volgens die kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES), wat Statistieke Suid-Afrika pas uitgereik het.

Op ’n jaargrondslag het die formele sektor 76 000 poste geskep, ’n styging van 0,8%.

Vervaardiging, een van die belangrikste produktiewe sektore van die ekonomie, het in die kwartaal 5 000 poste geskep en sakedienste ook 5 000.

Die handel het 8 000 minder mense in sy diens gehad. In die konteks dat die bedryf in die vierde kwartaal 49 000 mense aangestel het, is die daling van 8 000 egter uiters positief. Dit beteken nie almal wat in Desember aangestel is, is net vir die besige Kers-kwartaal aangestel nie. 20 000 tydelike werknemers in die sektor het wel hul werk in die kwartaal verloor.

Konstruksie het in die kwartaal nóg 1 000 poste gebloei. Hoewel dit min klink, kom dit nadat die bedryf in die vorige kwartaal 18 000 minder werknemers gehad het. Konstruksie het op ’n jaargrondslag 23 000 poste verloor.

Die QES sluit nie poste in die informele sektor, die landbou en by private huishoudings in nie.

Die QES meet slegs indiensneming in die formele sektor by maatskappye wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is en ’n omset van meer as R300 000 per jaar het. Dit verskil van die kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS), waaruit die land se amptelike werkloosheidskoers saamgestel word en waarin individue gevra word of hulle werk en waar.

Die werkloosheidskoers was in dieselfde kwartaal op ’n hoogtepunt van 27,6%. Hoewel werk geskep is, kon dit nie genoeg werk skep vir Suid-Afrika se jong mense wat die arbeidsmark betree het nie. Uitgebreide werkloosheid is op ’n algehele rekord van 38%.

werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.