Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Goeie paaie: Pad na ekonomiese herstel

Volgens nuusberigte is die Suid-Afrikaanse paaie van die gevaarlikste ter wêreld.

Verskeie redes word daarvoor aangevoer, naamlik dat:

  • Die padgedrag van bestuurders veel wense oorlaat; baie steur hulle geensins aan die padreëls nie;
  • Paaie nie onderhou word nie en verskeie in ’n baie swak toestand is en soms lewensverlies tot gevolg het; en
  • Steeds te veel bestuurders nie skroom om te drink en te bestuur nie.

Daarby blyk dit dat menige bestuurder meen dat boetes vir spoed en ander minder ernstige oortredings slegs uitgereik word om munisipale en persoonlike begrotings te laat klop en nie juis op beter padgedrag gemik is nie.

Korrupsie

Op ’n Sondagmiddag in Desember 2019 word ek noord van Pretoria in ’n padblokkade voorgekeer. In sy haas om by my uit te kom, vergeet die polisielid amper om na die lisensieskyfie te kyk.

pad
Dis uiters belangrik vir ekonomiese ontwikkeling dat paaie en strate verbeter en behoorlik in stand gehou word – veral in plattelandse gebiede waar landbou, mynbou en toerisme ’n baie belangrike rol kan speel om ekonomiese vooruitgang en werkskepping te bevorder. Foto: Unsplash

Dié is wel in orde, maar dan kom die vraag: “Wat sal jy doen as jy in die pypie moet blaas?”

Die vraag word meermale herhaal, waarop my antwoord dieselfde bly, naamlik dat hy die pypie maar enige tyd kan bring!

Op my vraag hoekom hy terselfdertyd in my bagasie rondvroetel, is die antwoord dat hy “maar net kyk”.

Weer eens wil hy weet wat ek sal doen wanneer ek in die pypie moet blaas? Die antwoord bly dieselfde – ek sal blaas!

’n Paar jaar gelede was daar noord van Christiana ’n spoedbeperking van 80 km/h. Ek aanvaar dat dit slegs ’n waarskuwing is dat ek versigtig moet wees – totdat ’n verkeerskonstabel wys ek moet stilhou. Hy verduidelik dat ek 120 km/h in ’n 80-sone gery het en geen ander keuse het as om in die hof te verskyn nie, en dan ’n misdaadgeskiedenis sal hê.

Ek verduidelik dat ek regtig nie besef het dat ek só vinnig gery het nie en dat ek nou maar die gevolge sal moet dra. Ná die soveelste verduideliking van die penarie waarin ek my nou bevind en my reaksie dat ek niks daaromtrent kan doen nie, want ek het oortree, kry ek toestemming om maar te ry.

Wou die twee beamptes ’n geldjie in die hand gestop word? Wat sal word van wetstoepassing en veiligheid op paaie as mense gewillig is om dit te doen in ’n poging om uit die moeilikheid te bly?

‘Tale of two towns’

In Oktober 2020 is ons deur die Suid-Vrystaat op pad na die Vanderkloofdam. Suid van Lückhoff sukkel ons egter om al vier die bande heel te hou op die pad wat, volgens my, gevoel het asof dit meer uit slaggate as teer bestaan het.

Die Vanderkloofdam sowel as die kanaal met die stil vloeiende water is indrukwekkend en het ’n positiewe, lewegewende effek op die gemeenskappe wat daaruit voordeel trek.

Suid van die Oranjerivier ry ons deur dorpies wat die indruk laat dat dit amper net die Sassa-kantore is wat in ’n goeie toestand is.

Ulrich Joubert

Die sigbare armoede en die baie vervalle geboue maak jou benoud. Leef dié mense – en die mense in baie ander dorpe en stede – net van hul maandelikse welsynstoelaes? Is daar enige moontlikheid van ekonomiese ontwikkeling en werkskepping?

Die stroom groot vragmotors wat die roete suidwaarts volg om blykbaar mangaanerts na die Oos-Kaapse hawens te vervoer, bring min, indien enige, ontwikkeling na dié dorpe.

Wanneer ons die volgende dag deur Richmond in die Noord-Kaap ry, is dit ’n aangename verrassing dat die geboue oënskynlik meestal goed onderhou word.

Is dit die Boekefees wat elke jaar daar gehou word wat ’n ekonomiese inspuiting lewer en ’n mate van welvaart skep?

Hoekom verval sommige dorpe, terwyl ander vooruitboer? Wat of wie skep die resep vir vooruitgang of verval?

In Februarie 2021 besoek ons Rosendal in die Oos-Vrystaat. Ongelukkig is die sowat 50 km tussen Senekal en Rosendal feitlik onbegaanbaar. Daar word heen en weer oor die pad geswenk in ’n poging om die slaggate te vermy.

Ongelukkig tref die voertuig elke nou en dan wel ’n slaggat, maar ons is gelukkig om met ongeskonde bande op die skilderagtige bestemming aan te kom.

Volgens nuusberigte van die afgelope tyd is dié vervalle pad nie ’n uitsondering in die Vrystaat of ander provinsies nie.

Kan owerhede of gemeenskappe toelaat dat die infrastruktuur só verval dat die pad of strate na alle waarskynlikheid herbou moet word?

Ons betaal vir paaie

In sy Februarie-begrotingsrede sê Tito Mboweni, minister van finansies, dat padgebruikers – en sekerlik ook alle ander dienste wat gelewer word – daarvoor behoort te betaal. Die konteks is die omstrede Gautengse e-toltariewe, iets waaroor hy hom al voorheen uitgelaat het. Alle voertuigeienaars sal egter aan die minister sê dat hulle reeds deur die brandstofheffing wat op elke liter brandstof gehef word, asook die betaling van voertuiglisensies, betaal om die paaie te gebruik.

En op 7 April word heffings op brandstof boonop met 27c per liter verhoog. Padgebruikers se vraag is nou: Waarvoor word die brandstofheffing aangewend?

Reeds van die Grensoorlogdae af verdwyn die algemene brandstofheffing in die groot pot van staatsbesteding en word dit nie meer aangewend vir die doel waarvoor dit oorspronklik bedoel was nie.

Dis uiters belangrik vir ekonomiese ontwikkeling dat paaie en strate verbeter en behoorlik in stand gehou word – veral in plattelandse gebiede waar landbou, mynbou en toerisme ’n baie belangrike rol kan speel om ekonomiese vooruitgang en werkskepping te bevorder.

Intussen beskaam die hoop dat die vervoer van produkte, anders as die massavervoer van steenkool, yster-, mangaanerts of houtprodukte, van die pad na die spoor sal beweeg.

Hoe doeltreffend is tolhekke? Wat is die koste om tolhekke op te rig en hoe lank duur dit voordat dié kapitaaluitleg tesame met die daaglikse bedryfskoste verhaal is? Kan padgebruikers daaroor ingelig word?

Kan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) genoeg geld insamel deur net op die inkomste van tolhekke staat te maak? Beslis nie.

Munisipaliteite, provinsies en die sentrale regering moet uitgawes herprioritiseer sodat vir die ontwikkeling van infrastruktuur en nie net vir salarisse en bonusse voorsiening gemaak kan word nie.

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom van vorige wenner van die Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Munisipaliteite  |  Paaie  |  Sakesiening  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.